Lufthansa Technik se vlerke geknip

Argieffoto. (Foto: Gerrie van der Walt/Unsplash)

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het Lufthansa Technik (LTMI) se lisensie as goedgekeurde instandhoudingsorganisasie vroeër vandeesweek opgeskort.

Dié besluit is geneem ná ’n onlangse ongeskeduleerde hersiening van die instandhoudingsorganisasie wat Comair se vloot in stand hou, bevindinge gemaak het wat die organisasie nie bevredigend kon oplos nie.

Vier bevindings wat ’n onmiddellike risiko vir gebruikers van burgerlugvaartdienste inhou, is gedurende dié hersiening gemaak en moes aanvanklik binne 24 uur opgelos word.

LTMI kon egter slegs twee van die vier bevindings bevredigend oplos. Die organisasie se lisensie is gevolglik Maandagaand tydelik opgeskort terwyl daar van hom verwag is om binne 24 uur verdere bewyse aan die BLO voor te lê om die geïdentifiseerde gapings te vul.

Die operateur kon egter nie daarin slaag nie en daar is besluit om LTMI se lisensie onbepaald op te skort totdat hy met bevredigende bewyse vorendag kan kom.

Ingevolge die burgerlugvaartregulasies kan LTMI teen die opskorting van sy lisensie appelleer.

Maroela Media het vroeër berig Comair het intussen met SAL Tegnies (Saat) gereël om die instandhouding van sy vliegtuie te behartig.

Dié lugdiens bedryf weer die plaaslike British Airways en kulula.com ná die BLO aanvanklik sy bedryflisensie opgeskort het oor veiligheidsverwante kwessies, maar later die skorsing opgehef het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Wat gaan met die spul aan. Nou weer n burokraat by die BLO?

Colombo ·

Soos ek die Duitsers ken sal hulle agteroor buig om die sogenaamde agtergeblewenes in diens te neem.Dit het moontlik by Lufthansa Tegnies in SA gebeur,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.