LP’s vergader met vakbonde by SAUK

SAUK-gebou in Kaapstad Foto: Maroela Media

LP’s het Vrydag met vakbonde by die SAUK vergader en hul kommer uitgespreek oor die verhouding tussen werknemers, raadslede en die bestuur van die uitsaaier.

“Dis kommerwekkend dat ʼn subkomitee van die raad slegs een keer met vakbonde vergader het om oplossings te kry vir die uitdagings wat werknemers beleef sedert die nuwe raad aangestel is,” het Humphrey Maxegwana, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie, gesê. “Die leierskap van die organisasie moet ʼn omgewing skep wat konsultasie tussen die instansie en sy werknemers bevorder.”

Die verhouding tussen die werknemers en bestuur is gespanne ná werknemers en verslaggewers by die uitsaaier die fluitjie geblaas het oor sensuur en finansiële onreëlmatighede by die staatsbeheerde instansie.

ʼn Parlementêre ondersoek verlede jaar het omstrede optrede deur bestuur van die uitsaaier met privaat kontrakteurs, insluitend die Gupta-familie, aan die lig gebring. Die Gupta-familie word daarvan beskuldig dat hulle miljarde verdien het uit staatsinstansies as gevolg van ʼn nabye vriendskap met voormalige pres. Jacob Zuma. Verslaggewers het tydens die ondersoek getuig dat hulle geïntimideer en gedreig word omdat hulle standpunt ingeneem het teen sensuur en verskeie ander kwessies oor joernalistieke etiek.

Die raad is ontbind en die uitvoerende bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, is later deur ʼn nuwe raad afgedank.

LP’s het Vrydag gesê hulle is steeds besorg oor die “problematiese organisasiekultuur wat posgevat het” onder die bestuur van voormalige raadslede en uitvoerende bestuurders. “Die komitee hou vol dat ʼn organisasiekultuur geskep moet word wat die SAUK in staat stel om sy grondwetlike mandaat uit te voer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.