Lugredery wat ook SA bedien gebruik omstrede Boeing

(Argieffoto)

Comair, wat British Airways se binnelandse vlugte in Suid-Afrika bedryf, het Maandag gesê hy het geen planne om sy Boeing 737 Max 8-vliegtuie op die grond te hou nie.

Volgens Comair sal hy die onderskeie ondersoeke oor die Lion Air-vliegongeluk van verlede jaar en Sondag se Ethiopian Airlines-vliegongeluk monitor.

Comair het einde verlede maand die eerste van agt Boeing 737 MAX 8-vliegtuie op bestelling ontvang.

Wrenelle Stander, uitvoerende direkteur van Comair se lugdiensafdeling, het gesê die maatskappy is in noue kontak met Boeing en die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (Sacaa) ná afloop van Sondag se gebeure.

“Ons hoogsopgeleide en ervare personeel en ingenieurs bly waaksaam. As ons inligting ontvang wat ons [dwing om] die situasie te hersien, kan u verseker wees dat ons toepaslike stappe sal doen ter wille van die veiligheid van ons personeel en kliënte,” het Stander in ʼn verklaring gesê.

Die 737 MAX 8 is een van die mees gebruikte vliegtuie by talle lugrederye en teen November verlede jaar was daar 330 van dié vliegtuie reg oor die wêreld in gebruik, lui die verklaring.

Ethiopian Airlines het intussen tot die besluit gekom om al sy vlugte met Boeing 737 Max 8-vliegtuie as ʼn veiligheidsmaatreël voorlopig te staak.

Asrat Begashaw, woorvoerder van die lugredery, het Maandag gesê hoewel dit nog nie bekend is wat die ongeluk Sondag veroorsaak het nie, het die lugdiens besluit om die gebruik van die oorblywende vier 737 Max 8-vliegtuie tot verdere kennisgewing te staak. Ethiopian Airlines het ten tyde van die ongeluk vyf nuwe 737 Max 8-vliegtuie gebruik en op die aflewering van nog 25 gewag.

Die Karibiese lugredery Cayman Airways het ook tot dié besluit gekom en vlugte van twee van die vliegtuie gestaak. Cayman het sy eerste 737 Max 8-vliegtuig in November verlede jaar en sy tweede vandeesmaand ontvang.

Dít volg nadat die Chinese burgerlugvaartadministrasie reeds ná Sondag se ongeluk alle Chinese lugrederye aangesê het om sy vlugte met dié omstrede vliegtuig liefs op die grond te hou.

Die Midde-Oosterse begrotingslugredery FlyDubai het egter gesê dat hy tans in kontak is met Boeing met betrekking tot sy 737 Max 8-vliegtuie en vertroue in dié model het.

FlyDubai bedryf 11 Boeing 737 MAX-8- en twee Boeing MAX-9-vliegtuie. Die lugdiens het Maandag gesê dat hy in ʼn proses was “om die regte vliegtuig vir sy bedrywighede te kies en het kennis geneem dat dié model aan alle regulasies voldoen”.

Maroela Media het vroeër berig ’n vliegtuig van Ethiopian Airlines met 157 mense aan boord het Sondagoggend geval kort nadat dit opgestyg het in Addis Abeba op pad na Nairobi.

Die lugredery het in ʼn verklaring gesê 149 passasiers en agt bemanningslede was aan boord van die Boeing 737 toe dit neergestort het ses minute nadat dit opgestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Spike ·

Hoe kan die mense boeing se eie waarskuwing ignoreer wanneer hulle sê die vliegtuie se probleem is dat hulle neus eerste grond toe duik

Anoniem ·

Maar SA sal nou eers wag tot nog 1 val ! As voorsorg maatreël hou ALMAL eers op die GROND Burgerlugvaart neem kennis asb en wag tot die uitslag van die jongste ongeluk bekend IS ! Sterkte ✈

Renchia ·

Dit is baie hartseer wat gebeur het. In dieselfde asem, Comair, self het ek al vele kere met julle gevlieg, binnelands, buitelands en julle was nog altyd baie goed.
Ek hoop egter net julle “ervare personeel” word nie later bewys as ‘n SAA geval wat 20jr al vlieg sonder die nodige lisensies? Hoekom nie maar die een vliegtuig terugtrek en steeds die res gebruik wat bewys nie probleme lewer nie? Voertuie word in honderde duisende teruggetrek sou ‘n probleem hom voordoen, die fout word herstel en jy ry weer jare met jou voertuig. Ja, almal het sy beplaalde sterfdag en niemand sal verby sy dag beweeg nie, vliegtuie trek net soveel meer aandag omdat soveel mense op een slag sterf, meeste kere nie ‘n oorlewende nie. Genade, hoekom nie maar eers wag met die vliegtuig en kyk wat word opgelewer nie? Is julle SO agter die geld van passasiers aan?

Kan SA regtig nog so skandaal bekostig met alles wat reeds fout gaan in die land en miljarde Rande reeds uit reeds bloeiende klippe (belastingbetalers) probeer tap?

Anoniem ·

Renchia ! GOED gestel ! Vertel hulle nog dinge wat hulle nie weet nie ?????

Renchia ·

Ag my genade tog… Comair, ek was bevoorreg genoeg om heelwat kere met julle gevlieg, binnelands sowel as buitelands. Sal julle egter nou omkom en bankrot speel as julle EEN vliegtuig op die grond hou terwyl veiligheids toetse gedoen word? Die ware oorsaak bepaal word, herstel word en dan weer in gebruik te neem? Duisende voertuie word op ‘n slag teruggetrek, potensiële foute nagegaan en herstel en voila – niemand kraai ‘n haan nie. Is julle sowaar nou SO agter geld aan dat julle “hoogs ervare personeel” kan waarborg dit sal nie hier ook kan gebeur nie? Kyk net na SAA, 20jr kul jy steeds en niemand vermoed iets nie, so verskoon maar as die “hoogs ervare personeel” nou nie vreeslik vertroue inboesem nie.

Dis waar, jy het jou sterfdag, en jy sal nie verby jou strepie kan beweeg nie. Vliegtuie is net heelwat “erger” aangesien soveel mense op een slag sterf. Kan SA regtig nou nog so skandaal bekostig met alles wat reeds fout is in die land? Waarom nie maar net een vliegtuig op die grond hou tot die ware oorsaak vasgestel is — en herstel is en dan weer aangaan nie? Hoeveel bloed wil julle nog tap uit reeds bloeiende klippe (belastingbetalers)?

Karla ·

Beteken dit dat alle vlugte vanaf Johannesburg na Addis Abeba vir eers gestaak word, of sal Ethiopian Airlines intussen ander vliegtuie gebruik in die plek van dié wat onttrek word?

B ·

Dit is dalk meer van ‘n ‘opleidings-gaping’ oor hoe om die MCAS te interpreteer en te bestuur, as wat die 737 ‘onveilig’ is.

SA vlieniers weet hoe :)

Callie van der Merwe ·

Die probleem is die feit dat die vlieeniers nie weet hoe om Mcas te bestuur nie. Dis n nuwe stelsel wat in die Max 8 en 9 gebruik word om n stol te keer. Probleem is egter dat die stesel foutief aktiveer en die vliegtuig neus afdwing om spoed optetel. Fataal as jy naby die grond is want jou reaksie tyd is beperk. Die Boeing handleiding gee ook nie genoeg inligting nie. Gevaarlike situasie en ek is bevrees nie die laaste as lugrederye eers wag en kyk nie.

Naas Vermaak ·

Het sopas meer as ‘n uur gelees aan “posts” op ‘n vlieeniersforum(internasionaal) oor bg ge-val-le…maak my heelwat meer ongerus vir toekomstige vlieery as wat ek was – Callie is reg en boonop vat die “overriding measures” te lank…. Die 737’s se raam, hoewel redelik veilig, is blykbaar outyds in vergelyking met al die nuwe tegnologie en ander ontwikkelings wat toegevoeg word….soos om ‘n 1980 mercedes se bakwerk te gebruik nou met nuwe enjins ens ens….als goed wat ek daar gelees het….moet my nie skiet nie…..

Anoniem ·

Indien daardie vliegtuig wat Comair nie wil ‘ground’ nie – omdat hulle te trots is – OP my huis val sal Julle nie genoeg geld hê om ons te vergoed nie ! DIT sal die EIS van hierdie EEU WEES ! Die vliegtuig vlieg weekliks oor ONS ! WORD NET WAKKER C O M A I R ?????

marieta ·

ons bly ook onder die landing of opstuigroete by Kaapstad internasionaal… en wonder wat is ons regte met die risiko vliegtuie….party klink maar heel siek as hulle hier oorgaan…

Callie van der Merwe ·

Ai anoniem ontspan. Tydens jou skrywe het hul reeds die vliegtuig ontrek van gebruik. Weet nie waar jy bly nie en hoe jy weet as hy oor jou vlieg nie maar dis waarskynlik n paar keer per dag en nie weekliks nie. Gister het daardie vliegtuig 2 retoer vlugte Jhb – Kaapstad gedoen en n 3de vlug tot in die Kaap gedoen toe die besluit geneem is. Ontspan hy is nou op die grond. Die Max se enjins sit effens vorentoe op die vlerk omdat hulle groter is as die vorige enjins wat gebruik was. Dit veroorsaak dat die vliegtuig van nature “nose up” wil vlieg. Mcas is n sisteem wat daarvoor kompenseer. Die probleem is dat die stesel foutiewelik inskakel sodra die “angle of attack” wat wind oor die vlerke beteken gemeet word. Die stelsel bereken n stol en forseer die neus af om spoed te kry! Eenvoudige aksie kan die stelsel afskakel maar vlieeniers word nie oogelei daarin nie. Dit is n probleem! As jy met n stelsel naby die grond begin stoei oor beheer het jy nie tyd nie! Seker die regte besluite sal geneem word. Jammer 2 moes val voor ons hier gekom het! Hoop dit help!

Anoniem ·

Dankie vir daardie inligting, Callie van der Merwe

Wysheid is Wonderlik – Dankie Comair

Boer ·

Daar is n app wat jy op jou foon aflaai wat jy enige vliegtuig in SA se lugruim se vlug nommer mee kan sien. Dis ongelooflike tegnologie wat beskikbaar is vir almal. Wonderlik om die hoeveelheid vliegtuie wat naby jou vlieg te identifiseer. Jy kan selfs sien waarna die vlug is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.