Lucas Maree se gedenksteen nou tuis by liedjietuin

Dr. Danie Langner van die FAK saam met Ilze, Lucas Maree se weduwee, en René Janse van Vuuren, Maree se suster by die onthulling van die gedenksteen in die Afrikaanse liedjietuin. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

“Ons kon nie vir ʼn beter, of mooier, tuiste vra vir Lucas Maree se gedenksteen nie.”

Dit was die woorde van René Janse van Vuuren, Maree se suster, Dinsdag met die onthulling van die gedenksteen in die FAK se Afrikaanse liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria.

Ilze, Maree se weduwee, en sy drie dogters Monica, Carla en Linda, asook sy kleindogter, Luca, het die klein en intieme geleentheid bygewoon.

Van die ander gaste by die onthulling was Matthys Roets, Koos du Plessis se dogter Karla, Lochner de Kock, Helena Hettema, Blackie Swart en die akteurspaar Petru Wessels en Carel Trichardt.

Die sanger Jannie du Toit, wat ook die peetpa van Maree se kinders is, het saam met Maree se dogter Monica, ʼn paar liedjies gesing.

“Dit is jammer oor wat by Victoriabaai gebeur het, maar hier is dalk nou ʼn manier om weer die kollig op die nalatenskap van sy musiek te plaas,” het Du Toit gesê.

Dr. Danie Langer, besturende direkteur van die FAK, het die mening beaam en gesê dit is ʼn voorreg om tydens die geleentheid weer Maree se musiek te kan onthou.

Jannie du Toit en Monica Maree het ‘n paar uitgesoekte liedjies van haar pa Lucas gesing. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Maree, wat onder meer bekend is vir sy liedjies soos “Victoriabaai” en “Droomvrou”, het op 18 Februarie 2011 aan kanker gesterf. Sy gedenksteen bestaan uit ʼn foto van Maree en die woorde van sy trefferliedjie “Victoriabaai”. Sy as is ook by Victoriabaai gestrooi.

Maroela Media het in Januarie berig dat mense verlede jaar begin kla het die rotse in die see by Victoriabaai al hoe meer soos ʼn “kerkhof” lyk weens die hoeveelheid gedenktekens en -stene wat daar opgerig word.

Die FAK het, na aanleiding van die klagtes, Janse van Vuuren gekontak om te hoor of hulle Maree se gedenkteken na hul liedjietuin kan verskuif.

Carla, Maree se dogter, het vroeër aan Maroela Media gesê Victoriabaai is so uniek vir hulle gesin omdat dit die rusplek is van vele Maree-voorvaders.  Sy vertel Victoriabaai het haar pa na aan die hart gelê.

“Die gedenksteen was ʼn manier om ons te herinner aan hoe baie my pa vir ons nagelaat het. Ons is ewig dankbaar dat die steen verskuif kan word na ʼn plek waar hy bewaar, waardeer en gesien sal word deur miljoene, wat net soos hy, vreeslik lief was vir die natuur.”

Die vroue in Lucas Maree se lewe. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Langner het gesê dié liedjietuin is juis in Oktober 2013 geopen as ʼn dinamiese manier om Afrikaanse musieklegendes te onthou ná die organisasie met die samestelling van die jongste FAK Sangbundel besef het daar is nêrens ʼn plek waar dié mense gevier kan word nie.

Die tuin is met die hulp van Ludwig Taschner, ʼn bekende in die plaaslike roosbedryf, en sy dogter Anja, uitgelê. Altesaam 165 roosbome en -bosse is aangeplant. Talle van die rose wat in die tuin gebruik is, is rose wat na Afrikaanse kunstenaars vernoem is, soos Christa Steyn, Rina Hugo, Mimi Coertse en Steve Hofmeyr.

In die tuin is die name van Afrikaanse kunstenaars wat oorlede is, waaronder Janita Claassen, Cora Marie, Christa Steyn, Louis van Rensburg, Bles Bridges, Lucas Maree, Koos du Plessis, Gé Korsten, Gert Potgieter en Johannes Kerkorrel, op klipplaatjies tussen die rose aangebring. Die lirieke van bekende Afrikaanse gunstelinge soos Kinders van die Wind, Griekwapsalms, Lisa se klavier en Suikerbossie kan gelees word op marmerplate oral in die tuin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

EO ·

Dis pragtig daar in die gedenktuin. Ek het so tydjie gelede daar deur geloop. My oorlede man se nis is ook by die Voortrekker Monument se tuin van herinnering . Rustig, veilig en word goed versorg.

Agter die skerms..... ·

Gisteraand was dit op die nuus – ek en my mams het even trane in ons oge gehad. ‘n Pragtige gedenksteen. Net ‘n pragtige gedagte ook.

Pieter ·

Daar kan nog steeds ‘n gedenkplaat/kopie vir Lucas by Victoriabaai opgerig word. Dit is sy kliptroon waar die branders slaan. Mooi om sy woorde by die see en rotse te lees, aangrypend.

Die Voortrekkermonument as Sontempel is nie my plek om te besoek nie, dit is deel van die volk se sondes voor die jaloerse God (10 Gebooie).

Jdb ·

“Sontempel”? Ja-nee, daar moet altyd so een ook wees, né.
Hou tog asb jou ateïsme vir jouself

antieke antie ·

ek is bly vir die tuin van herinering… tot dit ook weer gekaap word….hopelik gaan nie ook gekaap word nie…die helde akker is eintlik al n bespotting…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.