LP’s hoor Gupta wou Molefe-hofsaak beïnvloed

Ajay en Atul Gupta. Foto: ANA

Suzanne Daniels, geskorste hoof van Eskom se regsdienste, het Woensdag aan die parlementêre komitee van ondersoek na die kragvoorsiener gesê dat Ajay Gupta aan haar gesê het hy sal druk op die adjunk-regterpresident se kantoor plaas om seker te maak dat ʼn hofsaak oor Brian Molefe se pensioenuitbetaling eers ná Desember 2017 gefinaliseer sal wees.

Daniels het gesê sy is deur Salim Essa, ʼn prominente sakevennoot van die Gupta-broers, op 29 Julie vanjaar gekontak. Hy het gevra dat sy hom by Melrose Arch in Johannesburg vir koffie ontmoet en het haar daarna na ʼn meenthuis in die omgewing geneem.

“Toe ons die woonkamer instap, is daar vier mense aan my voorgestel: Ajay Gupta, Duduzane Zuma, Ben Martins, die adjunkminister van openbare ondernemings, en ʼn Chinese dame wie se naam ek nie kan onthou nie, want ek was in hierdie stadium eintlik sprakeloos,” het sy aan LP’s gesê.

Daniels het gesê die gesprek het gedraai by die hofsaak waarin die R30 miljoen-pensioenuitbetaling van Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, betwis word. Gupta, wat kaalvoet was en ʼn grys sweetpakbroek aangehad het, het gevra “hoe ver is hulle”.

Sy het geantwoord dat daar nog nie ʼn hofdatum vasgestel is nie, want nog partye sal by die hofverrigtinge aansluit en daar moet eers gesprekke met die adjunk-regterpresident se kantoor wees. “Dit was baie moeilik om hom te verstaan, want hy praat met ʼn baie sterk Indiese aksent. Hy het gesê hy sal dan net met iemand in die adjunk-regterpresident se kantoor moet praat en seker maak die verhoor vind eers ná Desember 2017 plaas.”

Volgens Daniels het Gupta toe “iets gesê oor Nkosazana Dlamini-Zuma”, maar sy kon nie verstaan wat hy sê nie. “Ek kon nie glo waar ek is en wat ek hoor nie. Daar was ʼn bietjie gemompel en toe het ek gegaan.”

Sy het gesê sy het bedreig gevoel tydens die vergadering en was in skok toe sy huis toe gery het. “Dit het gevoel asof ek in ʼn fliek is. Ek het gebid dat hulle my nie doodmaak nie, want ek het gedink ek het in ʼn lokval ingestap.”

Daniels het ook aan die kommissie gesê dat sy herhaaldelik doodsdreigemente ontvang het en dat daar pogings was om by haar huis in te breek en haar op die pad te intimideer.

Daniels het in antwoord op LP’s se vrae gesê sy was onder die indruk dat Ajay Gupta die verhoordatums van die Molefe-saak wou beïnvloed met die oog op die ANC-konferensie “sodat dit meer gunstig sal wees as wat dit tans is”. Die ANC sal in Desember sy verkiesingskonferensie in Johannesburg hou waartydens nuwe leierskap verkies sal word.

Sy het gesê sy het gevolglik aan haar kollegas gesê om seker te maak dat hulle ʼn verhoordatum voor Desember kry.

Daniels het gesê dit was haar tweede ongemaklike vergadering met Essa. Die eerste was toe Matshela Koko, die geskorste waarnemende hoof van Eskom en destyds die groep se hoof van tegnologie, haar vir ʼn vergadering ontbied het.

Koko het haar na Essa se kantoor geneem en haar uitgevra oor die dissiplinêre proses by Eskom. “Hy het gevra wat moet gedoen word om mense te skors,” het sy gesê.

Sy het gesê sy was verras oor die soort vrae wat gevra is en het verduidelik dat dit ʼn redelike moeilike proses was en dat enigiemand wat aangekla is eers kans gegun moet word om op die bewerings teen hulle te reageer.

Essa het toe aan haar gesê dat Tshediso Matona, die uitvoerende hoof, Tsholofelo Molefe, die finansiële direkteur, Dan Marokane, die groepshoof vir groepskapitaal en Koko binne die volgende paar dae geskors sal word.

“Hy het toe vir my verduidelik wat oor die volgende paar dae gaan gebeur. Hy het vir my gesê Matona, Molefe, Koko en Marokane sal geskors word en daar gaan ʼn ondersoek oor Eskom gedoen word en die raad sal dit mettertyd aankondig. Min het ek geweet dit sal die volgende dag gebeur.”

Die vier hoofde is in Maart 2015 geskors. Net Koko het as ʼn werknemer by Eskom aangebly. Daniels het gesê sy het rede om te glo dat hy ook die dissiplinêre proses sal oorleef en het dit as ʼn “klug” beskryf.

Matona en Molefe het reeds voor die kommissie van ondersoek getuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.