Dit lyk of die opveil van wyle Louis Coetzer se private versameling van 139 klassieke motors die afgelope naweek in Johannesburg die grootste veiling van sy soort nog in Suid-Afrika was.
Kevin Derrick, uitvoerende hoof van Creative Rides, sê die veiling het ongetwyfeld ’n nuwe markstandaard gestel oor hoe versamelmotors gekoop en verkoop moet word. “Dit is duidelik dat die ware waarde van versamelmotors slegs op ’n veiling vasgestel kan word,” sê Derrick.
’n 1958-Mercedes-Benz 300 Dora W189, die motor wat Coetzer veral na aan die hart gelê het en waarmee hy oor die jare heen talle toekennings verower het, is op Saterdag se veiling vir ’n allemintige R1 miljoen verkoop.
Coetzer se 1953-Mercedes-Benz 300 Adenauer W186, ’n model wat vroeër jare veral gewild onder staatshoofde was, asook die 1964-Mercedes-Benz Coupé 220SE het vir R900 000 elk verkoop.
Die 1967-Mercedes-Benz 230S Fintail-stasiewa, vermoedelik die enigste model in Suid-Afrika, het ’n bieër R775 000 uit die sak gejaag, terwyl ’n 1965-Pontiac Catalina-afslaankapmotor R710 000 gehaal het.
Coetzer se 1964-Ford Thunderbird het R800 000 op die veiling behaal.
“Die veiling het ons verwagtinge op elke vlak oortref; van die buitengewoon groot verbruikersbelangstelling tot die aantal geregistreerde bieërs tot die behaalde pryse, ” sê Derrick.
Shane Kirby, bestuurder by Creative Rides, sê dit was ongelooflik om te sien dat soveel versamelmotors nie net aan groot versamelaars verkoop is nie, maar ook aan Jan Alleman.
Baie van die motors is deur buitelanders gekoop en reëlings word nou getref om hulle landuit te stuur. Die internasionale belangstelling in Coetzer se versameling was verbysterend, sê Joff van Reenen, uitvoerende hoof van High Street Auctions.
Meer as 275 bieërs het Saterdag gedurende die veiling teen mekaar gebie – 140 van die 276 bieërs het hul bod aanlyn vanuit sewe van Suid-Afrika se provinsies en tot sover as Engeland, Duitsland, die Verenigde State, Frankryk, die Bahamas, Australië, Namibië en Zambië geplaas.
Die ses uur lange veiling is die naweek regstreeks uitgesaai met meer 10 500 individuele kykers van reg oor die wêreld. Die voorafpromosievideo van die veiling is boonop meer as 600 000 keer gekyk.
Coetzer en sy vrou, Hermien, is in Januarie vanjaar dood toe hul motor by ’n krans in die Naudésnekpas in die Oos-Kaap afgestort het.
Die R130 000 wat behaal is vir ’n 1973 Chevrolet Ranger-tweedeur-koepee sal aan ’n liefdadigheidsorganisasie van die Coetzer-familie se keuse geskenk word ter herinnering aan die Coetzer-egpaar.
Wat was die man se motor lisensiegelde jaarliks??? 139×500?
Waarom sou dit gelisensieerd wees? Dit was vertoon-motors.
Verkeerd.
Ek wonder waarvoor het die 1958-Mercedes-Benz 300 Dora W189 nuut verkoop. £100? £150?