Luister: Gesamentlike inisiatiewe om plaasmoorde te takel

Argieffoto (Foto: markus53, Pixabay)

Argieffoto (Foto: markus53, Pixabay)

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n opbouende vergadering met Senzeni Zokwana, minister van landbou, bosbou en visserye, gehad waar moontlike stappe bespreek is wat gedoen kan word om die veiligheid van boere en ander Suid-Afrikaners in landelike gebiede te verbeter.

Die minister was beïndruk met die stappe wat AfriForum reeds in plek gestel het om plaaslike gemeenskappe te betrek by veiligheidsinisiatiewe, én met die afname wat misdaad getoon het as gevolg van hierdie inisiatiewe. AfriForum waardeer die minister se onderneming om die departement te betrek by die versterking van dié inisiatiewe om na die veiligheid van boere om te sien.

AfriForum het sy kommer uitgespreek oor die feit dat Afrikaners gereeld deur senior politici uitgebeeld word as die sondebok. “Boere het families,” het Zokwana in reaksie hierop gesê. “Hulle voed die nasie. Hulle verdien ’n dankie, nie ’n moord nie.”

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dié organisasie is dankbaar vir die minister se toeganklikheid. “AfriForum glo in ’n tweeledige strategie,” het Roets verduidelik. “Ons moet doen wat ons kan om plaaslike gemeenskappe te betrek om hulself te beveilig, maar ons moet ook saam met die regering werk om te verseker dat die probleem van albei kante af opgelos word. Uiteindelik is die toets in die syfers. Ons moet moontlike oplossings vir die probleem bespreek, ons moet projekte dryf en selfs beleidsveranderings aanbring, indien nodig, maar die einddoel moet wees om plaasmoorde uit te wis. Ons inisiatiewe moet volhoubaar wees.”

AfriForum en die departement het op ’n vyfpuntplan van aksie ooreengekom wat deur albei rolspelers toegepas sal word. Die vyf stappe is die volgende:

1. AfriForum en die departement sal streng optree teen individue wat bydra tot aanhitsing tot geweld, wat onverantwoordelike of roekelose uitlatings maak wat inbreuk maak op wedersydse erkenning en respek tussen verskillende gemeenskappe.
2. Die departement het ingestem om AfriForum by te staan om hul plaaslike veiligheidsinisiatiewe na ander gemeenskappe uit te brei, waar nodig.
3. AfriForum het ingestem om vir die departement volle toegang tot hul navorsing oor plaasmoorde te gee. Die organisasie is besig met ’n omvattende studie waarvan die verslag voor die einde van 2015 aan die minister oorhandig sal word.
4. AfriForum en die departement het ooreengekom op verdere gesprekke en om vennootskappe te vestig om plaasmoorde die hoof te bied. Die departement beplan om ook die departement van polisie te betrek.
5. AfriForum en die departement het ooreengekom om deel te neem aan kommunikasie-aksies ter bewusmaking van boere en plaaswerkers se veiligheid.

’n Opvolgvergadering is reeds met die departement se skakelhoof gereël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

J.Z ·

Ek hoop die regering is erenstig en nie net n gepraat soos in die verlede nie,dan net die teenoor gestelde te doen.

Swanna ·

Die doodstraf is reeds in plek. Dit word toegepas op die onskuldige boere!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.