LP’s vies oor Gordhan swyg oor SAL

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan (Foto: Ntswe Mokoena/GCIS)

Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, het lede van die parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (Skoor) Woensdag behoorlik die harnas ingehad. Gordhan wou geen besonderhede oor die sakereddingspoging by die sukkelende Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) bekend maak nie en het LP’s gevra om te wag tot ʼn behoorlike strategie vir die staatsredery uitgewerk is.

Hy het by Skoor gepleit om te wag tot ná 6 Maart, wanneer ʼn konsepplan voorgelê moet word.

“Die sakereddingspraktisyns moet teen daardie tyd hul plan voorlê en sodra hulle gereed is, sal ons julle inlig. As die plan gereed en geloofwaardig is, sal ons só sê,” het Gordhan gesê.

Die minister is met vrae gepeper, veral deur lede van die EFF. Hulle het hom gewaarsku dat sy departement én die sakereddingspraktisyns nie ʼn vyand van vakbonde moet maak nie.

Die arbeidshof het verlede week ʼn aansoek van die metaalwerkersvakbond Numsa en die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca) om ʼn interdik teen afleggings by die SAL te bekom, van die hand gewys. Die aansoek het gekom ná ʼn aankondiging van die redery dat hy sommige roetes wat ʼn verlies toon, opskort.

Gordhan het dit gewaag dat aangeneem kan word dat bykans alle SAL-roetes in dié stadium – weens ʼn lomp huurooreenkoms vir vliegtuie – teen ʼn verlies bedryf word. Hy hou ook voet by stuk dat dit voortydig is om te wil weet watter roetes steeds behou gaan word.

Skoor-voorsitter Mkhuleko Hlengwa sê die komitee is ontevrede met die gebrekkige detail wat die departement oor die kwessie verskaf. Hy gaan vra dat daar kort ná 6 Maart met die sakereddingspraktisyns vergader word sodat hulle LP’s op die hoogte van hulle planne kan bring.

“Ons soek nie halfgebakte planne nie,” het hy gesê.

Die komitee soek antwoorde by die sakereddingspraktisyns ingevolge wetgewing oor openbare finansies, maar ʼn woordvoerder vir Gordhan se kantoor het gesê hulle rapporteer nie aan dié departement nie.

Die minister het hom wel oor sommige ander sleutelkwessies uitgelaat, waaronder die behoefte om die SAL se tegniese afdeling, SAAT, te red.

Die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek, het die afgelope maand heelwat getuienis gehoor oor beweerde tenderongerymdhede en omkopery by dié afdeling.

“Toe staatskaping en korrupsie oorgeneem het, is [SAAT] heeltemal uitgedun, maar daar is groot waarde in SAAT wat behoue moet bly,” het Gordhan gesê.

Volgens hom is een van die gedeelde take tussen die sakereddingspraktisyns en die regering, as aandeelhouer in die SAL, om ʼn vaardige werkerskorps op te bou wat die redery weer volhoubaar kan maak. Om dít te doen, gaan dit nodig wees om “nuwe vaardighede na die redery te bring”.

“Ons gaan in dié opsig saam met die praktisyns werk om die nodige vaardighede te vind,” het Gordhan gesê.

Hy het oproepe dat die SAL verkoop moet word, verwerp en sê in die stadium is dit onwaarskynlik dat enige kopers sou belangstel.

“Om eerlik te wees: jy sou iemand waarskynlik moet betaal om die SAL in sy huidige toestand te koop. Gaan jy jou geld belê in ʼn onderneming wat teen ʼn verlies bedryf word?” het hy aan die komitee gevra.

Gordhan hou vol dat staatsbeheerde ondernemings finansieel selfstandig moet word en glo dat hulle steeds ʼn rol het om in die ekonomie te speel.

“Die private sektor is nie ʼn wonderkuur vir alles nie. Die staat ook nie,” het Gordhan gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johan Venter

Solidariteit moes nooit toegestem het tot vrywillige sakeredding nie, die ANC regering sit nou nog met volle beheer en nog is dit het einde niet.

Jip, die regering het nie aan die begin verniet so vinnig uit die wegspringblokke gekom nie, hulle wou met alle mag nie volle beheer afstaan nie, nou voel hulle die SAL skuld hulle en sal hulle druk om in besluite geken te word.

Hierdie een kon mens destyds met ‘n stok aanvoel, in effek kon mens dit al uit die buitenste ruim sien kom voor dit deur die atmosfeer gebars het.

Nie Verbaas

Shame EFF, moenie unies n vyand maak nie? Dit is tyd dat unies op hul plek gesit word. Nou, meneertjie Malena, verduidelik jy asseblief hoe jy SAA in n winsgewende onderneming wil verander sonder om oortollige en onbekwaamde werknemers af te le.

JM

Malema weet nie hoe nie. Hy weet net van skree en beledig.

Jakes

In verhouding tot die grootste lugvaart maatskappye ter wereld , werk daar meer werknemers vir SAL as in daardie maatskappye per vliegtuig. Geen wonder dat hulle bankrot is. As n lekker R1 kos maar jy kry net 50 sent sakgeld, hoe sal jy ooit die lekker kan bekostig? Dieselfde beginsel geld vir SAL. Sekerlik behoort iemand in n vakbond genoeg breinkrag te kan he om so n som te maak.