LP’s wil Transnet/Gupta-verbinding ondersoek

18-512 Transnet Klas 18E by Kaalfontein, Gauteng Foto: Kol André Kritzinger, railpictures.net

Lede van die parlement van verskillende politieke partye het Dinsdag versoek dat ondersoek ingestel moet word oor bewerings van staatskaping by die staatsbeheerde vrag- en logistieke maatskappy, Transnet.

Siyabonga Gama, uitvoerende groepshoof by Transnet, en sy span het voor die parlementêre komitee oor openbare rekeninge (Scopa) verskyn om te verduidelik hoe hulle vorder met ʼn ondersoek oor beweerde gunslone wat aan Gupta-maatskappye betaal is in ruil vir kontrakte met Transnet.

Gama het aan LP’s gesê hulle het met forensiese ondersoeke begin oor die bewerings wat in die media verskyn het, wat verband hou met kontrakte wat Transnet toegeken het aan maatskappye wat na bewering gunslone oorbetaal het aan maatskappye wat met die Gupta-familie verbind word om dié kontrakte te verseker.

“Die interne forensiese ondersoeke duur voort,” het Gama gesê.

Die ondersoeke sluit ook bewerings in wat in die #GuptaLeaks vervat is dat die Duitse sagtewaremaatskappy SAP altesaam R100 miljoen aan die Guptas oorbetaal het om ʼn kontrak by Transnet te bekom.

Nog ʼn Duitse maatskappy, Software AG, het na bewering ook gunslone oorbetaal aan ʼn Gupta-maatskappy om ʼn kontrak van R180 miljoen te verseker by Transnet Freight Rail.

Gerugte dat Tequesta, Gupta-luitenant Salim Essa se maatskappy, altesaam R5,3 miljard ontvang het in gunslone van China South Rail om ʼn deel van Transnet se R50 miljard-treintransaksie te verseker, word ook ondersoek, het Gama bygevoeg.

“Die ondersoek oor die SAP-kontrak is afgehandel. Daar was geen oortreding aan Transnet se kant of oortredings deur Transnet-werknemers nie, maar SAP stel self bykomende ondersoek in oor drie werknemers, in diens van SAP South Africa,” het hy gesê. “Die interne forensiese ondersoeke by Transnet duur voort en wanneer dit behoorlik is, sal ek dié inligting met julle deel.”

Thapelo Chiloane, van die ANC, het gesê sy is besorg dat Transnet vir mediaberigte gewag het voor hulle opgetree het. “Ons kan nie ʼn situasie hê waar die media toesig hou oor Transnet nie. Transnet kan nie vir mediaberigte wag voor hulle optree nie. Wanneer doen die lynbestuurders hul werk?”

ANC-LP Mnyami Booi het ʼn parlementêre ondersoek voorgestel, en hou vol “Transnet het ons mislei”. “Transnet is baie tevrede om homself te ondersoek en sy eie afleidings te maak. Hulle het geen respek vir die parlement nie. As ons dit toelaat, gaan hulle die parlement bly minag.”

Sy wou weet of die parlement nie met sy eie ondersoek kan begin oor die bewerings by Transnet nie. “Ons kan nie hier sit en deur Transnet gelei word nie, waar almal daar deur die Guptas aangestel is.”

David Ross, DA-LP, het Booi se voorstel ondersteun. “Ek ondersteun die voorstel dat ʼn volledige parlementêre ondersoek gedoen moet word. Ons praat van baie, baie geld.”

LP’s sal volgende week Dinsdag met die tesourie vergader voor Transnet teruggeroep sal word om weer voor die komitee te verskyn.

Mkhuleko Hlengwa, LP van die Inkatha Vryheidsparty, het gesê Scopa moet solank ʼn vooraf ondersoek doen sodat ʼn formele aanbieding by die parlement ingedien kan word. “Wat ek tussen verlede week en gisteraand gelees het, is daar nie ʼn rokie sonder ʼn vuurtjie nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Dit is verblydend dat die parlement optree soos met Eskom. Die valke se vlerke is geknip, die ombudsman kapasiteitsgestremd, die NVG se tande getrek en die SAPS ondersoek niks teen hooggeplaastes nie.
Die feit dat ons die ondersoeke kan volg, help met geloofwaardigheid.

Ouman ·

Is seker die forensiese ondersoekers word om elke hoek en draai verhinder om hulle werk behoorlik te doen. Het so klokkie hoor lui. Geld is deur Chinese in Hong Kong aan Essa betaal. Hong Kong owerhede behoort dit maklik te kan bewys.

Kosie Kramer ·

Die SAP-sagteware is verskaf deur EOH, wie se eienaar `n Israeli is, en die bestuur meestal Indiers. EOH sal byvoorbeeld die SAP-konsultant aan `n maatskappy verhuur as bestuurder, maar die konsultant teen `n laer vlak betaal.

Hendrik ·

Ondersoek op ondesoek op ondersoek! Geen aksie…dis verdomp tyd dat ons aksie sien!

Carel ·

Alles word ondersoek tot ons blou word wat alles geld kos maar geen vordering word gemaak nie
Niemand word aan die kaak gestel nie
Mors van tyd

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.