Luiperd val veldgids aan in Krugerwildtuin

Die veldgids word aangeval. Foto: Arno Pietersen / Facebook

Die veldgids word aangeval. Foto: Arno Pietersen / Facebook

ʼn 38-jarige veldgids sterk in die Mediclinic Nelspruit aan nadat ʼn luiperd hom Donderdag tydens ʼn wildrit in die Krugerwildtuin in ʼn oop safari-voertuig aangeval het.

William Mabasa, SANParke se algemene bestuurder van kommunikasie en bemarking, het gesê die voorval het Donderdag omstreeks 13:00 naby Skukuza plaasgevind.

“Volgens ooggetuies het die toergids sowat agt toeriste in die voertuig gehad. Hy het stilgehou om vir die luiperd te kyk wat sowat twee meter van die voertuig af was,” het Mabasa gesê. “Die luiperd het slinks verdwyn, omgekruip en die toergids skielik aan sy arm beetgekry terwyl almal nog aan die ander kant van die voertuig na die dier gesoek het.”

Die luiperd se karkas.

Die luiperd se karkas.

Mabasa het gesê die mense op die voertuig het die luiperd met items geslaan maar die dier wou nie die gids see arm los nie.

“ʼn Besoeker in ʼn ander voertuig het met sy motor nader aan die gids se voertuig gery in ʼn poging om die luiperd af te skrik, waarna dit uiteindelik die gids se arm gelos het. Die luiperd het onder die safari-voertuig se voorwiel beland en is raakgery toe die gids in die geharwar agteruit gery het om die toeriste se veiligheid te verseker.”

Mabasa het gesê die luiperd moes van kant gemaak word. Hy het gesê daar is later opgemerk dat die luiperd moontlik ook in ʼn geveg met ʼn ander luiperd betrokke was, aangesien hy ook ander wonde op sy lyf gehad het. Volgens besoekers is was die luiperd baie maer en het dit sieklik gelyk.

“Ons dink die besoeker in die ander motor het die gids en die passasiers se lewens gered en bedank hom vir sy optrede.”

Die toergids is na ʼn plaaslike dokter geneem met wonde aan sy arm en is deur paramedici van LifeMed na die Mediclinic Nelspruit geneem.

Robyn Baard, die hospitaal se woordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat die die toergids steeds in die hospitaal behandeling ontvang en dat hy in ʼn stabiele toestand is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Winston ·

n Opgeleide veldgids? Hy behoort te weet dat n luiperd een van die mees onvoorspelbare groot katte is. Jy stop nie so naby hom met n oop ruit nie. Hierdie gevalle sal toeneem. Onvoorspelbare gidse en diere wat al meer die druk voel van mense in hulle habitat.

zahn ·

Dankie Winston, ek wou dieselfde gesê het, die man is ‘n gids, en behoort ‘n voorbeeld te stel. Jammer meneer die gids, maar jy behoort van beter te weet. Die ruit is TOE, soos jul reëls duidelik bepaal. En laat enigiemand my vertel daai oop voertuie is veilig wanneer roofdiere bekyk word, dis tjol!

Nico ·

Ek glo die storie dat hy baie honger was. Ek kan nie dink dat ‘n luiperd sommer ‘n mens sal aanval as dit nie bedreig word nie. Maar as hy baie honger is, sal hy enige iets doen.

Wanda van der Merwe ·

Hoe was veldgids se opeiding? Nog n dier doodgemaak om die regering en buiteland te plesier. Ek dink hier is nog n ondersoek vir Solidaliteit en Afriforum. Wie BESKERM ons wilde diere?

Andrie ·

Jy probeer politiek maak van iets wat niks met politiek te die het nie. Fgasa ondersoek die saak en sal optree as die gids nalatig was.

Andries Erwee ·

Jy probeer politiek maak van iets wat niks met politiek te doen het nie. Fgasa ondersoek die saak en sal optree as die gids nalatig was. Die regering speel geen rol in hierdie saak nie. Lees Fgasa se grondwet op die internet.

Uhmmmmm ·

Was dit nie ‘n oop voertuig nie? Dan was die voertuig se spookvenster oop.

Elfie ·

Was al self op wildbesigtingsritte. Party van die sg veldwagters is noglas windtie en oorselfversekerd. En wilde diere bly wild en ek dink hul raak soms gatvol om so bekyk te word… dis al wat ek sê

PIXIE ·

DIT IS SO HARTSEER DAT DIE DIER DOOD IS. WANDA EK STEM SAAM MET JOU: WIE BESKERM ONS WILDE DIERE? ELFIE EK STEM SAAM WILDE DIERE RAAK GATVOL OM NA GEKYK TE WORD EN HULLE RUSTIGHEID WORD VERSTEUR. DIE DOOD VAN DIE LUIPERD IS GEWIS ‘N GROOOOOOOOOT VERLIES. JAMMER OU GROTE VIR DIE MENSE SE NUUSKIERIGHEID EN OM JOU HABITAT TE VERSTEUR EN NOU IS JY DOOD.

Joe ·

Selfde “veldgids” as die vrou wat deur die leeu doodgebyt is ?? Hulle moet aangekla word, en intussen ly onskuldige diere daaronder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.