ʼn Lugredery uit Wes-Afrika wat verlede week ʼn pasiënt vervoer het wat die ebola-virus opgedoen het, het nou sy vlugte tussen Liberië en Sierra Leone opgeskort.
Asky Airlines het Dinsdag in ’n verklaring gesê dit is ʼn tydelike opskorting van vlugte tussen dié twee lande wat swaar getref is deur die uitbreking.
ʼn Man het verlede week van Monrovië, die hoofstad van Liberië, op een van Asky Airlines se vliegtuie na Lagos, Nigerië gereis. Hy is later in Nigerië oorlede aan die ebola-virus.
Nigerië is die vierde land in Afrika wat gevalle van ebola aangemeld het. Meer as 660 mense is reeds dood.
Liberië het intussen veiligheidsmaatreëls by sy lughawe opgeskerp, maar pasiënte is nie in daardie stadium ondersoek nie.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê die kans is skraal dat iemand deur ʼn mede-passasier met die ebola-virus besmet kan word, en het nie enige reisbeperkings voorgestel nie.
Ebola het nie ʼn teenmiddel nie en ongeveer 70% van mense wat dit kry, sterf.
Lees ook:
Vierde land meld Ebola-gevalle aan
Ebola-sterftes styg steeds
Ebola-sterftes nou meer as 140
Ebola-virus eis 121
Ebola-uitbreking bevestig