Luiperd val vrou in tent aan

Argieffoto: https://en.wikipedia.org

ʼn Suid-Afrikaanse vrou sterk tans in die hospitaal aan nadat ʼn luiperd haar by ʼn kampeerterrein aan haar been beetgekry en uit haar tent probeer sleep het.

Die voorval het op 4 Januarie in die Matopi-kampeerterrein in die Kgalagadi-oorgrenspark in Botswana plaasgevind.

Die vrou se man het ʼn plasing op Facebook oor die voorval gemaak, wat deur ander sosialemediagebruikers gedeel is.

Volgens hom het die voorval na aandete plaasgevind. Die man sê in die inskrywing hy het die luiperd die eerste keer sowat 50 m van die kamp af gewaar. “Ek het die ander [sy vrou en twee vriende] geroep om te kom kyk. Die luiperd het nie aandag aan ons gegee nie en het na die kamp begin beweeg. Ons het terugbeweeg en heeltyd ʼn lig op hom gehou,” het die man geskryf.

Die man skryf die luiperd het langs elke voertuig gaan lê, aan die stoele geruik en ontspanne voorgekom.

“Teen 23:00 wou ons gaan slaap. Ek het my voertuig aangeskakel in die hoop dat dit die luiperd sou verdryf. Dit het egter gelyk of hy gewoond is aan mense, wat sleg is. Hy het weer in die bosse in beweeg; ons het elke nou en dan die glinster van sy oog so 200 m weg gewaar.”

Volgens die man het hulle toe gedink dit is veilig genoeg om in die tent te slaap omdat diere tente as lewelose strukture beskou en “mense nie ʼn goeie bron van kos vir diere is nie”.

“Hoe verkeerd was ons nie! Net ná middernag het ek wakker geword van my vrou se angswekkende gille en die luiperd wat haar aan die been beetgehad het en haar uit die tent wou trek. Ek het na die onderkant van die tent geduik om sy oë te probeer opspoor om my vingers in te druk. Hy het haar toe gelos en weggehardloop.”

Volgens die man het hy toe ʼn flits gaan kry om die skade te ondersoek toe sy vrou weer begin gil dat die luiperd terug is.

“Ek het omgedraai en hom sowat 10 m weg van ons gewaar. Ek het uit die tent gehardloop, ʼn graaf gegryp en op hom afgestorm en so hard gegil as wat ek kon. Hy het weggehardloop met my agterna vir so 100 m.”

Die man het sy vrou se beserings as “gruwelik met ʼn konstante dik stroom van bloed” beskryf.

“Ná ek die wonde na die beste van my vermoë toegedraai en versorg het, het ons alles in ons voertuie gegooi. Die een het heeltyd uitgekyk vir die ander, want die luiperd was heeltyd besig om rond te beweeg en het nooit weggegaan nie.”

Hulle het omstreeks 12:30 na Nossop-kamp gery en ʼn dokter daar aangetref wat die wonde behandel het en hulle verduidelik het wat om verder te doen. “My vrou het op pad daarheen deur drie kussings en ʼn duvet gebloei.”

Hulle het van daar af na Twee Rivieren gejaag waar ʼn ambulans hulle ontmoet het en van daar af na ʼn hospitaal in Upington gehaas.

“Daar was gelukkig ʼn ortopediese chirurg in die teater toe ons daar aankom. Beide tendons aan weerskante van die aar was erg beskadig, maar die aar was nie beskadig nie. Sy is tans in die hospitaal met ʼn vergruisde hak wat skroewe sal moet kry en erge wonde wat plastiese chirurgie gaan verg. Haar been is veilig en daar is geen infeksie nie te danke aan die Here wat ons deur hierdie aaklige beproewing gedra het.”

Nadia Lemmetuis, woordvoerder van SANParke, het aan Maroela Media bevestig die voorval het aan die Botswana-kant van die park gebeur.

“Aan die Suid-Afrikaanse kant mag mense glad nie kamp in gebiede wat nie omhein is nie, maar aan die Botswana-kant mag hulle – hulle was darem bewus van die gevare,” het sy gesê.

Die vrou en haar man was volgens Lemmetuis toeriste van Suid-Afrika.

Die man het in sy inskrywing gesê hy glo daar behoort nie enige “grond-tente” in dié deel van die park toegelaat word nie. “Die banddruk van besoekers se voertuie moet ook by jou aankoms by die park nagegaan word. As daar enige arteriële bloeding was sou die toestand van die pad my vrou se dood beteken het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Len ·

Die oorgrens park is vir wilde diere. Dit is nie n dieretuin met tralies. Die natuur is hul domain en waar hul beskerm word en lewe. Toeriste is indringers. Hierdie toeriste het gelukkig goed daarvan afgekom en n goeie storie om te vertel. Slaap eerder in n daktent volgende keer .

BB ·

‘n Luiperd is ‘n slu jagter, hy het sy kans afgewag. Ek sal ook nie in ‘n grond tent slaap as ek binne ‘n oorgrens park oornag nie.

Valerie ·

Len, dis gewoonlik oorsese toeriste wat so onverantwoordelik optree. en nie locals nie; dalk maar net ‘n kansie gevat. Hierdie is Afrika; kansies word nie gevat nie.

Weet van Amerikaners wat so ewe saam met leeus wil selfies neem. Good luck with that one.

Ian ·

Dit is vreemde gedrag van die luiperd. Sal graag wil weet hoe die luiperd toegang verkry het na die binnekant van die tent. Neem aan dat die tent voldoende toegemaak was.

Bietjie bietjie ·

Mooi gepraat !
Wonder as dit jou vrou was slimmie !
Luiperd kan natuurlik nie op die voertuig spring nie

Denise ·

Len dit is soos jy daar se die mense moet besef dit is wilde diere en die luiperd was nuuskierig beweging , flitsligte geraas sterkte aan die vrou!!!! Haaie kan ook nie op die sand sit terwyl die mense baljaar in hulle see nie !!!!

PJC ·

Al hoe meer mense gebruik daktente en ek dink dit behoort ń vereiste te wees vir toeriste wat in onomheinde wildernesgebiede gaan kamp. Dit is onrusbarend om te sien hoe gewoond gevaarlike wilde diere aan mense geword het.

Cor ·

Dank Vader die here het n beskermde hand oor hul gehad maar die vrou het nig steeds seer gekry in due aanval.

Kyk so lief as wat ek is vir kamo en die natuur sal ek ook liewers in die wiltuin in rindawel of huis met dak en mure oornag as in tent. Niemand weet waneef gn mnr krokedil, leeu, oliefant ensv daar agter due bime uit kom en my gesin aanval nie. Stertke aan die vrou en ek hoop hul medies sal als kan dek

O Griet ·

Was die tent oop? Hoe het die luiperd in die tent gekom as tent toe was.
Ai toggie sterkte aan die vrou en haar man

Wil weet ·

Wil ek ook graag weet. Die man het wakker geword eers nadat sy vrou gegil het…

Awie Opperman ·

Die kgalagadi is ‘n wonderlike belewenis maar hulle sal dalk moet oorweeg om omheinings aan die botswana kant se boskampe aan te bring, ek is ook baie verbaas oor die luiperd se gedrag, maar baie bly dat die vrou dit oorleef het. Sterkte aan julle.

whisky juliet ·

Sal iemand my asb verduidelik wat bedoel die man wat Maroela media aangehaal het laaste sin van die grondpad en band druk. My vraag is wat het die band druk wat hulle moet nagaan en die toestand van die pad…..seker grond pad…te doen met bloeding en hoe kan of sou dit as die band druk nie reg is of was nie moontlik kon veroorsaak dat sy vrou dood bloei….ek vra net want eks bietjie confused daaroor, dankie.

Jan ·

@whisky Juliet – die pad aan die Botswana kant is baie slegter as aan die SA kant. Ook is dit dus beter om jou banddruk te verlaag op so ‘n slegte sanderige pad om jou loopvlag te vergroot. Sy vrou verloor bloed teen ‘n konstante tempo. Om dieselfde afstand op ‘n slegte pad te ry met verlaagde bandruk neem langer as op ‘n beter pad met normale banddruk. Op die slegte pad is haar kanse dus groter om dood te bloei omdat die voertuig stadiger beweeg in vergeleke met ‘n beter pad teen ‘n hoer spoed.

Papwiel ·

As jy Kgalagadi toe gaan van die SA kant word jy versoek om jou voertuig se banddruk te verlaag ten einde skade aan die grondpaaie in die park te beperk. Baie besoekers doen dit egter nie, en gevolglik raak die paaie erg sinkplaat, veral tydens die besige seisoen. My vermoede is dat die man bedoel besoekers moet aan die versoek gehoor gee ten einde te voorkom dat die pad so sinkplaat raak (wat waarskynlik sy reistyd van Nossob na Twee Rivieren verleng het).

ou Toppie ·

Het ook al daar in n grondtent geslaap met leeus ens om ons
Sorg dat die tent toe is

Stephan de S ·

Die man het waarskynlik vinnig gejaag om mediese hulp te kry op dd skudderige paaie en later gehoor dat as sy banddruk laer was sou die rit soveel makliker en veiliger gewees het.

tish ·

ja so leer julle op die harde manier.
jul is die indringers, luiperd se tuiste.
geen simpatie

Piet Pompies ·

Stem saam, hoekom moet die natuur by die mens aanpas…
Het al gesien waar kampers (nie kampeerders) by ‘n kamp plek in die natuur aankom, gou die tent opslaan, eetgoed in die tent gooi (nie in die sleepwa) en daar laat waai die gesin op die wildrit. Intussen het die bobbejane die kos geruik en hulle self gehelp, die nylon tent kon nie die lus vir kos stop. Soos ‘n bobbejaan eet verlos hy homself ook…. dit was nie ‘n aangename ervaring vir die toeriste. En ja, daar is orals waarskuwings en die nodige raad op die kamp se dokumentasie…..

Marga ·

Tish, ek stem helemal saam met jou….ontwikkelinge pop orals op en meer mense en huise en gebou en besighede en die habitat vir diere raak al hoe kleiner…nou kamp mense ook nog waar hulle tuiste is…nee jissie man …gee die diere ook hul geregtige spasie…

Schalk van der Merwe ·

Nou ken hulle al die antwoorde – maar die park behoort nie grond tente toe te laat nie en die park moet die band druk nagaan. Wat van, ek moet self verantwoordelikheid vat en ek hoef nie als te doen net omdat dit nie verbied word nie.

Piet Pompies ·

Dit is tragies wat gebeur het en sterkte aan die vrou. Terselfde tyd wil dit voorkom of die groep nie behoorlik voorberei was op die besoek en daar ‘n gebrek aan ervaring en kennis is. As jy grondpad ry vir lang afstande soos in die park verminder jy die voertuig se band druk, dit verbeter rygerief en verminder die kanse om vas te sit. As jy oorslaap in ‘n kamp sonder ‘n heining slaap jy in ‘n karavaan of ‘n daktent. Beperk jou beweging na sononder omdat nagdiere dan begin jag.

Piet ·

Genade maar hier is slim ouens wat hier raad gee. Wat n leuk soos ek sou dink is dat ‘n luiperd vir n persoon in ‘n tent geen gevaar inhou nie. Daar is eerder n paar ander diere waarvoor ek sou lig loop. As ek sou raai sou ek se dat hierdie dier dalk deur n mens met n bottel groot gemaak is.

T N ·

En onmiddelik moet jy twak praat !? Het ” Hy ” ‘n bietjie geslaap of moes die vrou eers seerkry voordat ” Hy ” ingegryp het ?

Erika ·

Tish, ek hoop nie daar gebeur ooit enigiets met iemand van jou nie hetsy word deur n dier of mens aangeval. Maak nie saak wat die omstandighede is nie. Dit is nie iets wat jy sommer hoor nie, luiperd is baie sku. Daar was seker iets fout met hom en het ‘n maklike prooi gesoek. Met een kap van sy poot sny hy die tent en gryp. Sterkte. Hoop jy herstel heeltemal

Wonder ·

My vraag is, was die tent oop of was dit ordentlik toegemaak? Hoe het die luiperd dan toegang gekry tot die vrou se been deur ‘n toe tent? As dit die geval is, hoe het hulle dan nie wakker geword terwyl die luiperd besig was om die tent oop te skeur nie? Of het hulle met ‘n oop tent gaan slaap wat net uiters onverantwoordelik is as jy weet jy bly in ‘n boskamp sonder heining. Dan moet jy verantwoordelikheid vat vir jou besluite en dade. En defnitief meer moeite te doen om volgende keer meer ingelig te gaan kamp.

Christo ·

Ek het vele kere in ‘n grondtent geslaap in Botswana wildernis gebiede. En baie scares gehad ook. Maar ek stem saam met opmerkings hierbo. Was die tent oop? Indien nie, hoekom het hulle nie wakker geword toe die tent skeur nie? Of het die luiperd die zip oopgetrek? Die probleem is nie die grondtent nie. Die probleem is onnosel disneyworld toeriste wat deur wetgewing beskerm moet word. Botswana bied vir mense die geleentheid om op ‘n verantwoordelike manier die natuur te ervaar. Jou prokureer gaan jou nie beskerm teen ‘n luiperd nie. Was hulle gesuip toe hulle gaan slaap het?

lizl ·

Sy het `n dapper man ! My man sè altyd hy is niemand se held nie, en as dit op so situasie uitloop is dit elke ou vir homself !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.