LP’s eis antwoorde oor ‘nimmereindigende’ opknappingswerk by 1 Mil

1 Militêre Hospitaal

Die 1 Militêre-hospitaal in Pretoria. (Foto: Facebook/1 Military Hospital)

Parlementslede sê die departement van verdediging en militêre veterane se verontagsaming en onbereidwilligheid om verantwoording te doen vir die “nimmereindigende herstel- en instandhoudingsprogram” by 1 Militêre Hospitaal in Pretoria is onaanvaarbaar.

LP’s eis nou antwoorde by dié departement en sy eweknie by openbare werke en infrastruktuur oor hoe die projek vorder. Ná ʼn vergadering in September vanjaar het die gesamentlike staande komitee oor verdediging gevra dat albei departemente hom op die hoogte bring van die hospitaal se forensiese ouditverslag oor gevolgbestuur by die hospitaal.

Cyril Xaba, komiteevoorsitter, sê dit is kommerwekkend dat die departement nou al ʼn jaar lank met die verslag sit, maar dat dit weens die “sensitiewe aard” daarvan nog nie deur interne prosesse gevoer is nie.

Die komitee het die departement van openbare werke se bereidwilligheid om aanspreeklik gehou te word, wel verwelkom – asook sy inwerkingstelling van gevolgbestuur wat met die projek verband hou.

Volgens Xaba is die komitee se kommer gegrond op die departement van verdediging se onwilligheid om die bevindings van die forensiese oudit oor die herstelwerk met die komitee te deel. Boonop is die departement huiwerig om stappe te doen teen senior personeellede wat reeds geïdentifiseer is en glo onreëlmatig opgetree het.

Die komitee het die projek as ʼn ramp bestempel met die staat wat steeds miljoene rande aan private gesondheidsorg moet bestee weens vertragings met die afhandeling van die herstelwerk.

Nie net is daar groot kommer oor die koste van bouwerk wat aanhou ophoop nie, daar is ook kommer oor die koste om mediese dienste nou uit te kontrakteer. Dié koste beloop sedert die 2010‑’11- tot 2019‑’20-boekjaar sowat R1,086 miljard. Weens die uitkontrakteringswerk verloor die departement boonop deurlopend kundigheid by die hospitaal.

“Die projek sal ʼn groot fokuspunt vir die komitee bly en hy beoog om die verdedigingsdepartement in die afsienbare toekoms te laat verantwoording doen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

mattk ·

Hulle is bang die mense sien hoeveel miljoene het in die sakke beland en dat daar inderdaad geen werk gedoen is nie. Die kaders se hande is mos almal bak om te kan skep.

Nie Verbaas ·

“Sensitiewe aard”? Asseblief tog. By n hospitaal? Gaan kyk in sekeres en hulle maters se bank rekenininge dan sal hulle uitvind waaroor is dit sensitief.

annie ·

Verstaan tog… Die weermag moes laag lê weens covid. En nou is Omikron ook nog aan die broei binne en buite die landsgrense. Wanneer gaan werk aan die bomskuilings, loopgrawe en proviant begin? Moenie eers atoomkrag noem nie. ‘n Afvaardiging gaan glo volgens geheime inligting wat uitgelap is binnekort die Ukraïne besoek om uit te vind hoe en waar fondse gevind kan word, glo 200+ biljoen, om die werk af te skop. Die storie loop dat Biden die man is maar ons glo nie dis waar nie.

Leon ·

Een groot probleem is dat lede self verantwoordelik is ook. Sodra een deel herstel en oorhandig is, word dit eenvoudig weer vernietig deur die eerbare weermagslede!!

Johan ·

Hierdie herstelwerk of opgradering sloer baie lank. Ek kan nie verstaan dat daar nie eerder al n oudit gedoen is oor hierdie projek nie. Hoekom nou eers. R1miljard en hulle kry nie klaar nie. Dis so duidelik soos daglig, dat hier n stelery en korrupsie aan die gang is. Wie hanteer die tenders, en wie hanteer die finansies…sal graag wil sien wat die uitkoms gan wees na die oudit…
Tensy die ouditeur ok n vinger in die paai het om boeke te kook

Samuel ·

Is daarvan oortuig geld is verduister, daarom kom die werk nie klaar nie. Miskien het geld in die ministerie verlore geraak en ook in die sogenaamde generaals se sakke beland. Hulle belange is by hulself en nie die landsbelang nie.

Di ·

Hierdie eens een van die beste Hospitale het verval in ‘n vuil, ondoeltreffende hospitaal met GEEN dienlewering! Die klomp wat daar werk is onbevoeg, lui en rassities. Behandel die pasiente daar soos bedelaars. Glo my ek is al van 1979 ‘n pasient van hierdie hospitaal en om te sien hoe hierdie plek verval het is skokkend. Dan praat ons nie eers van die personeel wat daar werk nie, hopeloos verby! kan net sowel daai plek toemaak! Punt. Alle toerusting is vernietig en meeste van die toetse wat op pasiente moet gedoen word, word meestel uitgekontrakteur na ander instansies aangesien hulle nie meer oor die fasiliteite beskik nie.

Strandloper ·

Alles verander in bollie danksy die absolute malle denke en optrede van die anc

Anoniem ·

Stem saam. By 2 Mil in Wynberg beskik die dokters nie eers oor e-pos toegang nie, want hulle het kwansuis nie internet toegang nie. Jy kan dus nie ‘n dokument vir hulle e-pos nie, alles moet “hard copy” wees en per hand afgelewer word. Dan moet jy boonop bid dit raak nie weg nie. Om mediese magtiging vir privaat behandeling te bekom, is ‘n ander nagmerrie.

Shakespeare ·

Ek eis ook antwoorde van die ANC/ EFF kriminele wat ons land in ‘n slikmoeras verander het binne 27 jaar. ……..OK ek weet ek gaan geen reaksie kry nie.

Winnie ·

Die vraag is eintlik wie die tender goedgekeur het. Seker aan vriende en familie geskenk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.