Luiperd van kant gemaak ná aanval

Sonsopkoms in die Krugerwildtuin. (Foto ter illustrasie: SANParke)

ʼn Werker in die Kruger Shalati-konsessie in die wildtuin is Sondagoggend deur ʼn luiperd aangeval. Dit is die tweede voorval in dié gebied die afgelope paar weke.

Isaac Phaahla, woordvoerder van SANParke, sê die voorval het plaasgevind toe die man op pad werk toe was.

Die werker kon die luiperd afweer en het om hulp geskree waarna die dier in die omliggende bosse verdwyn het.

“Die beseerde werker is vir behandeling na die dokter gehaas. Hy het diep snywonde en trauma opgedoen, maar die beserings is nie lewensbedreigend nie.”

ʼn Soektog na die dier is onmiddellik van stapel gestuur. Die luiperd is sowat 30 meter van waar die voorval plaasgevind het, opgespoor en van kant gemaak.

Volgens Phaahla is dit die tweede onlangse voorval waar ʼn werker deur ʼn luiperd in die Krugerwildtuin aangeval is.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn personeellid van die Skukuza-gholfklub in die Krugerwildtuin wonderbaarlik oorleef het nadat ʼn luiperd hom skynbaar uit die bloute aangeval het. Die aanval het op 26 Junie buite die slagoffer se woning by die park se personeelwoonkwartiere plaasgevind.

Cathy Dreyer, hoofwildbewaarder, sê daar word sedert die eerste voorval al gepoog om die luiperd te vang.

“Gegewe die ligging van die tweede voorval, vermoed ons dis dieselfde luiperd, hoewel ons nooit seker kan wees nie. Inwoners en werknemers moet te alle tye uiters waaksaam wees en dit vermy om alleen te loop.”

Die luiperd is by die staatsveearts afgelewer om ’n nadoodse ondersoek te doen.

Jerry Mabena, hoof van die Motsamayi Tourism Group wat Kruger Shalati en Krugerstasie besit, sê hy is geskok deur die tragiese voorval, maar verlig dat die werker oorleef het.

Mabena sê die groep en bestuurspan by die konsessie sal die werker op sy herstelpad ondersteun.

“Hierdie voorval maak almal weer bewus daarvan dat wilde diere in hul natuurlike habitat optree volgens die natuur se reëls. Ons respekteer ons teenwoordigheid in hul gebied, terwyl ons die veiligheid van ons personeel verseker sowel as die bewaringswerk wat ons as konsessiehouers hier onderneem.

“Ons steun die ondersoek deur SANParke om die oorsaak van hierdie ongewone gedrag deur ’n luiperd te bepaal. Ons bedank die mediese ondersteuningspersoneel wat vinnig opgetree het, en SANParke vir hul ondersteuning in die voorval. Ons wens ons kollega ’n spoedige herstel toe en sien uit na sy terugkeer werk toe sodra hy ten volle herstel het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Swerwer ·

Ja nee, gaan voort. Die diere is in die wiltuin om beskerm te word teen die natuur buite die winldtuin. Dit is maar reg dat mense afgemaai en vermoor word deur ongewenste wesens maar onskuldige wilde diere wat vir beskerming in ‘n wildtuin is moet van kant gemaak word as dit iemand aanval in sy natuurlike habitat. Vandag se lewe strook nie meer nie. Gaan daar ooit iets oorbly vir ons nageslagte.

Jessica ·

Dit is in n luiperd en wilde diere se natuur om aan te val. Waarom dit van kant maak?!? Duisende mense word wreed vermoor maar die moordenaars word nie van kant gemaak nie… waar is die natuurbewaring wanneer mens hul nodig het?

Vonkprop ·

Ongewone gedrag? Die luiperd het natuurlik opgetree ek gee nie om wie wat sê nie. Dit net so goed jy maak iemand dood omdat hy agressief was omdat hy sy goed beskerm het en dan sê sy dood word ondersoek as gevolg van ongewone gedrag. Dit is mos die mens se antwoord op alles. Maak dood en wis uit.

N ·

So as n haai iemand in die see aanval moet hy gesoek en geskiet word?

SjN ·

Wat gaan die bevinding wees van die nadoodse ondersoek deur die veeartsl? Hy is doodgemaak deur n mens op sy terein. Waar kom bewaring dan in.

Gretha ·

Hul weet nie eens of dit dieselfde luiperd is maar maak hom van kant. Wanbestuur verseker

Hendrik ·

Dieuiperd wat daagliks aan mense bewonderaars bloodgestel word is geensins meer ten volle in die natuur nie. n Dier ten volle aan die aan die natuur bloodgestel vlug instinkmatig vir die mens.

Ronel ·

Ok so jul weet dit is wilde diere, maar maak hul van kant na ‘n aanval omdat jul werkers rondloop in hul gebied????

Jack ·

Jy oortree op die gebied van die wilde dier en moet seker verwag dat hy nie van jou gaan hou nie veral gesien dat jy gesien word as n jagter beslis nie kos nie. Teen die tempo sal die luiperds net op die wildtuin se poskaarte te sien wees. Die probleem is dat mense te agterlosig en mak geword het. Die wildtuin is aanspreeklik vir die werkers se veiligheid en doodmaak los niks op nie. Klink soos baie van die wette in ons land.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.