LP’s verklaar: ʼn Vulstasie, ʼn begrafnisonderneming en lobola

Argieffoto: Kopano Tlape, GCIS

Argieffoto: Kopano Tlape, GCIS

Die parlement se register vir ledebelange is Woensdag ter tafel gelê en gee insig in die rykdom en sakebelange van parlementslede.

Parlementslede blyk al meer geneig te wees om hul ware monetêre waarde in trusts te verberg waarvan die waarde nie verklaar word nie, maar daar was ’n paar ongewone verklarings wat die wenkbroue laat lig het.

Ruth Bhengu, ANC-LP, het onder meer beeste ter waarde van R20 000, ʼn geskenkmandjie van ʼn onbekende bedrag en R15 000 se lobola-betalings gelys. ANC-LP Winnie Madikizela-Mandela is die direkteur van nie minder nie as 10 onaktiewe maatskappye en twee aktiewe maatskappye. Sy besit drie huise in Soweto en ’n luukse woonstel in Houtbaai.

Matie Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het die talle geskenke wat sy van ander regerings en diplomate gekry het, verklaar. Sy het meer as 60 geskenke gelys, waaronder pantoffels, Versace-parfuum en ʼn boek wat die 90ste verjaarsdag van pres. Robert Mugabe vier.

Mmusi Maimane, leier van die DA, besit ’n huis in Roodepoort en twee stukke grond aan die Wes-Rand. Hy is ʼn direkteur van ʼn konsultasiemaatskappy en ʼn direkteur vir Youth for Christ.

Maimane het slegs drie geskenke verklaar, naamlik ʼn bottel whiskey van Somerset College, kristalglase van vriende en ʼn Taiwannese teestel.

Julius Malema, leier van die EFF, het verskeie trusts verklaar sonder om ʼn waarde daaraan te koppel. Hy lys homself as die begunstigde van die Ratanang Familietrust.

Kenneth Meshoe, leier van die ACDP, is bekend vir sy duur kleresmaak. Sy vrou, Lydia, het vir hom pakke ter waarde van R15 000 gekoop terwyl sy dogter vir hom skoene ter waarde van R2 600 gekoop het.

Talle LP’s besit eiendom, maar Mosiuoa Lekota, leier van Cope, het niks minder nie as sewe eiendomme verklaar. Mduduzi Manana, adjunkminister van hoër onderwys, besit ʼn vulstasie, ʼn gastehuis en ʼn eiendomsontwikkelingsmaatskappy.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula se dogter het getrou en sy was gelukkig genoeg om afslag op die markiestent en drank te kry danksy SAB.

Fikile Mbalula, minister van sport, het niks verklaar rakende sy omstrede bywoning van Floyd Mayweather se bokskampioenskap nie. Hy het egter talle trusts en geskenke verklaar, waaronder ʼn handgeweefde hoed.

Die ANC-LP Ayanda Dlodlo is ʼn direkteur van 20 maatskappye en het aandele ter waarde van R5,2 miljoen terwyl Manny de Freitas, DA-LP, aandele ter waarde van R4 miljoen het.

Dorris Dlakude, adjunkhoofsweep van die ANC, het vyf eiendomme, waaronder ’n plaas, twee huise en ʼn begrafnisonderneming.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

EMK ·

Hierdie is net die goed wat hul WEL verklaar, wat van alles wat nie verklaar word wat hul hoop niemand van uitvind nie.

Mike de Beer ·

Is Nkandla op enige manier verklaar? Zuma is in sy privaat hoedanigheid bevoordeel met geld wat nie aan hom behoort nie.

Winston ·

Mense praat al van n 2de ekonomie. Kontant in omloop. Ek wil weet hoe kry hulle dit reg? Hoe? Duisende sal glo dit was eerlik bekom, ek ook.

anita ·

Wonder of almal wat hierbo so lekke lewe, ook rykdomsbelasting gaan betaal..vir al die studente wat moet leer..haaaa!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.