LP’s ontstoke oor maatskappy wat SAPD ‘gyselaar hou’

Argieffoto

Die parlementêre waghond oor openbare rekeninge het Donderdag gesê hy is geskok dat ʼn verskaffer van die Suid-Afrikaanse Polisiediens “die hele land gyselaar kan hou” deur te dreig om die strafregstelsel tot stilstand te bring.

Scopa (die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement) het reageer op ʼn boodskap wat die voormalige polisiebeampte, nou sakeman, Keith Keating van Forensic Data Analysts (FDA), gesirkuleer het. Die maatskappy word na bewering verbind met korrupsieklagtes teen die voormalige waarnemende polisiekommissaris, Khomotso Phahlane.

Keating het in die verklaring gesê sleutelelemente van die strafregstelsel, insluitend eiendomsbeheer en bewysstukkebestuur (PCEM) en die vuurwapenpermitstelsel (FPS), in duie kan stort as die SAPD nie sy rekening by FDA vereffen nie. FDA verskaf dié dienste aan die SAPD.

“Dit laat die vraag ontstaan of die SAPD die toerusting by FDA huur of dit self besit, want volgens die komitee hanteer FDA slegs die instandhouding van die stelsel,” het Scopa in ʼn verklaring gesê. “Dit is gevolglik onduidelik waarom een persoon soveel mag oor toerusting kan hê wat die regering besit. As die regering die toerusting aangekoop het, watter reg het FDA om dit af te skakel?”

Scopa het verlede jaar aan die bestuur van die polisie gesê FDA se rekeninge moet nie meer betaal word nie, as gevolg van ʼn kwessie oor die wettigheid van die kontrakte tussen die maatskappy en die staatsinligtingstegnologie-agentskap (Sita), wat rekenaartoerusting namens die regering aanskaf.

FDA het in sy verklaring gesê hy verskaf instandhouding en ondersteuningsdienste vir die PCEM en FPS aan die SAPD, maar is die afgelope paar maande nie betaal nie. “Die gebruik van en toegang tot die sagteware en ondersteuningsdienste wat betref PCEM en FPS sal ongelukkig Woensdag, 4 April 2018, om middernag, opgeskort word, tensy ʼn behoorlike ooreenkoms aangegaan word met die SAPD voor die stelsel afgeskakel word,” lui die verklaring.

“Die SAPD en ander belanghebbendes is behoorlik gewaarsku oor die risiko’s, maar het nie reageer nie, ondanks die impak daarvan. Die minister is ook in kennis gestel en sy kantoor is die enigste een wat reageer en gesê het dat die nasionale polisiekommissaris versoek is om terugvoer te gee.”

FDA voer aan polisiebeamptes sal moontlik nie vir diens kan aanmeld nie, sal nie wettig vuurwapens kan gebruik of uitneem nie en toegang en bestuur van bewysstukke in die forensiese laboratorium sal ook beperk word. “Die bewaringsketting van miljoene bewysstukke in die laboratorium kan ook onderbreek word. Die Nasionale Vervolgingsgesag sal ook nie bewysstukke kan verwyder om in hofverrigtinge te gebruik nie. Die Republiek van Suid-Afrika kan moontlik sekere internasionale ooreenkomste met Interpol en die Verenigde Nasies oortree,” beweer FDA.

“FDA het die SAPD en SITA in kennis gestel dat dit onregverdig en onverantwoordelik sal wees om verder kritieke dienste aan die SAPD te verskaf, direk of deur SITA, in omstandighede waar betaling onwettig weerhou word en waar FDA nie binnekort betaling sal ontvang nie. FDA het sedert Desember 2017 sy bedrywighede en dienste aan die SAPD en SITA verskaf sonder enige betaling.”

Dit is nog nie duidelik of daar enige impak was op die strafregstelsel ná middernag nie.

Brig. Vishnu Naidoo het intussen in ʼn verklaring gesê die bestuur van die SAPD en SITA neem kennis van die mediaverklaring en gevolglike mediaberigte dat “sekere kritieke infrastruktuurstelsels binne die SAPD” afgeskakel sal word.

“Ons kan bevestig dat sekere stelsels inderdaad afgeskakel is en terwyl dit waarskynlik ʼn impak sal hê op die doeltreffendheid van sekere bedrywighede, bring dit nie alle bedrywighede tot ʼn stilstand nie. Gebeurlikheidsplanne is in werking gestel,” het Naidoo bevestig.

“Ons bekom intussen regsadvies op die saak en sal daarvolgens optree. Ons kan ook nie enige besonderhede verskaf nie, gegewe die feit dat dit ernstige sekuriteitsimplikasies kan hê en dat ons moontlik op die regsadvies sal moet reageer, indien nodig.”

Francois Beukman, voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, het gesê die situasie is ondraaglik en die nasionale polisiebestuur moet die kwessie as ʼn prioriteit hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Koos ·

Die spul is vrot van bo tot onder en die man op straat lei hieronder

Abe ·

Gister het hulle gesê geen stelsels sal geaffekteer word nie, en nou dit. Kon dit seker geraai het!

Piet Pompies ·

Dit is ‘n kwessie van betaal vir die dienste wat jy gebruik. As jy nie betaal dan word dit opgeskort. Geen uitsonderings vir staats instansies want dit is reeds hulle wat skuldig is aan laat betalings.

Callie ·

Hoe siek is die regering. Net so siek soos al die minderbevoorregtes, unies en studente in die land wat alles verniet soek Hoe slim kan jy wees as jy dink jy kan alles verniet kry. Is jou ik beter as die mense wat hul duiwels laat uitdryf met doom. Is dit beter as een wat glo jy kan in vrede grond net vat. Is dit beter as die wat glo die SA lugdiens of Eskom gaan wonderbaarlik winste maak. Hoe ernstig kan jy wees

Veters ·

FDA korrupsiebewerings bly tans nog net bewerings, en nog nie in hof uitgedaag nie , dus is daar geen rede om hulle nie te betaal nie. As jy iemand nie betaal vir 4 maande nie het hy volle reg om dienste te herroep. Wat het hulle anders verwag?

Martin ·

Die staat, veral op minusiepale dienste pas dieselfde reel toe. Telkom, Water en ligte rekenings om maar n paar te lys. As jy nie betaal nie bly jy sonder dit.

Koos ·

Dis wat gebeur as jy net staatmaak op eksterne konsultante en onbevoeg is om selfs jou eie koffie te maak. Kry vir julle!

Johann ·

Dit is niks nuut nie. Regerings instansies wat nie hulle rekeninge betaal nie.
N familie lid van my moes sy besigheid toe maak omdat n staats departement nie hulle rekening betaal het nie.
Met dit het 200 mense hulle werk verloor.
Betaal die rekening

Blinde Sambok ·

Eenige diens wat verskaf word aan n staatse instansie moet vooraf betaal word . As die werk dan nie gedoen word nie moet hulle vir hulle kry.
NO PAY NO WORK

Aggenee! ·

Mens noem dit demokrasie, jy weet, daardie selfde stelsel waarvoor derduisende SAners in laaaaaang toue gestaan het om daarvoor te stem. Wat is nou jul probleem?

Whatever ·

GYSELAAR?? NEE HOOR . as jy nie betaal nie kry jy nie dienste nie., hulle was reeds lenient … sal jou POLISIEMANNE werktoe kom as hulle vir maande nie betaal is nie? JULLE is darem nou regtig belaglik .. KRAG moet aanbly al word dit nie betaal nie . IT sisteme moet onderhou word al word hulle nie betaal nie . WATER moet bly loop al word dit nie betaal nie. jinne hierdie land het ‘n FREE FOR ALL EN ALL FOR FREE geword .. DIT WERK NIE SO NIE, maak nie saak wie is aan bewind en of jy dink jy is King Zulu nie … JY MOET BETAAL!!!

Nossob ·

Wragtag pragtag. Dis n eindelose proses om geld uit die staat te kry vir dienste gelewer. geen wonder niemand wil meer iets vir hulle doen nie.

Vark ·

Hulle moet daai kontrakte verder ondersoek – die bedrog met KK het al paar jaar vroeer al begin – vorige hoofed van die Stelsel afdeling

Linda van Mosselbaai ·

En daar waai die stert die hond rond …………….

Ben ·

My besigheid het miljoene rande veloor omdat Durbanville se polisie nie saak op hulle rekenaar stelsel kom sit nie. Regering? Watter regering? Ons het net ‘n regering in die media, die res nouja……..
Stuur bv vir hulle ‘n “email” en kyk wat gebeur.

Trots Afrikaans ·

Wag net gou, moet die eerste vraag nie wees: Hoekom betaal die staat nie?

As jy die staat skuld moet jy hoes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.