Lugvaartbedryf pleit by Ramaphosa om grense te heropen

(Argieffot: Michael Probst/AP)

Die lugvaartbedryf het weereens ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om internasionale grense oop te stel en die ekonomie weer op dreef te begin kry.

Ramaphosa spreek Suid-Afrika Woensdag toe en gaan na verwagting ʼn afwenteling na vlak 1 van die afsondering en verdere verslappings aan die regulasies te midde van dalende Covid-19-getalle aankondig.

Die Raad van Lugrederyverteenwoordigers (Barsa), wat buitelandse rederye verteenwoordig, asook die Lugrederyvereniging van Suidelike Afrika (Aasa), wat plaaslike en streekslugdienste verteenwoordig, het Woensdag gewaarsku meer as die helfte van die 472 000 Suid-Afrikaanse werksgeleenthede in die lugvaart- en toerismebedryf en verwante sektore kan verlore gaan as die landsgrense gesluit bly.

“Ons het die infeksiekurwe van Covid-19 suksesvol afgeplat en ons is gereed om die ooreengekome internasionale maatreëls in werking te stel om internasionale lugreis te hervat ,” het Zuks Ramasia, uitvoerende hoof van Barsa, gesê.

“Noudat ons lewens gered het, is dit tyd om werksgeleenthede te red.”

Ramasia sê lugreis en toerisme dra sowat 3,2% tot die bruto binnelandse produk (BBP) by en die heropening van die grense is uiters belangrik om die ekonomie weer op die herstelpad te kry en toekomstige groei te verseker.

“Ons moet wys dat Suid-Afrika oop en veilig vir sake- en ontspanningsreise is. As ons nie mense weer laat vlieg nie, gaan die ekonomie erg gepootjie word.”

Chris Zweigenthal, uitvoerende hoof van Aasa, sê nagenoeg 270 000 werksgeleenthede kan in die slag bly as die situasie voortduur.

“Die gebrek aan internasionale vlugte raak die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van ons lughawens, lugvaartnavigasie en lugruimbestuur, asook meteorologiese en lugvaartveiligheidsoorsiginfrastruktuurdienste en sakeondernemings van verskillende groottes regdeur die waardeketting regstreeks,” het Zweigenthal gesê.

“Sonder vlugte en passasiers is daar geen inkomste nie. Dit beteken geen werk, geen besteding in die plaaslike ekonomie nie en ʼn selfs groter tekort in belastinginkomste wat die regering in staat stel om die werklike en spreekwoordelike ligte aan te hou.

“Mnr. President, open die grense en bemagtig amptenare om die nodige hulpbronne in te span sodat ons kan begin werk en kan bydra tot die herstel van die ekonomie voor die skade permanent is.”

Luidens berigte is die hervat van internasionale vlugte en die heropening van grense een van die items op Ramaphosa se sakelys wanneer hy vanaand die land toespreek. Daar is egter steeds vrese dat ʼn tweede vlaag Covid-19-infeksies Suid-Afrika kan tref as die landsgrense vir massas internasionale toeriste oopgegooi word.

Sou die grense oopgestel word, sal dit glo met streng visumbepalings gedoen word.

Onder leiding van die Burgerlugvaartowerheid (BLO) en die departement van gesondheid geld streng biosekerheidsmaatreëls en bedryfsprosedures vir plaaslike vlugte reeds. Die maatreëls is gegrond op internasionale riglyne. Die maatreëls kan ook vir internasionale reise aangepas word.

“Die protokolle verwyder die noodsaak vir kwarantyn wat, soos ons in ander markte gesien het, mense ontmoedig om te reis. Daar is boonop geen kwarantynbepalings vir mense wat tussen infeksiebrandpunte in Suid-Afrika reis nie,” het Zweigenthal gesê.

Ramasia sê anders as ander maniere van vervoer, word die lugvaartbedryf streng gereguleer en daar moet nou op die stelsel wat reeds geld, staatgemaak word.

“Dit beteken nie passasiers moenie verantwoordelik optree nie. Gesigmaskers moet gedra word, hande moet gereeld ontsmet word en sosiale afstandhandhawing moet geld. As jy siek voel, moenie eens lughawe toe gaan nie,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Persheks Adri ·

Die skade is reeds daar as gevolg van die ANC! Hoop hulle besef hoe alles in mekaar “vleg” anders werk sweet blow niks nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.