Reuseslang val sakevrou aan

luislang swartwater Janet Prinsloo biltong go back

Die viermeterlange luislang wat Janet Prinsloo aangeval het. Foto’s: Verskaf

Janet Prinsloo, eienaar van die gewilde Biltong go Back-padstal naby Vaalwater in Limpopo, het die naweek lelik geskrik toe ʼn vier meter lange luislang haar in haar slaapkamer aangeval het.

Sy het Saterdagoggend aangetrek en gereedgemaak om na haar biltongwinkel te gaan toe “ʼn swart ding” onder haar bed haar aan haar enkel beetgekry het.

“Ek het net die groot kop gesien en ʼn geweldige drukking op my enkel gevoel,” het Prinsloo Dinsdag aan Maroela Media gesê.

Sy het nie dadelik geweet watter soort slang haar beetgekry het nie en gedink haar tyd is min omdat dit dalk giftig is.

“Die slang het sy tande in my vleis ingedruk. Ek het my vingers in sy bek gedruk en sy kake probeer oopdwing. Sy nek was geweldig sterk. Ek vermoed die bedpoot het gelukkig verhoed dat hy sy lyf om my been kon wikkel.”

Ná ʼn gespook en ná die slang haar vyf keer gebyt het, en sy in die proses op die grond beland het, het sy uit die slang se kloue losgekom en haarself agtertoe op die grond weggeskop tot sy by haar slaapkamerdeur uit is.

“Daar was nogal baie bloed. Ek het hard om hulp geroep en my seun en sy maat wat daar gekuier het, het tot my redding gekom.” Haar seun, Jakobus (9), en sy vriend, Martin, het dadelik Prinsloo se verloofde, Brent Birk wat in die gastehuis elders op die plaas geslaap het, gaan roep.

Birk het hom na die huis gehaas en “ʼn deur uit sy kosyn gehardloop” om haar te help. Hy het Prinsloo se been bo die wond afgebind, haar in die motor gelaai en met haar na die MediClinic Lephalale gehaas.

By die hospitaal het Birk en kenners bepaal dat die slang moontlik ʼn luislang is, waarna Prinsloo die korrekte behandeling kon ontvang. Sy het onder meer vyf verskillende soorte inspuitings gekry en is tot die aand by die hospitaal gehou vir waarneming, waarna sy ontslaan is.

Birk is intussen terug na die plaashuis om die slang van kant te maak.

“Dit was ʼn traumatiese ervaring, maar ek het darem nie erg seergekry nie. Selfs nou, ná die tyd, is die pyn so twee op ʼn skaal van tien,” het sy gesê.

Prinsloo het gesê die plaas is al 80 jaar in die familie, en sy besit dit die afgelope sewe jaar. “So 20 jaar gelede was daar twee groot luislange wat in ʼn vlakvarkgat geskuil het en my pa se stoetskape gevang het, maar daar was nog nooit een in die huis nie.”

Sy onthou wel dat daar ses jaar gelede ʼn twee meter lange Egiptiese spoegkobra in die huis in Jakobus se speelgoedsak geskuil het toe hy drie was. Hulle het gelukkig gehoor daar is ʼn onwelkome kuiergas en kon dit vang voor hy enige leed kon aanrig.

Prinsloo het gesê die slang is sedertdien ontvel en die vel word gesout. “Ons wil dit in die padstal ophang om die storie te vertel.”

Op die vraag of die slang se vleis biltong gaan word, sê sy vinnig: “Ons het soms leeu- en olifantbiltong, maar ons sal maar eerder die luislangbiltong los.”

Sy sê sy kry nog ʼn nare gevoel as sy in haar kamer ingaan, want sy is bang vir wat onder die bed kan skuil.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

47 Kommentare

Uys ·

Die Luislang wat nou op n muur gaan hang is n bedreigde spesie en mag nie dood gemaak word nie. Vang en verwyder die slang eerder.
Sterkte as die gereg ń draai gaan kom maak.

Narike ·

Bedreigde spesie of nie, jy sal ook dood maak as jou lewe daarvan afhang. Luislange is eintlik baie sku en skrik eerder vir mense, so daardie slang moes baie honger gewees het. Hy moes ook tevore met mense te doen gehad het, ander sou hy die huis vermy het.

Isak du Preez jr ·

Dit was nie ‘n saak van “lewe afhang” nie, sy het ontsnap en daar is agterna teruggegaan om die ding dood te maak. So regtig, iemand kon uitgekry word om die ding te vang en elders los te laat. Ai tog, maak dood, alles, slange, renosters, watookal, julle mense is behep met doodmaak. Dit het niks met “groen” weas te doene maar om spesies te bly bewaar vir jou kinders en hulle kidners sodat hulle nie in ‘n museum daarna moet gaan kyk omdat dit uitgesterf het nie! Mense kan so kortsigtig wees.

Prinsloo ·

Julle “groen” ouens maak my siek. Dit is nou nie dat Janet gaan staan moeilikheid soek het met die slang nie. Wonder wat sou jou reaksie gewees het as die slagoffer jou vrou of kind was ??? Vra maar net ?? Sterkte Janet hoop jy raak sommer gou gesond.

Paul ·

Die slang is eers doodgemaak nadat daar bepaal is dat dit ‘n luislang is en die vrou (en enigiemand anders) lankal buite gevaar was.
Dit is die punt wat Uys maak – daar was oorgenoeg tyd, en dit was veilig, om deskundiges te laat kom om die slang te vang sodat dit vrygelaat kon word.

Ek stem saam dat die oormatige “groen” houding eintlik skadelik is (soos enigiets wat oormatig is), maar in hierdie geval kon die slang gerus eerder gevang geword het as dat dit doodgemaak is.

Dave ·

Drink dan maar ‘n grandpa as jy siek voel Prinsloo maar nou weet jy hoe vandalisme en ‘n gebrek aan bewaringsbewustheid ons laat voel. Dit is julle tipe wat selfs steenbokkies sal skiet.

Paul ·

Jy sal hom aan die hakskeen byt en hy sal jou kop vermorsel. Klink dit bekend?

Annemarie Basson ·

So wat moes die vrou gedoen het? Die slang ingenooi het vir tee?? Kom by, Uys.

EMK ·

Ja tog, Annemarie en Paul vir wat alles wil uitroei? Die mens is sy eie grootste vyand en sal alles vernietig met tyd en dan sal dit te laat wees. Niks met groen wees te doene nie – stem absoluut saam.Paul, so doen jy ALLES wat die Bybel vir jou sê? Ek twyfel, mense is so gou om versies op te haal maar as jy na hul lewenswyse/uitkyk kyk dan wonder mens.

Pierre Celliers ·

Dave, ek stem saam met jou. Prinsloo het heelwaarskynlik geen honde of katte ook nie want hy haat die goed. Hy is ook waarskynlik ook ‘n “vrekskiet” entoesias,(ook genoem “Jagter”), wat alles doodskiet wat voorkom!! Jammer, ek het g’n tyd vir diesulkes nie!!!

Coenraad de Beer ·

Ek stem saam. Dit was onnodig om die luislang dood te maak. Op daardie stadium het die slang geen bedryging vir enige een ingehou nie. En ja, as dit my vrou was wat met die bytmerke as bewys van haar struweling met die slang moes sit sou ek nogsteeds die opsie gekies het om die slang lewendig te verwyder.

hanna ·

Ek dink daar is n paar goed wat in perspektief geplaas moet word. Onthou ons wat hier in die bosveld bly is erg oor ons omgewing en die diere met wie ons dit deel. Ons is seker een van die enigste dorpe in die land wat n toegewyde slangvanger het. So geen slang word onnodig doodgemaak nie. Ons sal eerder die area waar hy bly vermy, Soos dit vroeer in die artikel impliseer. Tensy hulle in die huis kom en jy dit dan laat verwyder. Tweedens, wanneer jy die fotos mooi bekyk lyk die slang in n swak kondisie. Dis moontlik dat hy oud is en daarom n maklike “prooi” gaan soek het. Laastens leer kinders hier van slange lank voor hulle leer lees en skryf. Ek verstaan die bewarings aspek, maar meeste van die slange word relocate ipv doodgemaak.

Dave ·

Ek woon ok in die bosveld, Hanna. Op die strand in die bosveld. (sien ‘n paar fronse :-) By ons woon selfs ape in die stad (en ek praat nie van taxi-drywers nie). Hier is dit soos by julle – mense wat nie ‘n flenter omgee en mense wat alles moontlk sal doen om diere hul reg te gun. Dit is steeds belangrik om te onthou hulle was eerste hier. Dit klink egter asof jy meen dat ons veralgemeen wat nie die geval is; ons verwys na ‘n spesifieke insident. Ek het ‘n gesegde wat lui dat die pragtigste dier is ‘n bok. Die lelikste dier is ‘n dooie bok.

Dave ·

Dankie, baie dankie vir die kompliment, Eliza-beth.. ek is nou op pad na jou website. Reeds vinnig daar ingeloer en dit is pragtig! Nou gaan ek terug daarheen.

Dave ·

Ek was weer daar en sal more wèèr daar wees (oor effe meer as ‘n halfuur is dit môre :-).

Eliza-beth ·

Dave – thanx my ou. Kyk bietjie na ONS slange!! En luister ons het selfs paddageluide opgeneem. Maar onthou soos die ou fliekadvertensie sê – “it’s always better on the big screen”, so hopelik het jy ‘n pc met ‘n bietjie groter skerm?! Daar is plek vir e-pos onder kontakte ook : )

KarooKlong ·

Paul, ………………hy sal jou aan die hakskeen byt en jy sal sy kop vermorsel.
Klink dit nie eerder nader aan die oorspronklike nie?

Paul ·

Jammer KarooKlong, my “memory recall” is nie meer so goed as in my jong dae nie.

Whatever ·

Sad to say, maar ek sou die slang ook dood gemaak het!! Ek wonder net of daar twee keer gedink gaan word voor julle oordeel??? as julle of julle kinders in dieselfde situasie beland?

Nina ·

Ja-nee, wragtig! Ek maak hom ook vrek! Het ‘n heilige vrees vir slange…:/

Dave ·

Wie was in watse situasie terwyl die slang doodgemaak is? Sad to say maar jy salmoet leer lees. Jou misbruik van die woord ‘oordeel met oordrewe vraagtekens’ verduidelik miskien ook waarom jy nie mooi verstaan wat jy lees nie.

EMK ·

Dave – “Whatever” se naam sê sommer alles oor sy houding teenoor diere.

Dave ·

Hehehaahee… jy’s oplettend èn reg, EMK. “Whatever’ soos in “so What’.

THEA SWART ·

nee sowaar een van ons 2 gaan doodwees en dit gaan defnitief nie ek wees nie sorry vir enige slang liefhebbers maar ek baklei terug

Paul ·

Thea,
Wanneer ek die slang in die veld raakloop, sal ek versigtig na hom kyk en dan padgee en niks aan die skepsel doen nie. As hy egter so braaf is om my in my huis te kom byt “met die doel om ernstig te beseer of te dood”, is ek baie jammer vir hom maar hy sal maar die hoogste offer moet bring. Daar is van die sondeval al vyandskap tussen die slang en die mens en dit sal nooit verander nie al raak hoeveel outjies ook hoe groen.

Die groenies is die mense wat die heel minste bydrae tot natuurbewaring terwyl die jagter se bydrae die basis is waarop natuurbewaring op wildplase gebou is want die opbrengs van die plaas het ‘n waarde waarteen dit verhandel. Die groenies gaan gewoonlik so aan oor kamera safaris en wat ookal, maar die enigste partye wat voordeel trek uit hulle bewering is Canon, Sony, Nikon, Leica ens en weinig indien enige geld by die plaaseienaar uitkom om sy besigheid te bedryf. Daar is lankal meer wild op plase as in die nasionale natuurreservate waar die toesig so vrot is dat die renostermoordenaars hulle sakke vol geld stop en geen groenie dra by om dit te stop nie want hulle betaal niemand vir die fotos wat hulle neem nie. Ek weet want ek neem self graag fotos in die wildtuin en het nog nooit nodig gehad om iemand te betaal vir die voorreg nie.

EMK ·

Paul, so graag jou hele antwoord punt vir punt wou antwoord, maar toemaar. Die belaglikste stelling in jou hele antwoord is dat die slang dan sou in die huis inkom met die DOEL (hahaha die “doel” nogals) om enstig te beseer of te dood – jy gee die slang darem woes menslike eienskappe ne, praat nie eers van veronderstellings ens… Aijaijaijaijai!

Paul ·

EMK,
Die slang het nie kom tee drink en koekies eet nie, hy het ‘n prooi kom soek. Ek los hom veilig in sy plek en gun hom dit MAAR hy bly weg uit my plek want nou-nou vang hy my hondjie of my kind of probeer die baas vang soos in die berig.
Terloops die aanhaling is tong-in-die-kies gebruik, moenie alles letterlik opneem nie want dan gaan jy nie ou bene maak nie.

EMK ·

Paul ek is bly jy is ‘n ” kenner” wat DINK die dier het prooi kom soek. Heelwaarkynlik eerder per ongeluk in die huis gekom, bedreigd/vasgekeer gevoel en dus die eniste manier wat dit ken gereageer deur aan te val. Verseker nie koekies kom soek nie nog minder prooi. Lees weer die berig mooi stadig, die arme ding is AGTERNA doodgemaak terwyl dit gratis verniet en met sorg verwyder kon word. Praat van ou bene maak – jy moet kalmeer ou, dis jy wat dalk jou lewenspolis moet hersien ; )

Paul ·

EMK,
Ek sou die rakker nie eers later kon doodmaak nie, hy sou reeds die tydelike met die ewige verwissel het. Dieselfde as jy ‘n inbreker/rower/moordenaar in jou huis vang, die een wat eerste skiet en doodskiet, is die een wat oorleef. Ons leef lankal nie meer in ‘n modelwereld nie.
Die luislang sal jou in die veld slegs (probeer) aanval as jy tussen hom en sy nes is, nie ‘n slang wat maklik verbouereerd raak nie al staan jy net so twee of wat meter van hom af. Ek gaan kyk elke jaar op die plaas waar ons jag by hul nes of ek die ma (5m+ lank en so 150mm deursnee) en haar twee kinders (verlede jaar 4m en 100mm deursnee) sien en nie hulle of ek het nog nooit bedreig gevoel nie. In my huis is hy egter onvoorspelbaar en dit is dan sy probleem, ek sal nie kanse waag en held wil speel nie.

Eliza-beth ·

Paul, ek haal graag aan ” The lady doth protest too much, methinks” (uit Hamlet van Shakespeare) – gaan google die Wikipedia vedruideliking

KAG ·

Ag nee rerig, waarom die slang doodmaak??? Hy’t bloot op instink reageer en die vrou is mos nou nie halfdood nie. Swak besluit. Mense behoort slimmer as diere te wees dog ek…. Ons is immers in hulle habitat. Ai….

KAG ·

Ag nee rerig, waarom die slang doodmaak??? Hy’t bloot op instink reageer en die vrou is mos nou nie halfdood nie. Swak besluit. Mense behoort slimmer as diere te wees dog ek…. Ons is immers in hulle habitat. Ai….

Chris ·

Waar kan mens van daardie “lus” goed kry waarmee jy slang kan vang? Ek is glad nie ‘n slang – liefhebber nie, kan julle ook sê, as ‘n luislang dit naby my vrou en kind of my klein bokkie hond waag, sal hy nie goed daarvan afkom nie. Daar voel ek ‘n veer vir “gereg” Ek het glad nie “vrekskiet’ mentaliteit nie, wel “beskerm mentaliteit” Toets my gerus.

nig ·

Nou iets heel anders – wat se naam is Biltong go back vir ‘n padstal? Go back where? Wat sê die eksperts hier rond?

Chrisna ·

Ek self is ‘n eienaar van ‘n 3meter luislang.

Ek kan nie dink dat mense so wreed kan wees om so ‘n pragtige dier dood te maak nie,
hy reageer op instink, hy het nie uit sy pad gegaan om jou seer te maak nie.

Daar hoord baie streng opgetree te word teen die moordenaars van daardie pragtige dier.

Eliza-beth ·

Paul, ek haal graag aan ” The lady doth protest too much, methinks” (uit Hamlet van Shakespeare) – gaan google die Wikipedia verduideliking

EC ·

Dave jy kan ons gerus mail via ons website as jy so voel!Elizabeth

San-Marie ·

Hmmmmm het iemand anders dalk opgelet dat daar klein hondjies en baba hondjies in die foto is? Sou dit nie makliker gewees het vir die slang om een van hulle te hap nie? Slange is maar bang vir die mens, my logika sê hy sou ‘n woefie gevang het en buite die huis gebly het. Wat maak die slang in die huis?

Ronél ·

Bedreigde spesie of nie…Vrek sal hy vrek…dink net hoe jy sou voel as dit jou kind, vrou/man ws…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.