Luiperdrob maak Kaapse draai

Die luiperdrob kuier intussen té heerlik in die Kaap en was vanoggend steeds in die omgewing te sien [Foto: City of Cape Town, Facebook]

Vir talle inwoners van Kaapstad was dit ʼn noemenswaardige oomblik toe ʼn luiperdrob Woensdag by Kommetjie in die Wes-Kaap op die rotse uitgespoel het. Dit is nie ʼn alledaagse verskynsel om ʼn luiperdrob, ook bekend as ʼn seeluiperd, aan die Kaapse kus te gewaar nie.

Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning en omgewing, sê die rob is gisteroggend op die rotse aangetref.

“Die plaaslike Dierebeskermingsvereniging (DBV) is ontbied en inspekteurs het die dier ondersoek. Hulle het bevind dat hy geen ernstige beserings opgedoen het nie. Sy bewegings en gesondheid sal deurgaans gemonitor word,” sê Nieuwoudt.

“Die stad se omgewingsdepartemente en die nasionale regering het gesamentlik ooreengekom dat die dier alleen gelaat moet word en dat hy sal vertrek wanneer hy wil. “

Die luiperdrob kuier intussen té heerlik in die Kaap en was vanoggend steeds in die omgewing te sien.

Luiperdrobbe word hoofsaaklik in Antarktika aangetref en leef op ys. Dié spesie word ook soms op sub-Antarktiese eilande gewaar.

Individuele luiperdrobbe word soms langs die Kaapse kuslyn opgemerk en staan wetenskaplik as “swerwende seeluiperde” bekend. Indien hulle aan wal kom, vertoef hulle gewoonlik nie lank nie.

Nieuwoudt waarsku die publiek om nie naby die rob te kom nie omdat dit gevaarlik kan wees. “Hou veral jong kinders en honde weg,” het sy gevra.

Iemand wat haaie dophou, is na die rotse gestuur om die publiek van die luiperdrob se bewegings op hoogte te hou en om te verseker dat die dier met rus gelaat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Twallie ·

“Nieuwoudt waarsku die publiek om nie naby die rob te kom nie omdat dit gevaarlik kan wees.”

Sy moet bietjie gaan oplees….Die Luiperdrobbe is uiters gevaarlike diere. Nie “kan” gevaarlik wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.