Lugvaartgemeenskap rou oor vier se dood

Roy Coates was een van die vier slagoffers wat in die voorval gesterf het. (Foto: Facebook)

Tientalle boodskappe van medelye uit die lugvaartgemeenskap het ingestroom nadat vier mense dood is toe twee vliegtuie Maandag in Gauteng in die lug teen mekaar gebots het.

Die twee Cessna’s, elk met ʼn vlieënier en instrukteur aan boord, het in die omgewing van Grasmere gebots. Die vlieëniers was glo besig met nagvlugopleiding.

Ian Stevens het die dood van twee van sy bemanningslede namens die Central Flying Academy (CFASA) in ʼn verklaring bevestig.

Volgens Stevens sou berading Woensdag aan enige van die vliegskool se studente, werkers of vriende van die slagoffers gegee word.

“Ons vra dat die privaatheid van die familie en vriende [van die oorledenes] in hierdie uiters moeilike tyd gerespekteer word. Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) is besig met die ondersoek en meer inligting sal bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is,” het Stevens gesê.

Stanton Lee Murray. (Foto: Facebook)

Twee van die slagoffers is intussen geïdentifiseer as Roy Coates en Stanton Lee Murray.

“Ek kan nie regtig glo jy is weg nie… Vlieg hoog, spesiale vriend,” het Erin de Kock op Facebook vir Coates, verbonde aan CFASA, geskryf.

“Daar is nie woorde vir hierdie skoknuus nie. ʼn Pragtige siel wat te gou weggeneem is,” het Wendy Clayphan aan Stanton se familie geskryf.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, het Woensdag gesê ʼn voorlopige ondersoekverslag sal eers na minstens 30 dae beskikbaar gestel word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jana ·

Dit is verskriklik. Sterkte vir die vriende en familie van die oorledenes.

Esme ·

Dit is so hartseer – vlugopleiding kan so vinnig in ‘n nagmerrie ontaard. Ons innige simpatie aan familie en vriende van die oorledenes. Ons dra julle in liefde en gebed.

Vlooitjie ·

Die hartseer moet oorweldigend wees. Innige simpatie aan die families en vriende wat agterbly. Dis baie seer nuus.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.