LP’s bespreek SAUK-dokument puntsgewys

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

SABC-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

Lede van die parlement het Donderdag begin om elke klousule noukeurig deur te gaan van ʼn werksdokument wat opgestel is ná hul ondersoek oor sake by die SAUK.

Die dokument, wat net meer as 37 bladsye lank is, het Dinsdagaand uitgelek nadat dit aan LP’s versprei is. Die LP’s moes die dokument na hul onderskeie koukusse neem om hul partye se posisie na die komitee te bring.

Vincent Smith, voorsitter van die komitee, het Donderdag daarop gewys dat die dokument geen regstatus het nie, omdat LP’s dit nog nie bespreek het nie en wysigings nog gemaak moet word.

Aanbevelings in die dokument sluit in dat ʼn nuwe tussentydse raad onmiddellik ondersoek moet instel oor onreëlmatige en verkwistende uitgawes ten bedrae van R5,1 miljard by die SAUK die afgelope paar jaar.

Die gedrag van Faith Muthambi, minister van kommunikasie, word ook veroordeel. Volgens die dokument het “talle getuies” daarop gewys dat sy onnodig druk op van die voormalige raadslede geplaas het om die omstrede Hlaudi Motsoeneng aan te stel in die amp van hoof bedryfsbeampte, ondanks die feit dat hy nie die voldoende kwalifikasies gehad het nie en die Openbare Beskermer negatiewe bevindings oor hom gemaak het.

Volgens die dokument is dit ook nie duidelik watter wetgewing voorkeur geniet het wanneer raadslede aangestel of afgedank is nie. Muthambi het gereeld aangedui dat die Maatskappywet voorkeur geniet bo die Wet op die Openbare Uitsaaier, wat talle LP’s en die parlement se eie raadgewers bevraagteken het.

Die dokument beveel aan dat diegene wat skuldig bevind word aan meineed, sanksies moet ontvang, nadat getuies teenstrydige getuienis voor die komitee gelewer het.

Ben Ngubane, voormalige raadsvoorsitter, het verlede week enige politieke inmenging ontken. Sy opvolger, Ellen Tshabalala, het egter gesê daar was “growwe politieke inmenging” in die raad.

LP’s bespreek die dokument Donderdag en Vrydag en sal ʼn voorlopige verslag opstel teen 24 Januarie wat na alle belanghebbendes gestuur sal word, voor die verslag teen 15 Februarie gefinaliseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jan ·

As hulle so twee weke aan ‘n bladsy spandeer, behoort hulle so middel volgende jaar klaar te wees.

Derek ·

Hier gaan NIKS van kom nie, almal sal herontplooi word met groter salarisse!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.