‘Lughawerowers’ slaan toe op Pta-gesin

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Gesin is Woensdagaand in Capital Park in Pretoria deur sogenaamde lughawerowers geteiken. Dié rowers agtervolg hul slagoffers van ʼn lughawe en slaan dan by hul eindbestemming op hulle toe.

Kapt. Bonginkosi Msimango, polisiewoordvoerder, het gesê die gesin, asook die bestuurder van hul huurmotor en dié se vrou, is omstreeks 22:30 in Malherbestraat oorval.

“Die gesin is by ʼn lughawe opgelaai en na hul huis geneem. Hulle het die hek en motorhuis met ʼn afstandbeheer oopgemaak en die huurmotor het in die motorhuis ingery,” het Msimango gesê.

Msimango het gesê ʼn wit motor, waarvan die fabrikaat onbekend is, het skielik agter die huurmotor ingetrek, waarna vier gewapende mans uitgespring en die mense in die motorhuis met vuurwapens aangehou en beroof het.

Die verdagtes het met drie sakke bagasie, ʼn selfoon, ʼn skootrekenaar en ʼn bedrag Amerikaanse dollar in die wit voertuig gevlug.

Niemand is tydens die voorval beseer nie en geen skote is afgevuur nie.

Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Jan ·

Ek het so ‘n dag of twee gelede gelees die rubriekskrywer noem Zuma ook ‘n rower.

Cherokee ·

Julle sê die rowers het die huismense met gewere aangehou maar wys ‘n argieffoto van ‘n pistool.

Ben ·

Vergeef maar die onkunde, maar hulle ken nie die verskil nie. Ek het al moed opgegee met mense reghelp , want hulle is dol gelukkig in hul onkunde en neem gewoonlik aanstoot as jy probeer help.

CHRISTA ·

‘n Paar maande gelede het ek ook by my erf ingery. In my truspieëltjie sien ek ‘n motor wat net voor my hek stilhou SONDER NOMMERPLATE! Die storie lyk vir my baie verdag, ek skakel nie my motor af nie. Ek sien aan die passesierskant ‘n gewapende man uitklim en na my motor aangehardloop kom. Ek plaas my motor in trurat en jaag in hulle motor in!!! Hulle motor se “air bags” ontpop (of wat jy dit ook al noem), hulle motor se alarm gaan af en dit maak ‘n babelse lawaai. Die rower wat my motor nader breek my venster met die agterkant van sy vuurwapen en skree: “Give me your rings”. Ek leun na die linkerkantse sitplek oor en skree net vir hom terug: “In the Name of Jesus Christ, go away Satan, go away”. Mense oorkant die pad hoor die kabaal en kom aangehardloop. Die skurk raak paniekbevange, hardloop terug na die motor toe en hulle jaag weg!!!

LB S ·

Mooi man, Christa, Hy het werklik sy hand oor jou gehou, dit kon so anders uitgedraai het.

Netta ·

Het dadelik ook so gedink, was self in die week by ORTambo en genader deur huurmotorbestuurder om van sy dienste gebruik te maak. Iets het my gewaarsku…

Swanna ·

Nie nety die huur motor bestuurder nie maar van die beamptes by die lughawe ook waar jy moet verklae en ondersoek word.

Venter ·

Die probleem is dat mens tipies nie jou wapen by jou kan hê as jy gevlieg het nie. As jy ‘n alarm maatskappy het is dit dalk ‘n plan om te reel dat die reaksie voertuig by jou huis wag.

Magda archer ·

Dit klink amper na dieselfde groep wat ons beroof het voor n gastehuis in waterkloof in oktober 2016. Wit polo 4 Gewapen het gaste uit afrika se bagasie ens geroof en weggejaag. Het dit by OR Tambo aangemeld? N groep is elke jaar die tyd besig op OR Tambo. 2015 was daar ook gevalle…

Uys ·

Dit is altyd raadsaam om eerder jou lughawe shuttle vooraf te bespreek met n vervoerdiens eerder as om n taxi by die lughawe te nader.
Ons gebruik altyd Campfire Safaris in Centurion
[email protected]

LB S ·

Ai mense, wat word tog van ons land, dat mens nou al moet planne beraam om veilig jou eie eiendom te kan betree!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.