Luister: Hier is die grootste omgewingstories van 2020

Bonné-de-Bod-and-farmer Pieter-Els-in-Helicopter-©-Susan-Scott

Bonné de Bod vlieg saam met die boer, Pieter Els, oor sy plaas. (Foto: Susan Scott/Verskaf)

As dit gaan oor bewaring en omgewingsake het die Covid-19-pandemie vanjaar opnuut die kollig vierkant geplaas op die gevaar van menslike betrokkenheid by die onwettige handel in dierlike produkte.

Vanjaar is daar ook meer as ooit tevore oor soönotiese siektes gepraat, virusse wat van diere na mense oorgedra kan word. Mense wou weet waar die nuwe koronavirus vandaan kom en daar is talle vrae gevra oor die sogenaamde nat markte van China en die uitbuiting van wilde diere in hierdie markte.

Die fokus op die Covid-19-pandemie het ook talle bewaringskwessies, soos dié van renosterstropery in Suid-Afrika, vir eers opsy geskuif. Dit is natuurlik te verstane omdat mense eers hulself en hul gesinne gesond moes hou en sorg dat die ekonomie oorleef. Hoewel ons ʼn afname in renosterstropery tydens vlak 4 en 5 van die afsonderingstydperk gesien het, vertel dit net ʼn halwe storie van die kwessie, want noudat parke en natuurreservate weer oopgestel en internasionale reise toegelaat is, is die prentjie weer vinnig aan’t verander.

Tog het die pandemie nie net slegte nuus vir die natuur beteken nie. Daar was talle stories oor bergleeus wat weer vir die eerste keer in die strate van ʼn stad in Chili gewaar is, wasbeertjies wat weer in Central Park in New York te sien was, en plaaslik was daar selfs ʼn valk of twee in tuine van Johannesburg.

Lugbesoedeling in talle stede oor die wêreld heen het ook vir die eerste keer in jare opgeklaar.

Bonné de Bod, omgewingsjoernalis en die bekroonde vervaardiger en aanbieder van natuurlewe-dokumentêre soos STROOP en Kingdoms of Fire, Ice and Fairytales, het met Maroela Media telefonies van Johannesburg af gesels oor die grootste omgewingstories van 2020.

De Bod het gesê die Covid-19-pandemie het beslis ʼn invloed op bewaringstories en klimaatverandering gehad en dit was hoofsaaklik op vier maniere. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.