Lugvaartgemeenskap rou ná vliegongeluk ‘legende’ eis

Kapt. Glen Warden is die afgelope naweek in ‘n vliegongeluk in Gauteng dood. (Foto: Athol Franz/Facebook)

ʼn Offisier en ʼn ware heer.

Só word kapt. Glen “Gringo” Warden beskryf in een van die tientalle boodskappe van medelye en huldeblyke wat sedert sy dood in ʼn vliegongeluk die afgelope naweek ingestroom het.

Maroela Media het vroeër berig Warden is Saterdagoggend in Syferfontein in Westonaria aan Gauteng se Wes-Rand dood.

Die vliegtuig het in ʼn veld naby ʼn vliegveld neergestort.

Warden is ʼn voormalige vegvlieënier van die Suid-Afrikaanse lugmag en het hom later by Comair aangesluit waar hy onder meer opleiding op Boeing 737’s gegee het. Hy het meer as 14 000 vliegure agter die blad gehad en was ʼn aktiewe lid van die Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum se span vlieëniers.

Warden was ook ʼn stralerinstrukteur en gevorderde kunsvliegvlieënier wat Suid-Afrika al by die Wêreld- gevorderde kunsvliegkampioenskap verteenwoordig het.

Die Goodyear Eagles het in ʼn boodskap op Facebook geskryf hulle is “platgeslaan deur die verlies van hul spanleier en goeie vriend”.

Warden is beskryf as ʼn professionele vlieënier en ʼn ikoon in die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf wat talle lewens met sy verstommende kunsvliegvertonings geraak het.

Warden was ook ‘n bekende in kunsvliegkringe. Tientalle boodskappe van medelye het na sy dood ingestroom. (Foto: Goodyear Eagles/Facebook)

“Glen was langer as 20 jaar by die span betrokke en het as formasieleier gevlieg en solovertonings in ons L29-straler gedoen.”

Athol Franz, redakteur van African Pilot, het Warden as ʼn “man onder manne en een van die mees verantwoordelike vlieëniers wat ek nog ooit geken het”, bestempel.

“Ek het in afgryse toegekyk hoe jou laaste maneuver verskriklik skeefgeloop het en jy nie betyds uit ʼn dodelike duik kon optrek nie.”

Franz het Warden se familie en vriende sterkte toegewens en sê Warden was bykans sy hele lewe lank deel van die Suid-Afrikaanse lugvaartbedryf.

Ander gebruikers het sy dood ʼn “hartseer dag” vir die plaaslike lugvaartbedryf genoem.

“ʼn Heer met ʼn groot hart. Jy gaan diep gemis word,” skryf nog ʼn vriend.

Warden was ‘n uiters ervare vlieënier. (Foto: Twitter)

Ook uit ander wêrelddele is medelye betuig. “ʼn Lugvaartlegende te gou weg,” skryf World Airnews Magazine.

Warden se vrou, Louise, is in 2011 in ʼn vliegongeluk dood toe twee Albatross-vliegtuie ná ʼn lugskou op Tzaneen teen ʼn berg in die Lekgalametsevallei vasgevlieg het. Altesame 13 mense aan boord van die twee vliegtuie het omgekom.

Maroela Media het ʼn navraag oor die voorval aan die Burgerlugvaartowerheid gestuur en wag op terugvoer oor vordering met die ondersoek na Warden se dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shakespeare ·

Een troos. Hy het gesterf terwyl hy sy passie uitgeleef het.
Innige medelye aan sy naasbestaandes. Hy was ‘n ikoon.

Eric ·

Hartseer verhaal en goeie man verloor uit die lugrederye. Al my medelye aan naasbestaandes

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Hartseer…….tog het hy gesterf besig om dit te doen waarvoor hy lief was. Mens vergeet maar alte maklik hoe gevaarlik vlieg eintlik is. My Pa wat self vir lank ñ vlieenier was, het eenkeer gesê, hy staan in verwondering as hy opkyk na die lug en na voëls kyk, hoe hulle vlieg en sweef en dan die wonderwerk, dat die mens dieselfde kan doen met ñ vliegmasjien. Mens wonder altyd maar wat het fout gegaan want met al daai vliegure en ervaring, kon dit nie dalk verhoed gewees het nie? Maar niemand sal ooit weet wat regtig fout gegaan het of wat in daai sterwens moment gebeur het nie. R.I. V.

SjN ·

Innige simpatie aan sy geliefdes, gelewe en gesterf vir dit waarvoor hy lief was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.