LP’s vergader dringend oor Tottenham-borgskap

Themba Khumalo, waarnemende hoof van SA Toerisme. (Foto: Skermgreep)

Daar is groot begrip om Suid-Afrika as ʼn toerismebestemming te probeer bemark, maar daar is ook al hoe groter kritiek van SA Toerisme (SAT) se beoogde borgskap van R1 miljard van die Britse sokkerklub Tottenham Hotspur wat die afgelope week op die lappe gekom het.

Themba Khumalo, waarnemende hoof van SAT, het Donderdag tydens ʼn nuuskonferensie gesê dat die ooreenkoms miljarde rande in inkomste vir die land se toerismebedryf gaan genereer.

Intussen is ʼn dringende vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee vir Dinsdag belê sodat die Tottenham Hotspur-borgskap bespreek kan word.

Manny de Freitas, die DA se woordvoerder oor toerisme, sê die vergadering gaan die komitee die geleentheid gee om SAT oor die beoogde ooreenkoms uit te vra.

Hy sê die bewerings, dat SAT se finansiële hoof bande het met die agentskap wat glo heelwat geld uit die ooreenkoms gaan verdien, maak die vergadering veral “dringend en kritiek”.

“Gister se nuuskonferensie met Themba Khumalo het ons met meer vrae as antwoorde gelaat. Die DA gaan onder meer antwoorde eis oor of die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, bewus was van die ooreenkoms. Ons soek ook presiese syfers,” sê De Freitas.

ʼn Herrie woed nadat die beoogde R1 miljard-borgskap van die elite klub rugbaar geword het. Khumalo sê die ooreenkoms is nog nie afgehandel nie en dat die beraadslaging daaroor onderbreek is omdat die inligting voortydig uitgelek is. Oor die persoon wat die inligting laat uitlek het, se optrede het Khumalo gesê dit is “on-Suid-Afrikaans” en dat die persoon “geïsoleer” moet word.

Die burgerregtegroep AfriForum het nietemin reeds ʼn regsbrief aan die departement gestuur waarin hy duidelikheid eis oor waar die geld vir die borgskap vandaan gaan kom. Die organisasie glo die geld behoort eerder op eie bodem aangewend te word.

AfriForum het verder geëis dat geen fondse aan die voetbalklub geallokeer moet word voordat daar nie aan Suid-Afrikaanse burgers ʼn geldige verduideliking vir die borgskap gegee is nie.

“AfriForum veroordeel die moontlike betrokkenheid van die departement van toerisme by ʼn internasionale sokkerspan ten sterkste, veral aangesien daar nie eens genoeg tyd, energie en fondse spandeer word om sport op eie bodem te ontwikkel nie,” sê Ronald Peters, bestuurder van sport en jeug by AfriForum.

“Hierdie geld kan veral aangewend word om talentvolle jong mense in moeilike omstandighede te help om hulle vaardighede te ontwikkel ten einde aan hul omstandighede te ontsnap.”

Die drukgroep Outa sê hy is nie verbaas oor die groot openbare woede nie, gegewe die land se finansiële beperkings en die veel dringender kwessies – ook binne die plaaslike toerismebedryf – waarop die geld eerder bestee kan word.

“Ons verstaan die behoefte om die land as ʼn toerismebestemming te bemark. ʼn Kontrak en besteding van hierdie omvang en aard, teen die agtergrond van die land se geldtekorte en die ernstige kwessies wat finansiering benodig, tesame met lae openbare vertroue in die regering se bestedingsbesluite, beteken dat ons die sin van hierdie voorval bevraagteken,” sê Wayne Duvenage, uitvoerende hoof van Outa.

Die bedrag is sowat 38% van SAT se ganse bemarkingsbegroting oor die volgende drie tot vier jaar en is gemik op veral Britse besoekers wat maar 25% van Suid-Afrika se toerismesyfers beslaan.

Outa gaan ook aan die minister en SAT skryf om omvattende besonderhede oor die transaksie te vra.

“Onthou julle die vlagpaalprojek? Die Tottenham Hotspur-voorstel is nog ʼn projek wat wys hoe ver verwyder die regering is van die behoefte om skaars inkomste slimmer te bestee,” sê Duvenage.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.