Lugwoede bereik dalk nuwe hoogtes

Foto ter illustrasie (Foto: Facebook)

Geskryf deur: Linette Retief

Lisa*, ʼn lugwaardin vir ʼn plaaslike lugredery met plaaslike én internasionale ervaring wat oor dekades heen strek, het onlangs die soort vlug beleef wat selfs die mees deurwinterde kajuitpersoneel vrees.

Met die intrapslag het ʼn problematiese passasier beweer die masker waarmee hy aan boord gekom het, is te klein en terstond geweier om dit te dra. Toe Lisa se medelugwaardin hom daarop wys dat dit verpligtend is, het hy haar ten aanhore van al die passasiers van rassisme beskuldig en ʼn paar vierletter-beledigings toegesnou. In die proses het hy nie net die kajuitpersoneel beproef nie; hy het almal rondom hom getraumatiseer met sy ongebreidelde verbale aggressie.

Lisa se ervaring is egter nie ʼn geïsoleerde voorval nie. Hierdie soort aanboord-aggressie, ook bekend as lugwoede, is deel van ʼn wêreldwye verskynsel wat letterlik en figuurlik nuwe hoogtes bereik.

CNN het in Augustus berig oor ʼn passasier wat ʼn lugwaardin met die vuis geslaan en twee van haar tande uitgeslaan het. In ʼn ander voorval is ʼn passasier aan sy stoel vasgeplak nadat hy die lugwaardin geslaan en bevoel het.

Die Federale Lugvaartadministrasie (FAA) in Amerika het boonop in 2021 boetes van meer as $1 miljoen aan ongedurige vliegtuigpassasiers uitgereik. Dit verteenwoordig 5 033 voorvalle op vliegtuie, waarvan die meeste met die dra van maskers te doen het.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn passasier van ʼn vliegtuig in Florida afgejaag is nadat hy daarop aangedring het om ʼn rooi deurtrekker as masker op die vlug te dra.

Adam Jenne wou vlieg met dié rooi stukkie lap oor sy gesig. (Foto: Skermgreep/ Twitter)

Dit blyk wel dat dié soort voorvalle minder gereeld op plaaslike vlak voorkom.

Kirby Gordon, FlySafair se hoofbemarkingsbestuurder, sê die redery het enkele voorvalle op rekord van passasiers wat geweier het om maskers te dra en wat gevolglik by die terminaal afgelaai is. “Afgesien van ons eie voorsorgmaatreëls, word ons ondersteun deur plaaslike lugvaartregulasies wat die dra van maskers tydens vlugte verpligtend maak. Passasiers wat weier, sal aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens uitgelewer word,” maan Gordon.

Volgens Desmond O’Connor, handelshoof van kulula.com, het die redery tot dusver nie ʼn toename in aanboord-aggressie van passasiers ervaar nie.  “Om eerlik te wees, sien ons die teendeel; passasiers is baie kalmer, veral wanneer dit kom by die nuwe landingsprosedures wat beteken slegs twee rye op ʼn slag kan die vliegtuig verlaat,” sê hy.

Lang geskiedenis

Die eerste aangetekende lugwoede-voorval het in 1947 plaasgevind op ʼn vlug vanaf Havana na Miami waartydens ʼn besope passasier ʼn medepassasier en ʼn lugwaardin te lyf gegaan het. In daardie stadium was daar geen voorsorgmaatreëls of wetgewing nie, wat beteken oortreders het meestal skotvry van hul aanboord-vergrype afgekom – totdat die Tokio Konvensie in 1963 ingestel is om die veiligheid van vliegtuie en die mense aan boord te beskerm, asook om orde en dissipline te handhaaf.

Verskeie oorsake

Oorsake van lugwoede van toeka tot nou dek die spektrum van vlugvoosheid (jet lag) en vertraagde vlugte tot vrees vir vlieg, oorgewig handbagasie wat ander passasiers se ruimte kaap en die oormatige inname van alkohol en/of medikasie.

Onlangse navorsing dui daarop dat lugwoede ook met fisieke en situasiegebonde ongelykheid kan verband hou. Katherine A DeCelle, ʼn professor van organisatoriese gedrag aan die Universiteit van Toronto, en Michael I Norton, ʼn professor van besigheidsadministrasie aan Harvard Universiteit, het bevind die sigbare ongelykheid tussen eerste, besigheids- en ekonomiese klas kan bydra tot ʼn toename in lugwoede-voorvalle.

Les bes dui ʼn studie uit Australië daarop dat groepe wat saam na partytjiebestemmings of sportgeleenthede vlieg, eweneens ʼn hoër risiko van lugwoede-uitbarstings inhou, terwyl passasiers wat vir sake reis, hulle heelwat meer bedees gedra.

Die laaste woord van die hoogste gesag

Argieffoto. (Foto: Gerrie van der Walt/Unsplash)

Terwyl rederye hul eie maatreëls toepas, het die Suid-Afrikaanse Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) die laaste woord ingevolge die Wet op Burgerlugvaart wat oortredings in hierdie verband, asook die regsgevolge daarvan – van boetes tot tronkstraf – duidelik uiteensit.

Die liggaam se mandaat behels omvattende riglyne vir bevelvoerders van vliegtuie om die veiligheid van vliegtuie en passasiers tydens vlugte te beskerm en orde en dissipline te handhaaf. Dit sluit in die toepassing van dwangmaatreëls en die uitlewering van problematiese passasiers aan die relevante owerhede, hetsy plaaslike polisie- of immigrasie-beamptes.

Luvuyou Gqeke, die BLO se bestuurder van lugvaartveiligheid, wys daarop dat rederye en lughawens in samewerking met wetstoepassingsliggame gereeld hul veiligheidsmaatreëls in heroënskou neem en dié reëlings op grond van risiko-assesserings sal verskerp indien nodig. “In ooreenstemming met die relevante tendense sal die BLO self van tyd tot tyd nuwe regulasies bekendstel om die veiligheid en sekuriteit van passasiers en personeel te verbeter,” sê hy.

  • Lisa se identiteit word op haar versoek weerhou.

2020 se laagtepunte in die lugruim

  • ʼn Middeljarige man het dit in Desember verlede jaar op die een of ander manier reggekry om die sekuriteit op McCarran Internasionale Lughawe in Las Vegas te ontduik, die aanloopbaan te betree en op die vlerk van ʼn Alaska Airline-vliegtuig te klim waar hy 45 minute lank vertoef het voordat hy terug op die aanloopbaan geval het.
  • Op ʼn United Express-vlug van Jacksonville na Houston in Amerika het ʼn besope vrou ná ʼn onderonsie met ʼn ander passasier tot by haar onderklere ontklee. Voordat sy verder kon gaan, het die vliegtuig gelukkig ʼn noodlanding in Mobile, Alabama, uitgevoer.
  • ʼn TikTok-gebruiker het ʼn video geplaas van ʼn passasier wat haar lang blonde hare agter oor haar sitplek – en die TikTokker se aanboord-TV-skerm – laat hang het. Hy het toe ʼn stuk kougom en ʼn suigstokkie aan die blonde haredos vasgeplak, ʼn stuk daarvan met ʼn naelknipper afgesny en dit in ʼn koffiebeker gedompel.
  • ʼn Passasier van American Airlines het op ʼn vlug van Orlando na Philadelphia oor sitplekke begin klim en vir ander passasiers gevra: “Waar is my valskerm?” Sy inhegtenisneming het hom vinnig teruggebring aarde toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.