LP’s hoor Guptas het glo belowe om in skole te belê

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Sover dit Sello Lehari, die LUR vir onderwys in Noordwes, en Jackson Mackay, adjunk direkteur-generaal van immigrasie by binnelandse sake, betref, was al hul handelinge met die omstrede Gupta-familie bo verdenking.

Lehari het Woensdag aan LP’s gesê die Guptas het nooit enige belegging in die skole in sy provinsie gemaak nie ondanks die feit dat die familie dít gelys het as motivering vir vervroegde naturalisasie.

Lehari het getuig voor die parlementêre ondersoek oor hoe die Gupta-broers, goeie vriende van voormalige pres. Jacob Zuma, asook ander familielede en vennote van die familie, daarin kon slaag om vroeë burgerskap by wyse van naturalisasie in Suid-Afrika te bekom.

Die Guptas beweer hulle het R25 miljard in Suid-Afrika belê, insluitend beleggings by skole. Volgens Lehari het hy die eerste keer van dié beweerde beleggings by skole in Noordwes gehoor toe die parlement se komitee oor binnelandse sake hulle in Mei vanjaar gekontak het.

Lehari het verder aangevoer dat sy departement nie een van die sewe skole wat deur die Guptas gelys is in hul aansoek vir vroeë naturalisasie kon opspoor nie, terwyl talle ander nie gebaat het nie ten spyte daarvan dat hulle as begunstigdes gelys word.

Daar is volgens hom ook bewyse gevind dat die Guptas se Oakbay-groep in 2013 met skoolhoofde geskakel het sonder die departement se kennisname, vandaar die bewering dat die Guptas “in die geheim” toegang tot sy provinsie gekry het.

Niksvermoedende skole is glo in ʼn strik gevang toe die skole genooi is om deel te neem aan ʼn kompetisie om ʼn troukaartjie vir die uitspattige Sun City-troue te ontwerp. Die skole wat gewen het, het toe “donasies” van kontantpryse tussen R1 000 en R15 000 asook sporttoerusting ontvang.

“Dit het tydens die ondersoek aan die lig gekom dat dit wat die skole ontvang het nie noodwendig ʼn donasie was nie, maar Oakbay wat hul dankbaarheid getoon het vir die ontwerp van die troukaartjie,” het Lehari gesê.

Intussen het LP’s Woensdag ook gehoor die meerderheid Indiese burgers wat permitte ontvang het om by ANN7-nuuskanaal te kom werk terwyl die Guptas in beheer was daarvan, het Suid-Afrika met intramaatskappy-visums binnegekom.

Mackay het getuig dat hy nie bewus was van Indiese werkers wat met toeriste-visums die land binnegekom het, in haglike omstandighede moes leef en in Rupees betaal is toe hulle teruggekeer het na hul tuisland nie.

Volgens Mackay het beamptes 31 werkers met intramaatskappy-visums en nege met besoekersvisumsvir sakevergaderings op die ANN7-perseel aangetref toe die klopjag uitgevoer is.

Toe Mackay ondervra is oor die aantygings in ʼn beëdigde verklaring van Rajesh Sundaram, wat ook die boek Indentured – Behind the Scenes at Gupta TV uitgegee het waarin onder meer beweer word dat baie van die personeel by ANN7 die land op toeriste-visums binnegekom het, het Mackay onskuldig gepleit.

“Ek is nou bewus daarvan. Ons het inspeksie daar gedoen en ek gee vir jou die feite. Ek sê nie dit kon nie gebeur het nie. Dit is iets wat ondersoek moet word,” het Mackay gesê.

Mackay het enige verbintenis met Ajay, Rajesh of Atul Gupta ontken en gesê hy het nog nie een van hulle ontmoet of met hulle gepraat nie.

Hy het ook ontken dat hy betrokke was in die proses wat gelei het tot die vroeë naturalisasie van Rajesh en Atul Gupta, of dat die minister hom ooit genader het om die kwessie te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

griet ·

ag asseblief. julle was volwasse mense n voorwaarde om in plaaslike skole te belê was nog nooit n waarborg vir eerlike transaksies nie. dit meer as enige iets moes julle oortuig het van vuilspel. maae lekker saamgespeel en soete vrug geoes en kom skuil julle agter THE GREATER GOOD! KORRUPSIE IS KORRUPSIE.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.