Luister: 50-jarige vrou vertel van angsnag in selle

Sandra*

Sandra*

ʼn 50-jarige ma en ouma het Donderdagnag vreesbevange “die langste nag van haar lewe” in ʼn donker, nat, koue tronksel deurgebring nadat sy in hegtenis geneem is omdat sy glo geld by haar werkgewer geneem het om vir haar familie te sorg.

Glo omring deur rotte, en met die stank van vuil verstopte toilette, moes sy ook vir sowat ʼn uur die angsgille aanhoor van ʼn man wat glo deur ʼn medegevangene verkrag is.

ʼn Duidelik getraumatiseerde Sandra* het Vrydag aan Maroela Media vertel van dié beweerde nagmerrie wat sy in die Hillcrest-polisiestasie in KwaZulu-Natal se aanhoudingselle moes deurmaak en wat tot haar inhegtenisneming gelei het.

“Ek het sowat ʼn jaar gelede vir ʼn onderneming begin werk wat kiste vervaardig. Ek was takbestuurder van een van die maatskappy se takke in Soweto in Gauteng,” het Sandra gesê.

Sandra het verduidelik dat haar seun, skoondogter en twee kleinkinders, onderskeidelik twee en een jaar oud, saam met haar in ʼn huis in Johannesburg gewoon het. Almal was van haar afhanklik. “My seun en sy vrou was werkloos. Die nood het geklop. My kleinkinders het kos en doeke benodig. Ek het begin geld vat by my werkgewer met die bedoeling om dit terug te betaal as ons weer op ons voete was. Ek het die geld gevat om aan die lewe te bly,” het Sandra in trane gesê.

ʼn Verteenwoordiger van die maatskappy se hoofkantoor het Sandra se tak op 19 Augustus vanjaar besoek. Sandra het gesê sy het oop kaarte gespeel en aangedui dat sy geld gevat het, maar wel onderneem om met behulp van haar familie R15 000 ʼn maand terug te betaal om te vergoed vir die nagenoeg R120 000 wat sy oor ʼn tydperk geneem het.

ʼn Tugverhoor, waar sy nie opgedaag het nie, en haar ontslag het gevolg. Sy het gesê sy was te bang vir haar bestuurder en was nie lus om deur haar verneder te word nie. Sy was steeds van plan om die geld terug te betaal.

Haar werkgewer het haar laaste salaris, asook pensioen en verlof, ter waarde van nagenoeg R18 000, teruggehou, en sy het aangeneem hulle het haar aanbod aanvaar en gaan haar nie vervolg nie. Sy het egter glo nie internettoegang gehad om ʼn e-pos deur haar werkgewer te lees waarin laasgenoemde sê die aanbod is nie aanvaar nie.

Sy het intussen by haar dogter en skoonseun in Durban gaan bly. “My seun het onlangs sy eie onderneming in rekenaars begin en sukkel nog om ʼn bestaan in Johannesburg te maak,” het Sandra gesê.

“Vroeg in September het ʼn ondersoekbeampte my uit Soweto gebel en gesê daar is ʼn strafregtelike aanklag teen my aanhangig gemaak. Ek was toe onder die indruk my werkgewer het my aanbod aanvaar aangesien ek nie my laaste salaris gekry het nie. Ek het die beampte so ingelig en die beampte het gesê sy sal terugkom na my toe. Sy het nooit.”

Die Hillcrest-polisie het Sandra Donderdagoggend by haar dogter se huis in Durban in hegtenis geneem. Sy is na die aanhoudingselle by die stasie geneem en moes Donderdagnag daar deurbring. Wat daar gebeur het, vertel sy in haar eie woorde:

Sy is Vrydagoggend na die Pinetown-landdroshof geneem en het nooit in die hof verskyn nie, aangesien die saak nie op die hofrol was nie weens probleme met Sandra se lasbrief vir inhegtenisneming.

Maj. Thulani Zwane, provinsiale polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het Vrydagaand by navraag van Maroela Media gesê die toestand van die aanhoudingselle is nie soos wat Sandra beweer nie. Dit word daagliks geïnspekteer en skoongemaak.

“Daar is nie ʼn probleem by die selle nie. Die toilette is nie vuil en verstop nie en daar is ook geen rotte in die selle gewaar nie,” het Zwane gesê.

By navraag oor die beweerde verkragting wat Sandra in ʼn sel langs haar gehoor het, het Zwane gesê geen amptelike klagte van enige ander gevangene is by die polisie aangemeld nie.

Sandra se skoonseun het gesê hulle gaan regstappe doen aangesien hulle meen sy skoonma se menseregte is geskend. Hy het gesê daar is ook glo nie die nodige prosedure gevolg tydens haar inhegtenisneming nie.

Vir Sandra is die nagmerrie egter nog nie verby nie. Sy sal eersdaags in ʼn Johannesburgse hof moet verskyn waar sy amptelik aangekla gaan word.

*Sandra is ʼn skuilnaam wat die vrou moet gebruik aangesien sy nog nie amptelik in die hof verskyn het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

40 Kommentare

Jacques ·

Daar is mos maar altyd my storie jou storie en die waarheid. Sy klink maar asof haar weë en die van die waarheid nie te gereeld kruis nie. Sy het verskeie geleenthede gehad om die saak op te los maar het verkies om die oplossing te vermy. Die probleme los hulself nie op nie. Tronkstorie klink ook maak aangedik.

Piet Snot ·

Dis duidelik julle veroordelaars het nog nooit werklik, werklik swaargekry nie.
Sy het gesteel, en dis reg dat sy gestraf word, ja. Maar die liefdeloosheid waarmee julle antwoord, slaan my stom.
Hou die oordele vir die dag wanneer jy kan sê “ek weet waarlik waardeur daardie mense gegaan het, want ek het ‘n myl in daai ou se skoene geloop”.

Adoons ·

Sy steel R120,000 van haar werkgewer, maar sy sien haarself as die slagoffer. Nee wat, ek het nie juis simpatie nie.

Bleek Sannie ·

As hulle werklik so swaar gekry het, moes sy maar eerder ‘n ander plan gemaak het as om te steel. Ek weet van baie mense wat bitter swaarkry wat nooit sal loop en steel nie. Eerlike, beginselvaste mense wat wat sou gee vir ‘n werkie. Darem ‘n goeie ding dat iemand anders nou haar werk gaan kry, iemand wat dit verdien. Elke wolk het ‘n silwer rantjie!

Antoinette ·

Ouch Jacques, maar ek moet ook sê dit klink of Sandra weggekruip het eerder as om oop kaarte te speel. Geen werkgewer gaan sover om iemand in hegtenis te laat neem as hulle dink hulle gaan die geld terugkry nie. R120 000 – R18 000 is R102 000. Nogals baie geld en het Sandra enigsins die R15 000 begin terugbetaal?

geen simpatie ·

As jy nie het nie, soos ek ook baie dae deur moet gaan, VRA!!!!!! liewer, dan gaan dinge dalk baie beter vir jou wees in die toekoms, geen simpatie, daar is BAIE wat sukkel.

Susan ·

Ek stem. Jy vat nie iets wat aan iemand anders behoort nie. Dit is steel.

pop ·

Sandra jy het gesteel, en nou kom jy met” sop story” Jy het mos n werk gehad en klink vir my jou hande was diep in daai geldlaai. Dalk bietjie hoog gevlieg vir mense in nood!!En dis nou kommin om na die media te hardloop en te kla.

Pierre Celliers ·

Hoe kan mens net geld vat? Kon sy nie haar probleem met haar werkgewer bespreek en dan, moontlik, tot ‘n vergelyk kom nie?!

Tania ·

Ek het geen simpatie vir die vrou nie. ‘n Mens steel nie, al is jy in ‘n selgte posisie.

franscois ·

Ek voel in n mate jammer vir Sandra maar in mate ook nie, Sandra kon jy nie om hulp gevra het nie, daar is kerke en instansies wat sal uitreik en help, dit lyk vir my eerder na n ‘cash flow’ wat beskikbaar was en misbruik is, R120000-00 is n helse klomp doeke en kos, hoe skik n mens op so n bedrag, ongelukkig Sandra gaan jy n paar keer in die hof staan en dalk meer as net een aand in die selle deurbring!

Anoniem ·

Maatskappye kan die geld terugeis by SARS en by hulle versekering, maar hulle moet ‘n saak nommer hê van die polisie om hulle eis in te sit. So om hulle geld elk geval terug te kry moet sy vervolg word. So al betaal sy dit terug kry die mpy in elk geval hulle geld terug.

monique ·

kyk, ek was al ook in n sutuasie waar ek en/of my gesin werke verloor het, ons moes plan maak vir kos en dies meer , die here het voorsien. maar nooit op dees aarde sou ek eers dit oorweeg om een sent geld by my werkgewer te vat nie hoe dan nog R120 000???. Neewat! dit het te lekker gegaan en te lank ongesiens verby gegaan. swaar kry is een ding, ek ken dit! maar wat sy gedoen het was Steel. ek het geen simpatie. sy was nie eers by die tugveroor nie!

WLM ·

Voel baie jammer vir haar maar wat het sy verwag, sy het gesteel. Ons kla oor korupsie en bedrog van die regering, ons moet bly staan vir die regte goed al is dit hoe swaar en maak nie saak hoe naby die persoon aan ons is nie.

ladybug ·

Die tronk is nie veronderstel om ‘n 5 ster hotel te wees nie. ek het geen simpatie met haar nie, soos enige ander misdadiger hoort sy ook agter tralies, in die haaglike omstandighede.

Nic Grobler ·

Ek stem saam Gogga, maar daar is geen rede vir haglikheid van die aanhoudingsfasiliteit nie. Ons betaal vragte belasting vir behoorlike openbare geriewe, nie vir stink krotte nie.

Anre ·

Geld “geneem”…. uhm… Dis steel!!! As almal (soos meeste mense in die land doen) aaneem dat jy sommer goed mag vat omdat jy swaarkry, kan jy dink in watter toestand ons land (is) en verder sal wees? Hier dog ek die storie gaan oor ‘n doodonskuldige vrou. Maar nee. Dit klink alles baie onaangenaam, maar steel is steel is steel.

SNEL ·

Ek wil net weet, hoe de hoenders sou sy nou elke maand se “lening” terug kon betaal het as daai “goeie maand” net nooit kom nie. As sy reeds nie met haar salaris deurgekom het nie, waar het sy gedink gaan sy die geld kry om die geld wat sy vat terug te betaal en buiten dit, R120 000 klink vir my na baie geld om mens net deur te help of om n gat of twee toe te stop. Sy het goed geweet dis verkeerd en dat daar geen manier was wat sy dit ooit sou terug kon betaal het nie. Sleg in die tronk of nie sleg nie, maar as n mens aanjaag moet mens seker die gevolge vat sonder klagtes; mens het mos immers daarvoor gesoek. Ek gun slegte behandeling vir geen ouma of ma nie, en dis skandelik as die skoonseun en haar dogter geweet het hoe sy sukkel en dat hulle haar in so finansiële posisie geplaas het. Haar skoonseun en dogter kon sekerlik ook uitgespring het en n werkie iewers gekry het; elke bietjie help.

Eliza-beth ·

Ai nee kyk, ek ken baie mense wat sukkel en ook te trots is om net te vra, maar daar kom hulp van baie, want hul bewys elke keer hul probeer self iets doen. Al moet jou skoonseun en dogter karwagte wees tydelik, gaan vra om mense se karre in hul erwe te was, vra of jy iemand se vensters kan was – IETS, maar wees trots om geld eerlik te verdien. Klink vir my sy het net die maklike uitweg gevolg, die geld is daar laat ek vat. Nee wat mevrou, ek het ook g’n simpatie. As elkeen wat sukkel nou doen wat jy gedoen het, kan jy dink? O, terloops, as mens so sukkle vir wat weggooidoeke koop? Dis vrekduur veral as mens dan nou so sukkel. Dan koop jy maar jou lapdoeke en ‘n stuk Sunlight seep en soos in die ou dae was jy die doeke en dit hou tot die kind uit doeke is. Daar is ook ander maniere om te spaar, mens gaan sit saam en kyk wat jy het, beplan en leef volgens dit en klaar. En ja, soos iemand anders geskryf het daar is die kerk en welsyn ook – maar natuurlik as mens lui is en nie WIL werk sal hulp gou opdroog.

Sims ·

Die reg moet sekerlik sy pad loop,my vraag is net : hoeveel politikusse het hierdie behandeling ontvang vir diefstal van heelwat meer .Die probleem is dat die wet nie dieselfde vir almal is nie. Sy erken sy is skuldig,ongeag die doel waarvoor sy dit gedoen het. Sou almal ongeag kleur dieselfde hanteer gewees het…… nee. Obviously kon sy nie ‘n rassekaart uitpluk nie. Hier word meer comment op hierdie vrou se storie as op die wrede plaasaanvalle wat die naweek plaasgevind het !

poohbear ·

Ek probeer net verstaan…… sy vat geld om te kan oorleef, word gevang en kan dan met behulp van familie R15000pm terug betaal. Hoekom het die familie dan nie in die eerste plek gehelp nie.. .dan was dit nie nodig om te steel nie….klink vir my nie heeltemal reg nie….

ABC ·

goed, sy steel van haar werk oor sy nie kan oorleef nie……dan word sy gevang …..en DAN skielik kan sy met behulp van familie R15000 per maand terug betaal.
Waar was die familie dan in haar tye van nood.
#justsaying

Sollie ·

ABC – dis PRESIES wat ek wou weet. Wat betref die sg haglike omstandighede in die tronk, wel dalk sal mense leer om binne die wet te bly as dit so erg is. want sover skrik tronkstraf meeste glad nie af nie! Ek sou stem vir tronke om ALMAL haglik te wees. Dit is mos nie ‘n piekniek nie, maar deesdae is daar tv’s en die vader weet wat, dis ‘n bloomin vakansie

Witbrood onder die arm ·

Ek moet se, na die eerste twee paragrawe het ek al genoeg gehad. Ek sou ook nie jou, jou salaris betaal het nadat ek uitgevind het jy’t van my R120 000 gesteel nie. Die geld het jou nie toegekom nie. Jy was toevertrou met die werkgewer se bates, en jy kon dit nie bestuur het soos ‘n gelowige Christen behoort te gedoen het nie. Ek self het deur baie moeilike tye in my lewe gegaan, maar ek sal nie ‘n sent van iemand neem nie. Ek bid en vertrou God om tot my redding te kom en Hy het. Hou op om van mense te verwag om jou jammer te moet kry, en gaan vra vir jou vergifnis en moet nie weer steel nie. So dra jy uit die tronk kom, gaan werk harder en begin jou situasie omdraai deur deursettings vermoee en harde werk, en hou aan totdat jou omstandighede verander. Hou op kla oor die omstandighede in die tronk, jy het geweet wat die gevolge sou wees indien jy gevang sou word.

Girty ·

Pasop vir die werkgewer om die salaris terug te hou – my broer het so geval gehad van werker wat hom besteel het en hou toe sy salaris terug en toe hy in die hof kom toe gooi die regter die saak uit die hof uit en se my broer het nie die reg gehad om homself te betaal deur die man se geld terug te hou nie – daar was ook sy storie hy kon nie vir sy gesin sorg nie – wat n storie was – die terug gehoude salaris was n druppel in die emmer wat die man gesteel het.

Noem dit net ·

Ons as gesin het hoeveel maal nou al aangeklop by instansies en kerke nie vir die feit dat ons bedel, maar net vir n bietjie ekstra hulp met kos ensv, ons pas karre op, en doen los werkies om mense se huise soos grassny en dies meer, en weet jul al vir 6 maande het niemand nog hulp aangebied nie! Ek beskerm haar glad nie die feit is sy het gesteel, maar wie se sy het nie gevra nie? Ek noem dit maar net!

ABC ·

Ek verstaan wat jy se, maar as haar familie kan help met R15k per maand NADAT sy gevang is hoekom kon hulle dit nie VOOR die tyd doen nie.
Jy het al my simpatie, en ek bid dat julle alles sal ontvang wat julle nodig het….

Sollie ·

ABC – weereens stem ek saam met jou. Noem dit net, ek hoop ook jy kom reg – gaan maar weer, hoed in die hand na die kerke ens en vra weer, dalk is hul nie bewus dat jul nie geholpe geraak het nie. Ek weet ook hoe dit is om werk te verloor en ek het ook ‘n rukkie gesukkel maar emns moet net trots wees en sterk bly – uitkoms kom. As jy hier antwoord het jy tog toegang tot die internet so al klaar klink dit of dinge nie te sleg gaan nie!

HEVW ·

Noem dit net, Ja die materialistiese wereld is n ongenaakbare wereld. Rykdom en armoede verstaan gewoonlik nie mekaar nie.Die onskriftuurlike veroordeling loop oorvloedig in hierdie kommentare. Ja dit was verkeerd. Die heel maklike uitweg was gevolg. Dade werk gewoonlik kumulatief, die een gaan oor in die ander en onbewustelik draai jy vas. Ons weet nie werklik wat alle omstandighede was nie, so wees maar n bietjie sagter Is daar nie miskien n bietjie hulp met die regte begeleiding?

Frik ·

Die vrou is skelm, sy lieg en bedrieg. Daarom glo ek sy lieg oor hoe die nag van aanhouding was. Die ergste is dat sy nou simpatie en publisitet soek!

Pieter V ·

Dis moontlik dat die sel in n haglikke toestand was want die tronke is mos misdadigervriendelik ,die misdadigers kan rond sit en doen wat hulle pas,dan kan ons maar net kyk na die toilette en was kamers by baie vul stasies en winkel sentrums om te verstaan dat dit nie noodwendig anders sal wees in die tronke.

Alice ·

Die meningspeiling is skrikwekkend. Die meeste mense voel dat dit maklik is om te praat as jy nog nooit in die posisie was nie.

Ek vind dit moeilik om te glo dat ons morele standaard al so gesak het, dat ons diefstal goed praat.

Alicia ·

Laat die een sonder sonde die eerste klip gooi….. Sjoe, dis ongelooflik hoe maklik mense hier oordeel. Dit vat nie iemand met veel verstand om te besef dat wat sy gedoen het is verkeerd nie, maar kry julle bevrediging hieruit om die arme vrou te stenig?

Miemie ·

So haar salaris plus R10000.00 ‘n maand was nie genoeg om ‘n gesin of twee te onderhou nie, goed is duur ja, maar ek kom oor die weg met die minste eerder as om in ‘n vyfster tronk te gaan lewe sonder my familie. Dan sal boet maar gras sny en sus koeksusters op straat verkoop maar steel is wat besig is om ons Boere se lewens te kos en daar gaan jy sommer net vir doeke en so…… NO!!!!!!!!

EMK ·

Ek is ook baie seker as sy na haar werkgewer gegaan het en mooi haar situasie verduidelik het sou haar dalk help met ‘n plan om ‘n tipe lening te kry by hom en dit af te betaal plsu hoe om haar geld beter te bestuur. Alicia, dis nie dat mens stenig maar ons almal wat ook sukkel en hard werk vir ons geld is g*tvol vir mense se stories – daar is NOOIT rede vir diefstal nie jammer. Daar is sovele instansies wat kan help, ek weet bv in Bloemfontein (was op Kwela) is ‘n tehuis waar hul sulke mense help op hul voee kom. Wat van die Salvation Army, ag man daar is talle plekke maar dan moet jy bewys jy wil van jou kant ook jou deel doen. Maar steel is deesdae te maklik en hoe het sy by so ‘n groot som uitgekom en dit het haar nie genoeg gepla om of op te hou of hulp te soek terwyl sy goed weet dis verkeerd. Regtig ek ken ook mense wat baie sukkel maar nie een sal ooit dit doen en dan homself probeer verontskuldig nie. Ons is almal moeg van mense wat (nes die regering optree) en glad nie sleg voel TOT hul uitgevang word ja…

Christelle ·

Wat my verstand altyd te bowe gaan is hoe de hel is daar altyd 10 kinders betrokke by mense wat nie geld het nie?? Die verskoning lei altyd: “my kinders het nie kos nie”, maar hoe het jy ‘n string kinders wanneer jy weet daar is nie geld??
No brainer……..

Really ·

Wat my verstand altyd te bowe gaan is hoe de hel is daar altyd 10 kinders betrokke by mense wat nie geld het nie?? Die verskoning lei altyd: “my kinders het nie kos nie”, maar hoe het jy ‘n string kinders wanneer jy weet daar is nie geld??
No brainer……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.