Lucas Maree se gedenksteen skuif na liedjietuin

Lucas Maree (Foto: Lucass Maree – Die Legende/Facebook)

Die bekende sanger en liedjieskrywer Lucas Maree se gedenksteen gaan volgende maand ʼn nuwe tuiste by die FAK se Afrikaanse liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria kry. Die steen staan tans in Victoriabaai in die Suid-Kaap.

Die FAK beplan om dié gedenksteen op 18 Februarie in die Afrikaanse liedjietuin te onthul.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die FAK het mense verlede jaar begin kla die rotse in die see by Victoriabaai lyk al hoe meer soos ʼn “kerkhof” weens die gedenktekens en -stene en kissies met as wat vir afgestorwenes opgerig is.

Die FAK het Maree se suster, René Janse van Vuuren, gekontak om te hoor of hulle Maree se gedenkteken na die liedjietuin kan verskuif. Janse van Vuuren het dié gedenksteen opgerig nadat Maree in 2011 sy stryd teen kanker verloor het.

Die gedenksteen bestaan uit ʼn foto van Maree en die woorde van sy trefferliedjie “Victoriabaai”. Sy as is by Victoriabaai gestrooi.

Janse van Vuuren vertel “Victoriabaai” is baie sentimenteel vir haar omdat hy die liedjie vir hulle ma geskryf het. “Die woorde van die liedjie is so mooi. Ek het gedink dit sou wonderlik wees om dit met Victoriabaai se vakansiegangers te deel, verál die Afrikaanse gemeenskap daar. Ek wou hierdie mooi woorde met hulle deel,” vertel Janse van Vuuren.

Lucas Maree gedenksteen (Foto: Verskaf)

Carla Maree, Maree se dogter, sê Victoriabaai is so uniek vir hulle gesin omdat dit die rusplek is van vele Maree-voorvaders.  Sy vertel Victoriabaai het haar pa na aan die hart gelê.

“Die gedenksteen was ʼn manier om ons te herinner aan hoe baie my pa vir ons nagelaat het. Ons is ewig dankbaar dat die steen verskuif kan word na ʼn plek waar hy bewaar, waardeer en gesien sal word deur miljoene, wat net soos hy, vreeslik lief was vir die natuur,” sê Carla.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het gesê dit sal vir die FAK ’n groot voorreg wees om Maree se gedenksteen in die Afrikaanse liedjietuin te verwelkom en hulde te bring aan dié geliefde sanger en woordkunstenaar.

“Die FAK het besef daar word so min erkenning aan ons Afrikaanse sangers en kunstenaars gegee. Dit is juis daarom dat ons die 2012-Sangbundel begin saamstel het om hulle te vereer,” sê Langner. Sewe liedjies van Maree, onder meer die bekende “Victoriabaai”, “Droomvrou”, en “Miljoen”, is in die FAK-sangbundel opgeneem.

Maree, Christa Steyn en Louis van Rensburg is in die samestellingsproses van die bundel dood.

Die FAK se Afrikaanse liedjietuin het ontstaan uit die behoefte om erkenning aan bekendes in die Afrikaanse musiekwêreld te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

John ·

Dit is waar, Victoria-baai is somber met ‘n angswekkende aura met wilde branders in die agtergrond: beide Heroldsbaai en Victoria. Talle verdrinkings deur die jare word gedenk en naamplaatjies pryk orals. Waarom ‘n begraafplaasatmosfeer skep vir vakansiegangers?

Therese van Schalkwyk ·

Hartseer dat Lucas Maree se treffende “Victoriabaai”-gedenkplaat uit hierdie gepaste omgewing verwyder moet word a.g.v. ‘n toestroming van ander.

Thomas ·

Juis die vakansie weer daar gewees. My as sal op daai punt in die see gestrooi word – dit staan so geskryf. Baie mense het saam my die naamplaatjies aandagtig staan en lees, en ek het niemand hoor kla nie. Soos ek, het hul seker ook gewonder oor elke persoon, en dalk soos ek, ‘n gebedjie opgedra aan hulle families. Lucas se plaatjie het my diep getref. Toe het ek omgedraai en weer in die branders gaan baljaar. ‘n Heerlike dag op Victoriabaai gewees!

Willie ·

Nonsens! ‘n Grafsteen of gedenkplaat skep geen somber atmosfeer nie. Eerder herdekking van plek of persoon se lewe. As Lucas nie “victoriabaai” gesing het, het min van ons geweeet vd plek. Kortsigtige besluit.
Baie dankbaar dat FAk hom Pta toe skuif. Ons sal sy lewe hier vier en koester,

As jy mý vra ·

As daar nou één gedenksteen is wat maar op Victoriabaai mág bly, dan dink ek dit is Lucas Maree s’n! Sy liedjie het immers te make met die plek en het bygedra tot Vicbaai se bekendheid.

Tammy ·

Ek is vies oor hierdie stap. Lucas verdien daardie plekkie!!!
Gaan al die ander gedekplate wat orals opskiet nou gestop word en die wat reeds geplaas is ook na ander gerespekteerde plekke verskuif word? Ek voel dis n vereiste , noudat die bal aan die rol is moet die families van geliefdes wat buite grespekteerde plekke wat spesiaal vir die doel van gedenkstene en gedenkplate uitgesit is hulle plig nakom en hulle deel doen om hul geliefdes ook te skuif!!!Die klaers moet nou die saak deurtrek asseblief aangesien julle daarmee begin het. Dis seker tog net regverdig.

Pietie ·

Indien Lucas se steen moet skuif Pretoria toe moet daar ‘n replika opgerig word by Victoriabaai. Dit is sy kliptroon, hy verdien dit met alle respek. Dit is ‘n kulturele bate.

Daan ·

Nee kyk, as daar niks is wat pla nie en niks is om oor te kla nie maak sekere mense iets om oor te kla wat pla! LOS LUCAS SE STEEN UIT!! Ek dink dis n pragtige huldeblyk aan n GROOT STER!

tollies ·

Al die plaatjies en kussies word verwyder wat daar op die rotse aangebring of neer gesit is

Mal mense ·

Daai lied met woorde; die WERÊLD IS MAL moet wees die MENSE IS MAL.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.