Lughawe-rooftogte: Polisie maak deurbraak

Argieffoto

Die Gautengse polisie het Vrydagaand ʼn groot deurbraak gemaak en verdagtes aangekeer wat moontlik betrokke is by ʼn vlaag voorvalle waar reisigers én toeriste van die OR Tambo-lughawe af agtervolg en beroof is.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het Saterdag gesê die deurbraak volg ná ʼn gesamentlike poging deur die polisie wat aan die lughawe verbonde is en polisiebeamptes van die Johannesburg-Oos-polisiëringsgebied.

“Die span het op inligting reageer en ʼn veiligheidsvoertuig, wat gekontrakteer is om by die lughawe te werk, gemonitor wat ʼn sedan van die lughawe af in die rigting van Sandton agtervolg het,” het Naidoo gesê.

“Beamptes het die veiligheidsvoertuig voorgekeer en besef een van die insittendes is ʼn veiligheidsmaatskappy se bestuurder wat gesoek is vir ʼn saak van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ʼn gewapende roof in Limpopo. Die maatskappy se bestuurder en nog ʼn insittende in die veiligheidsvoertuig is dadelik in hegtenis geneem,” het Naidoo gesê.

Die span het regdeur die aand gewerk en Saterdag in die vroeë oggendure nog vier verdagtes in die Hillbrow-omgewing in hegtenis geneem. Al ses verdagtes is tussen 23 en 38 jaar oud. ʼn Sewende verdagte kon daarin slaag om te ontsnap en is steeds soek.

“Die polisie het beslag gelê op verskeie inkriminerende bewyse, waaronder die veiligheidsvoertuig, paspoorte, minstens 15 selfone en bagasiesakke. Die span het ook beslag gelê op twee pistole. Die pistole sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in misdrywe gebruik is.”

Naidoo het gesê die moontlikheid word ondersoek of dié verdagtes verbind kan word met die voorval waar sewe toeriste Donderdagaand in Corletteweg van die lughawe af agtervolg en beroof is.

Maroela Media het Vrydag berig die groep van sewe buitelanders, almal mans, het pas teruggekeer van ʼn beraad in die Wes-Kaap en het van George na Johannesburg gevlieg. Die groep is van persoonlike items soos bagasie, juweliersware, kontant en elektroniese toestelle beroof. Een van die toeriste is tydens die voorval aangerand en beseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

piper ·

dit was nou n stukkie goeie werk. as alle gevalle so gou gedoen word het ek groot hoop vir die land. die howe se vonnisse moet net harder word

Jan ·

Ek moet erken dis goeie werk. Ek is egter die afgelope week deur 3 internasionale lughawens en om die eerlike waarheid te sê die situasie in SA is haglik. En moet vir geen oomblik dink die probleem is nou opgelos nie. Daar staan duisende gereed om die taak oor te neem en voort te sit.

Veritas ·

Na ons geagte mini- ster sy naam so toffie gemaak het, deur begrafnisgangers as bendelede uit te maak, is ek nie heeltemal so seker of ek dié storie moet glo nie. Dalk was dié span ook op pad om iemand te begrawe.

Ernstig ·

JAN ek stem 100% saam. ” Veiligheid ” is maar een van die begrippe wat behoorlik omskryf moet word, en dit geld vir alle sogenaamde V.besighede ook binne regerings instansies.

John ·

Deesdae moet mense op deeske aarde min bagasie dra (letterlik en figuurlik). Leen/huur die stokou selfoon van boetie en dra ou klere… en gaar tekkies. Kongresse moet dit as voetnota vir uitnodigings dra. Maak dit die in-ding. Voordragte kan ge-Cloud word vir later se donderweer en blikslae. Los die res by die huis of raak selfs daar van weelde-artikels ontslae. Lae profiel is die wagwoord. Grootdoenerigheid was nog altyd ‘n euwel.

BANG JAN SE VROU ·

John, jy is in die kol. Ons het pistole teen ons kop gehad, ons splinternuwe luukse motor gekaap en my juwele van my afgeneem. Nou gaan ek inkopies doen, ou tuinskoene, GEEN juwele, klere van 10 jaar gelede, en vra my dogter my hoekom gaan ek soos ‘n hulpbehoewende winkels toe. REGTIG? Tog seker voor die hand liggend inag genome sy weet wat met ons gebeur het!

BANG JAN SE VROU ·

Moet nie jou juwele vervang met namaaksels nie want netnou dink die diewe dis regtes en slaan jou kop inmekaar net om die “fakes” te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.