Lugdiens se vlerke dalk tydelik geknip

‘n Vliegtuig van die lugredery Mango. (Foto: Elaine Krige)

Die laekostelugdiens Mango sal na verwagting alle bedrywighede vanaf 1 Mei vanjaar staak en tot Julie in sakeredding geplaas word weens ʼn tekort aan finansiering om krediteure te betaal.

Dít blyk uit interne kommunikasie van Mango wat Maroela Media ontvang het.

Volgens die dokument sou die lugdiens reeds in Januarie vanjaar geld wat aan krediteure verskuldig is, ontvang het en is daar ook met krediteure op dié uitsteldatum ooreengekom.

Mango het egter nooit die geld ontvang nie en het ná gesprekke met aandeelhouers gehoor dat hulle die geld eers in Februarie sou ontvang. Dit is uiteindelik tot Junie uitgestel.

Krediteure het die lugdiens voor ʼn ultimatum gestel: Indien hulle nie teen 30 April 2021 betaal word nie, mag geen vliegtuig in werking wees totdat die skuld gedelg is nie.

Daarom is Mango se raad en bestuur, asook die tydelike raad van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), Mango se moedermaatskappy, genoop om bedrywighede tydelik te staak. Luidens die dokument word daar nog op die reaksie van die departement van openbare ondernemings gewag.

“Dit is hier waar ons ons gedagtes en gevoelens moet vestig op Mango se oorlewing te midde van die huidige storm,” het William Ndlovu, Mango se uitvoerende direkteur, in die brief aan personeel gesê.

Maroela Media het ook onlangs verskeie klagtes oor Mango se diens ontvang.

“Hierdie tendens gaan al lank aan. Mense sit vir ure op die lughawe. Vergaderings, verhore en troues word bloot misgeloop weens hulle wanbestuur,” het Mariette Jansen van Vuuren, ʼn leser wat onlangs van Mango se diens gebruik gemaak het, gesê. Sy het bygevoeg dat die gehalte van die vliegtuig self ook nie op standaard was nie en dat haar armleuning onder meer stukkend was.

Mango het nog nie op Maroela Media se navrae reageer nie.

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Wayne ·

Skuld “gedelf” is nie ? Moet dalk wees ” gedelg ” is nie .
Drukkersduiwel

Megan Swart ·

Dagsê Wayne
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Androclus ·

Hulle kan maar sy vlerkies knip hy vlieg darem net te laag.

Stofdonkie ·

Indien hulle nie teen 30 April betaal nie mag hulle vliegtuie nie vlieg nie. Hoe gaan Mango dan betaal as hulle enigste besigheid stilstaan? Is dit net ek of dink nie krediteure soos anc parlementslede? Ek sou sê Mango moet kan vlieg sodat hulle die krediteure kan betaal. Wie is die krediteure wat so slim is? Is dit staatsinstellings? Ek voel net jammer vir die personeel wat gaan afgelê word as gevolg van ‘n raad wat aangestel is gebaseer op hulle velkleur en familie-konneksies in plaas van kundiges wat oordeelkundig met geld kan werk en besighede kan bestuur. Hierdie laat weereens ‘n groot spasie vir ‘n privaat maatskappy om hierdie dienste te lewer. Ten minste gaan hulle so paar Mango vliegtuie op veilings kan optel vir relatiewe winskope, dis nou as enige van die vliegtuie werklik nog kan vlieg.

Francois ·

So wat word nou van ons geld wat kaartjies vir Junie gekoop het. Gaan seker staatskoffers toe

My siening ·

Als wat aan die staat behoort is n gemors en n mislukking maar die belasting betalers moet betaal vir dom minister wat dom besluite neem.

Adri ·

Aggenee, nog ‘n slagoffer van onbevoegdheid. Is daar dan regtig niks wat hierdie mense suksesvol kan bedryf nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.