Luiperd in tent het toe aptyt vir plakkies

‘n Gesin se plakkies nadat ‘n luiperd in Botswana dit beetgehad het. (Foto: Verskaf)

ʼn Suid-Afrikaanse gesin het hulle morsdood geskrik toe ʼn luiperd in die nag by hul tent insluip en hul plakkies begin vreet.

Andre Grové het tydens die September-vakansie saam met sy vrou en twee kinders in die Kgalagadi Gemsbok Park aan Botswana se kant gekamp. “Ek en my seun Piet (12) het die laaste aand in die tent lê en slaap toe ons ʼn geluid hoor soos iets wat aan die tent kou. Ons dog eers dis ʼn jakkals, maar toe ek my soeklig op die dier skyn, toe sien ek dis ʼn luiperd.”

Die tent was bo-oor die sleepwa opgeslaan en Andre en sy seun het bo-op die sleepwa geslaap. Die luiperd het gelukkig ʼn groter aptyt vir die gesin se plakkies gehad en Grové en sy seun kon daarin slaag om by die agterkant van die tent uit te sluip. “Dis lekker om nou daaroor te lag, maar ons het groot geskrik. Jy weet óf jy óf die dier moet uit.”

Grové se vrou, Marinka, en tienjarige dogter Mieke het reeds in die bakkie geslaap juis omdat hulle skrikkerig was nadat hulle ʼn luiperd die vorige aand naby die kamp opgemerk het.

‘n Luiperd kruip uit ‘n tent in Botswana. (Foto: Verskaf)

Die luiperd het nes ʼn agterstallige huurder geweier om sy nuwe slaapplek te ontruim en die gesin moes die park se personeel ontbied om hom te verwyder. Hy is toe uiteindelik die Maandagoggend teen 08:30 uit die tent gejaag.

“Die snaakste van alles is dat hy niks van die kos in die tent gevreet het nie, maar al ons plakkies is flenters. Miskien het hy tandpyn gehad,” lag Grové. “Gelukkig was dit die laaste aand wat ons daar gekamp het, anders het ons al vier die volgende aand in die bakkie geslaap!”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Liza ·

Wat ‘n belewenis! Party mense sien nooit eers ‘n luiperd nie, wat nog dat hy vir jou kom kuier in jou tent!

Helena ·

My Malinois hond het net so voorliefde vir plakkies, mens kan nie waag om dit buite te los nie, dan is dit geknaag. Ek wonder wat is so lekker daaraan???

Francois le Cohon ·

Dis hoekom ek altyd 11 onderbroeke saamneem as ek vir 10 dae na die Kgalagadi gaan.

SjN ·

Die oplossing is om nie onderbroeke te dra nie vir as jy in so situasie beland.

Hanlie ·

Sjoe, bly julle is nog met ons!! Ek dink ‘n mens se hart klop so vinnig en hard, dat jy dit kan hoor. Wat ‘n belewenis.

Cora Simpson ·

Dit gaan definitief ‘n Familie ” Onthou jy Nog” storie word en die kleinkinders sal groot oe luister

Pinka ·

Dis oor hy daai Puma op die plakkie gesien het….seker nie lus vir kompitisie nie….

Corlien Becker ·

Ek dink Piet, hulle seun van 12 was die dapperste van almal. Hy het nie ñ geluid gemaak, in die hele tyd, wat hulle saam met die luiperd in die tent was nie Trots op jou Pieta.

Niklaas ·

Bly dat daai luiperd jul nie aangeval het nie. Dit kon lei tot ernstige beserings of die dood want dis een baie gevaarlike dier. Deesdae is daar baie stories in die media oor besoeke aan kampeerterreine in daai gebied deur luiperds wat dors is of aan iets wil knaag. Dit klink na uitsonderlike safaris daar rond

Ameli ·

As ek so na die foto kyk, lyk my die tent was nooit toegezip nie. Mense dis bos slange, skerpioene als kruip daar in.

Louise ·

My ouers was in Oktober daar en dieselfde luiperd het hul bande stukkend gebyt

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.