LP’s stem saam oor reëls om president te verwyder

Die Nasionale Vergadering

Die parlementêre reëlskomitee het ooreengekom oor ʼn proses wat die nasionale vergadering moet volg as ʼn dienende president verwyder moet word kragtens artikel 89 van die Grondwet.

Die komitee het die reëls eenparig aanvaar en aanbeveel dat die nasionale vergadering dit moet goedkeur, het ʼn woordvoerder vir die parlement Donderdag gesê.

Alhoewel die Grondwet twee verskillende maniere in twee verskillende artikels bied hoe ʼn president deur die parlement afgedank kan word, is daar nie ʼn definitiewe proses wat gevolg moet word wanneer die besluit deur ʼn mosie bepaal word nie.

Kragtens die reëls wat die LP’s vandeesweek aanvaar het, kan enige lid van die nasionale vergadering ʼn mosie bring wat versoek dat die president kragtens artikel 89 verwyder moet word. Die speaker moet dan die mosie na drie onafhanklike regskenners verwys, tesame met enige stawende inligting, wat dan sal bepaal of daar genoeg gronde is dat die parlement kan voortgaan met ʼn ondersoek teen die president.

Onder die nuwe reëls moet die speaker met die politieke partye in die vergadering konsulteer om te bepaal wie die onafhanklike regskenners sal wees.

Die paneel moet “onpartydig en sonder vrees, guns of vooroordeel” funksioneer en samesprekings moet binne 30 dae afgehandel wees waarna die paneel terugvoer moet gee aan die nasionale vergadering. Lede van die vergadering sal dan bepaal of die ondersoek sal voortgaan en, indien wel, sal ʼn spesiale komitee die vervolging hanteer. Die komitee moet die egtheid van die klagtes teen die president bepaal en dan ʼn aanbeveling maak aan die nasionale vergadering.

“Sodra die komitee terugvoer gegee het, sal die nasionale vergadering die debat en beslissing dringend skeduleer. As die verslag aanbeveel dat die president uit sy amp verwyder moet word, sal daaroor gestem word.”

Tweederdes van die nasionale vergadering moet ten gunste van die mosie stem voor die president uit sy amp verwyder kan word.

Kragtens artikel 89 is die gronde vir die verwydering van ʼn president ernstige oortreding van die Grondwet, ernstige wangedrag of onvermoë om die pligte van die kantoor uit te voer.

Die reëlskomitee het aan dié reëls begin werk toe voormalige president Jacob Zuma nog in sy amp was, maar dit is nie in daardie stadium afgehandel nie. Die konstitusionele hof het egter in Desember verlede jaar die parlement verplig om die reëls sonder verdere vertraging te finaliseer en die wetgewer moes prioriteit gee aan die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anton Hugo ·

Ek stel voor dat julle dit dan so toepas, want die rand vaar nou slegter as onder Stortkop. Iets drasties verkeerd hier.

Johanna Botha ·

Alles woorde …net soos die kamtige wigte en teenwigte wat nie gewerk het nie …nou sit ons met die GROOT GEMORS in SA op alle vlakke !

Msp ·

Die parlementslede is oor beskerm, oorbetaal en het geen idee wat in die land aangaan nie en die wie vir hulle stem is lyk my nie werklik bewus daarvan dat daar ook ander partye in die land is om voor te stem nie. Hulle is oortuig dat die regering alles nog vir hulle verniet gaan gee.

lewies ·

Die probleem le by die aanstellingsproses, nie by die verwydering van iemand nie. As die aanstellers gestraf word omdat hulle onbevoegdes, skelms, dommes en kurriptes ens, ens aanstel moet hulle swaar gestraf word.

Gerda ·

Ja dit sal werk…straf diegene wat korruptes aanstel want dis deur hulle wat ons land in so gemors is. Die hele ANC regering is korrup. Ook die DA is te betwyfel. Watter ander partye is bevoeg genoeg om n godsdienstige leierskap te handhaaf volgens die Woord van God? Laat ons weet asb.

Antiestabliesment ·

Gerda

Ek stem nie saam met jou oor ‘godsdienstige leiers’ nie. Ek is ongelowig, en het net soveel reg hier as jy. As jy jou geloofs oortuiginge in my keel gaan laat afdruk deur regerings gesag dan is die skrif teen die muur en enige ‘idee’ getoets of ongetoets, kan dan afgedwing word wat sodoende vryhede inperk.
My morele waardes word nie deur die ‘boek’ bepaal nie, maar deur my eie insig tot gesonde samelewing.

Dat die ANC korrup is, is nie te betwyfel nie. Dat die DA die pad byster raak is ook so. Dat die blanke Afrikaners (veral die geld mafia) hulself net so sleg en korrup gedra soos die ANC kadres is ooglopend besig om uit te kom. Dus woon ons blankes ook maar in glas huise. die klippe wat ons gegooi het na die ANC kom nou terug deur sake soos Steinhoff en moontlike ander.

As dit gaan help om morele waardes te hervestig deur Jesus in hul harte kry, doen dit, maar moet dit nie deur politiekery, politie mag of regerings gesag doen nie. Dit is die resep vir grootskaalse onderdrukking, misbruik van mag en vergrype. Kyk maar na die ‘ryk’ pastore.

lewies ·

Die probleem le by die aanstellingsprosesse nie by die verwyderingsprosesse nie. Stel mense aan wat gekwalifiseer is en wat die regte werkswaardes en lewens en wereld beskouing het, dan sal ons baie minder probleme ervaar.

von ·

Lewies stem saam dink net hoeveel tyd die howe sal he om hulle werk te doen.

Elsa ·

Nou sal SR moet dans na die ANC en EFF se pype , anders gaan hulle die nuwe reel toepas

Antiestabliesment ·

Ja, jy is reg. Die reel is deurgedruk, nou skielik, om seker te maak hulle kan ontslae raak van die president wat nie die populistiese sieninge dra nie.

Maak reg, SA moét eers totaal verwoes word voordat enige herstel kan plaasvind. As ek reg is het dit iets te doen met ‘Out of chaos comes order’, ‘n nuwe orde wat jou ook nie goedgesind is nie.

lerato ·

Die Zuma administrasie het die land in ‘n skuld moeras gedompel. Ramaphosa as gematigde is die enigste hoop om ons uit die gemors te kry.

Hy weet hy moet versigtig optree. “Keep your friends close, but keep your enemies even closer”

Jonas ·

Verkeerd. Die ANC het die land in ‘n skuldmoeras gedompel.

Groenie ·

Die groot probleem is dat parlementslede se salarisse en byvoordele hopeloos te groot is – hulle is nie daar vir die bevolking nie, maar vir eie gewin. Verlaag hulle salarisse na, sê, die van ‘n onderwyser of verpleegster toe, dan sal ons dalk die regte persone in die parlement kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.