Lugredery wat ook SA bedien gebruik omstrede Boeing

(Argieffoto)

Comair, wat British Airways se binnelandse vlugte in Suid-Afrika bedryf, het Maandag gesê hy het geen planne om sy Boeing 737 Max 8-vliegtuie op die grond te hou nie.

Volgens Comair sal hy die onderskeie ondersoeke oor die Lion Air-vliegongeluk van verlede jaar en Sondag se Ethiopian Airlines-vliegongeluk monitor.

Comair het einde verlede maand die eerste van agt Boeing 737 MAX 8-vliegtuie op bestelling ontvang.

Wrenelle Stander, uitvoerende direkteur van Comair se lugdiensafdeling, het gesê die maatskappy is in noue kontak met Boeing en die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid (Sacaa) ná afloop van Sondag se gebeure.

“Ons hoogsopgeleide en ervare personeel en ingenieurs bly waaksaam. As ons inligting ontvang wat ons [dwing om] die situasie te hersien, kan u verseker wees dat ons toepaslike stappe sal doen ter wille van die veiligheid van ons personeel en kliënte,” het Stander in ʼn verklaring gesê.

Die 737 MAX 8 is een van die mees gebruikte vliegtuie by talle lugrederye en teen November verlede jaar was daar 330 van dié vliegtuie reg oor die wêreld in gebruik, lui die verklaring.

Ethiopian Airlines het intussen tot die besluit gekom om al sy vlugte met Boeing 737 Max 8-vliegtuie as ʼn veiligheidsmaatreël voorlopig te staak.

Asrat Begashaw, woorvoerder van die lugredery, het Maandag gesê hoewel dit nog nie bekend is wat die ongeluk Sondag veroorsaak het nie, het die lugdiens besluit om die gebruik van die oorblywende vier 737 Max 8-vliegtuie tot verdere kennisgewing te staak. Ethiopian Airlines het ten tyde van die ongeluk vyf nuwe 737 Max 8-vliegtuie gebruik en op die aflewering van nog 25 gewag.

Die Karibiese lugredery Cayman Airways het ook tot dié besluit gekom en vlugte van twee van die vliegtuie gestaak. Cayman het sy eerste 737 Max 8-vliegtuig in November verlede jaar en sy tweede vandeesmaand ontvang.

Dít volg nadat die Chinese burgerlugvaartadministrasie reeds ná Sondag se ongeluk alle Chinese lugrederye aangesê het om sy vlugte met dié omstrede vliegtuig liefs op die grond te hou.

Die Midde-Oosterse begrotingslugredery FlyDubai het egter gesê dat hy tans in kontak is met Boeing met betrekking tot sy 737 Max 8-vliegtuie en vertroue in dié model het.

FlyDubai bedryf 11 Boeing 737 MAX-8- en twee Boeing MAX-9-vliegtuie. Die lugdiens het Maandag gesê dat hy in ʼn proses was “om die regte vliegtuig vir sy bedrywighede te kies en het kennis geneem dat dié model aan alle regulasies voldoen”.

Maroela Media het vroeër berig ’n vliegtuig van Ethiopian Airlines met 157 mense aan boord het Sondagoggend geval kort nadat dit opgestyg het in Addis Abeba op pad na Nairobi.

Die lugredery het in ʼn verklaring gesê 149 passasiers en agt bemanningslede was aan boord van die Boeing 737 toe dit neergestort het ses minute nadat dit opgestyg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Gertryda

Ek glo dit was sabotasie in Ethopie

Spike

Hoe kan die mense boeing se eie waarskuwing ignoreer wanneer hulle sê die vliegtuie se probleem is dat hulle neus eerste grond toe duik

Anoniem

Maar SA sal nou eers wag tot nog 1 val ! As voorsorg maatreël hou ALMAL eers op die GROND Burgerlugvaart neem kennis asb en wag tot die uitslag van die jongste ongeluk bekend IS ! Sterkte ✈

Renchia

Dit is baie hartseer wat gebeur het. In dieselfde asem, Comair, self het ek al vele kere met julle gevlieg, binnelands, buitelands en julle was nog altyd baie goed. Ek hoop egter net julle “ervare personeel” word nie later bewys as ‘n SAA geval wat 20jr al vlieg sonder die nodige lisensies? Hoekom nie maar die een vliegtuig terugtrek en steeds die res gebruik wat bewys nie probleme lewer nie? Voertuie word in honderde duisende teruggetrek sou ‘n probleem hom voordoen, die fout word herstel en jy ry weer jare met jou voertuig. Ja, almal het sy beplaalde sterfdag en… Lees meer »

Renchia

Ag my genade tog… Comair, ek was bevoorreg genoeg om heelwat kere met julle gevlieg, binnelands sowel as buitelands. Sal julle egter nou omkom en bankrot speel as julle EEN vliegtuig op die grond hou terwyl veiligheids toetse gedoen word? Die ware oorsaak bepaal word, herstel word en dan weer in gebruik te neem? Duisende voertuie word op ‘n slag teruggetrek, potensiële foute nagegaan en herstel en voila – niemand kraai ‘n haan nie. Is julle sowaar nou SO agter geld aan dat julle “hoogs ervare personeel” kan waarborg dit sal nie hier ook kan gebeur nie? Kyk net na… Lees meer »