LP’s eis Tshabalala se kop

Zandile (Ellen) Tshabalala, voorsitter van die SAUK Foto: SAUK

Zandile (Ellen) Tshabalala, voorsitter van die SAUK Foto: SAUK

Die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie het Woensdag eensydig besluit om te versoek dat Ellen Tshabalala, die SAUK se voorsitter, uit haar amp verwyder moet word.

ʼn Ondersoek deur die komitee of Tshabalala oor haar akademiese kwalifikasies gejok het, het haar skuldig bevind op twee aanklagte van wangedrag. “Ons beveel aan dat sy uit die SAUK se raad as voorsitter en raadslid verwyder moet word,” het Joyce Moloi-Moropa, voorsitter van die komitee, gesê.

Tshabalala het 14 werksdae om te reageer op ʼn verslag wat die komitee se bevindinge en aanbevelings bevat. Die verslag en Tshabalala se repliek sal aan die Nasionale Vergadering gestuur word vir goedkeuring. Die Huis sal eers die verslag kan aanvaar wanneer die parlement weer in Februarie hervat. Indien die vergadering die komitee se aanbevelings aanvaar, sal dit aan pres. Jacob Zuma gestuur word. Slegs Zuma, die aanstellingsowerheid, kan haar afdank.

Intussen sal LP’s die speaker versoek om Zuma skriftelik te vra om haar onmiddellik te skors.

Die komitee het sy beslissing gemaak nadat ʼn beampte van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) aan die ondersoekspan gesê het sy dokumente toon aan dat Tshabalala wel vir ʼn BComm-graad en ʼn diploma in arbeidsverhoudinge geregistreer het, maar dat sy onsuksesvol was om enige van die kwalifikasies te behaal. Jan van Wyk, uitvoerende direkteur van Unisa, het getuig dat Tshabalala in 1988 en 1996 vir haar BComm-graad geregistreer het, maar nie haar studies voltooi het nie. Volgens Unisa se dokumente het sy in 1995 vir ʼn diploma in arbeidsverhoudinge geregistreer. Tydens haar akademiese jaar het sy twee modules geslaag, twee gedruip en nie eksamen afgelê vir twee van die modules nie.

In Januarie 1996 kon sy aan ʼn hereksamen deelneem vir die twee modules wat sy nie die vorige jaar afgelê het nie.

Sy het 13% behaal vir die menslikehulpbronne-module en 35% vir arbeidsverhoudinge. Unisa het toe ʼn brief aan haar geskryf om aan te dui dat sy nie kwalifiseer om weer die kursus te doen nie. “Wat die brief sê is dat sy só swak gevaar het dat sy nie weer toelating sal kry nie,” het Van Wyk verduidelik.

Tshabalala is skuldig bevind op twee aanklagte van wangedrag. Die een klag hou verband met inligting op haar CV dat sy die twee kwalifikasies behaal het toe sy aansoek gedoen het vir haar pos as voorsitter van die SAUK. Die tweede klag hou verband met ʼn beëdigde verklaring wat sy afgelê het en by die parlement ingedien het om te sê dat haar kwalifikasies tydens ʼn diefstal uit haar huis gesteel is.

Sy was nie Woensdag by die ondersoek teenwoordig nie.

ʼn Pleit van onskuldig is namens haar aangeteken nadat dit komitee ʼn versoek deur haar prokureur om die ondersoek uit te stel, van die hand gewys het.

Michael Tillney, vir Tshabalala, het vroeër sy kliënt se verklaring aan die komitee voorgehou waarin sy “prosedurele onbillikheid” as ʼn rede vir haar afwesigheid aanvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

zahn ·

Lagwekkend. Waar het jy al gehoor van prosedurele onbillikheid as jy lieg? Hoekom sê hulle nie eerder “it’s racist” nie? Als is mos rassisties, self om net 13% te kry! Ek meen, sy het darem die papiere ingehandig?

scalla ·

Hoekom skors, jaag weg die korrupte amptenaar, hoekom wag vir zuma, al die bewyse is mos daar

AI ·

Ek voel om te lag en om te huil, want die vrou het rerig haar naam met ‘n plank geslaan. Ek sal graag wil weet wie betaal die regskostes want die storie is belaglik. Sy verloor haar “pampiere” wat sy nooit gehad het in ‘n diefstal by haar huis en sy lieg nog onder eed. Die vrou hang aan die sous trein met alle mag kan sy nie net laat gaan nie. Hoeveel van die soort kansvatters sit in poste wat hulle nie verdien nie. I love South Africa!!!!

Theresa ·

Dit wys jou nou maar net hoe is hulle “aanmekaar gesit”. Hoe kan jy daar sit met ‘n smile op jou bakkies en oop oë lieg en glo jy gaan wegkom. Maar soos gewoonlik sal sy “beskerm” word. Hulle kan mos niks verkeerd doen nie en alles is die apartheid se skuld.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.