Lugredery se vlerke vir soveelste keer geknip

CemAir (Foto: CemAir, Facebook)

Minder as ʼn maand nadat CemAir toestemming gekry het om sy bedrywighede te hervat, is die redery se bedryfsertifikate weereens opgeskort.

Dit volg nadat ʼn onlangse oudit getoon het CemAir kan nie bewyse van sy vloot se lugwaardigheid lewer nie.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO), sê die owerheid deel in beginsel nie ʼn chronologiese verduideliking van gebeure wat tot só ʼn besluit lei nie, maar sal in dié geval kortliks inligting verskaf oor die jongste gebeure om die verspreiding van valse inligting te voorkom.

Ledwaba verduidelik CemAir en die BLO het in Desember ʼn skikking bereik waarvolgens die BLO ʼn oudit sal doen met die oog daarop om die redery se bedryfsertifikate te hernu. Die oudit het 11 kwessies aan die lig gebring, waarvan vyf kwessies as Vlak 1 geklassifiseer is. CemAir het daarna ʼn regstellende aksieplan ingedien waarin uitgestippel word hoe hy beplan om dié kwessies aan te pak. Die BLO was egter nie tevrede met die aksieplan of enige ander hersiene weergawes wat daarna ingedien is nie.

Tussen 28 Desember en 11 Januarie het beamptes van die BLO die redery se bedrywighede besoek om bewyse te bekom en te verseker dat die lugwaardigheid-knelpunte na wense aangeraak is. Die BLO was egter weereens nie tevrede met wat hy hier gesien het nie, sê Ledwaba.

“Gedurende die oudit het dit ook onder die BLO se aandag gekom dat die vliegtuigvervaardiger ʼn assessering van CemAir se vliegtuiginstandhouding gedoen het en aan CemAir hul bevindinge en aanbevelings gegee het om die instandhouding van die redery se vloot weer op datum te kry. Dit is kommerwekkend dat die redery nie genoegsame bewyse kon voorsien dat hy dié aanbevelings volledig ingestel en toegepas het nie,” sê hy.

“Gegrond op die ouditbevindinge en die gevolglike bevestiging van mislukte sistemiese instandhouding, het dit duidelik geword dat CemAir ongetwyfeld nie in staat is om die voortgesette lugwaardigheid van sy volledige vloot te bewys nie.”

CemAir het nou ingevolge regulasies vir burgerlike lugvaart 30 dae kans om by die direkteur van burgerlike lugvaart appèl aan te teken indien hy nie met die BLO se besluit saamstem nie. Sy bedryfsertifikate sal egter steeds opgeskort bly totdat die appèlproses afgehandel is.

Twaalf van CemAir se vliegtuie se lugwaardigheidsertifikate is in Februarie verlede jaar opgehef. In Desember is die redery weer verbied om te vlieg oor veiligheidsgevare. Die opskorting van CemAir se bedryfsertifikate is op 19 Desember tydelik opgehef, maar dié groen lig was van korte duur.

“Soos met alle rederye is die BLO gewillig, in staat en gereed om CemAir te help voldoen aan die vereiste voorskrifte vir burgerlike lugvaart,” sê Ledwaba. “Die verantwoordelikheid om veilige lugvaartbedrywighede te verseker lê primêr by elke lisensiehouer. Die ‘vang my as julle kan-houding’ of neiging om eers te wag vir aanbevelings en bevindinge voor veiligheidsprobleme aangepak word, is gevaarlik en plaas baie lewens in gevaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Philip ·

Kan nie verstaan nie. As jy gevra word om jou huis in orde te kry sal jy dit mos doen. Hierdie lyk agterdogtig. SAL struikel so iemand word gebruik om die swartskaap te wees. In die geval Cemair.

Johan ·

Iemand het seker vergeet om die “fooie” te betaal vir die groen lig

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.