LP’s looi polisie oor slordige wapensyfers

Die komitee eis dat die polisie korrekte syfers oor die vuurwapenamnestie aan hom voorlê. (Argieffoto: SA Polisie)

Die polisie se vergadering met lede van die portefeuljekomitee oor polisie is Dinsdag opgeskort omdat die syfers wat polisiebeamptes aan die portefeuljekomitee voorgelê het, deurspek was met foute.

ʼn Finale verslag oor die getal vuurwapens wat tydens die pas afgelope vuurwapenamnestietydperk ingedien is, sou aan die komiteelede voorgelê word.

Weens talle teenstrydighede in die polisie se syfers is hulle weggestuur om die syfers te rekonsilieer en ʼn volgende keer betroubare syfers te verskaf.

Die komitee was uiters krities oor die teenstrydighede in statistieke wat voorgehou is en het benadruk dat dit ʼn uitwerking op die oorsigrol van LP’s het. Die komitee het die polisie ook gewaarsku oor die ernstige gevolge wanneer verkeerde inligting aan die parlement voorgehou word.

Die agterstand by die sentrale vuurwapenregister het LP’s ook bekommer.

Die polisiebestuur het vroeër die versekering gegee dat ʼn plan van aksie opgestel is om probleme by die register voor die aanvang van die nuwe amnestietydperk uit te stryk.

Vuurwapeneienaars en -organisasies kla reeds jare lank oor die agterstande met die verwerking van aansoeke vir wapenlisensies.

Vroeër vandeesweek het die polisie mense gevra om geduld aan die dag te lê in die verwerking van aansoeke. Volgens die polisie is die omkeertyd vir die verwerking van ʼn lisensie nou 120 dae pleks van die gewone 90.

Die portefeuljekomitee was egter nie beïndruk met die polisie se syfers nie.

“Dit is kommerwekkend dat net 280 aansoeke in die 2020-’21-amnestietydperk verwerk is, terwyl 30 356 aansoeke ingedien is. Die komitee beskou dit as ʼn aanklag teen die polisie se werk,” het Tina Joemat-Pettersson, komiteevoorsitter, gesê.

Die komitee het ook onvoldoende kommunikasie oor die amnestietydperk deur die polisie en ander rolspelers in die bedryf betreur en waarsku dat dit die goeie bedoelings van die amnestie ongedaan kan maak.

Die komitee het die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale, asook die nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole, aangesê om die vuurwapenregister self te besoek om hulle van probleme te vergewis. Die twee moet daarna ʼn verslag oor probleme saamstel en planne voorlê oor hoe dit opgelos gaan word.

Die komitee het ook onderneem om self die sentrale vuurwapenregister te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Anoniem ·

Hallo Hoed, dis nou jy en jou brigade waaroor berig word.

Anton ·

Gelukkig kan die kriminele darem nog hulle wapens gebruik om ‘n ou broodjie te verdien :-)

Kokerboom ·

Vervang die Minister en Kommissaris met mense wat kennis het asb!!!

Johannes ·

Waarom verbaas? Die meerderheid SAPD lede kan dan nie behoorlik lees en skryf nie!

Madz ·

Ooo vrek tog … hier kom NOG ‘n kommissie van ondersoek! Wat sal ons hulle noem? Die CELE-kommissie?

Frank ·

120dae???? Gmfffff!!! My aansoek al 10 Junie ingedien, met geen einde in sig. 120dae is in elk geval pateties

Johan ·

280 aansoeke in een jaar verwerk???? So hulle kan nie eens een ‘n dag doen nie!

Nie Verbaas ·

Nog n klap in die gesig vir hoed maar ANC sal aanhou om onbevoegde persone in poste aan te stel waar hulle nie hoort nie.

Sarel ·

Stelsel waarmee Polisie moet werk is ontoereikend sowel as Mannekrag en Bestuur het vrede daarmee. Cele voer sy dreigement uit om Burgers te ontwapen in die proses bewapen hy Kriminele.

Boerkind ·

Pateties… nog kaderaanstellings en steeds hou ou CR daarmee vol… Miskien moet hulle maar Mnr. de Ruyter daar by Eskom leen om so bietjie dinge reg te ruk….

Jakes ·

Die polisie moet soveel moontlik komitees aanstel om die korrekte inligting te bekom en soos die president moet hulle ook belowe dat die nodige inligting binne die kort termyn van 5 jaar beskikbaar sal wees.

Hennie J ·

Hierdie vuurwapenregister en alles wat daarmee saamgaan is van die eerste “getransformeerde” afdelings in die polisie en sy prestasies is sprekend daarvan. Deurspek van korrupsie, onbevoegdheid en tot in sy fondamente verrot .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.