Luister: ‘Hy was my pêl…’ – só groet bekendes PG

Skermgreep uit Maroela Media-video

Almal wie se paaie met dr. PG du Plessis sʼn gekruis het, het die een of ander staaltjie om te vertel.

Maroela Media het met ʼn paar mense gesels wat hom met heimwee en humor sal onthou: Alexa Strachan, vervaardiger, skrywer en regisseur, wat PG du Plessis as vriend en mentor geken het; Sandra Prinsloo, aktrise, wat gereeld met hom saamgewerk het; prof. Hans du Plessis, skrywer, wat PG as “my woordvriend” beskryf; Christo Davis, akteur, wat onlangs die rol van Tjokkie in Siener in die Suburbs gespeel het; en Anna Davel, sangeres, wat gesels oor die deernis met menslikheid wat al PG se werk kenmerk.

In Fees van die Ongenooides, waarvoor PG du Plessis in 2012 die Helgaard Steyn-prys ontvang het, skryf hy só:

Gertruida het gedink dat sy een van hulle gunstelinge sou moes voorspeel, soos ʼn Bach-prelude of een van Chopin se nokturnes, maar Miss Pearson het die eenvoudige “Love’s Old Sweet Song” uit die pak getrek en voor Gertruida neergesit. Sy het die solo-stoel voor die klavier weggetrek, die duet-stoel nader gebring, langs Gertruida gaan sit en haar gevra om so naby aan haar te speel, want sy wil vir oulaas vir haar omblaai. Hulle heupe en dye en arms het aan mekaar geraak, en Gertruida het gewens die musiek raak nooit op nie.

Maar die note op die blad en onder haar vingers het opgeraak en haar hande het in die na-stilte oor die klawers gehang.

Du Plessis word Dinsdag te ruste gelê tydens ʼn gedenkdiens op sy tuisdorp Potchefstroom. Hy is verlede Woensdagmiddag in die ouderdom van 82 oorlede ná ʼn lang stryd met kanker. Die diens is Dinsdag om 11:00 in die NG kerk Noord in Dwarsstraat 21.

Dié huldeblyk is saamgestel deur Adéle Changuion. Die agtergrondmusiek is die Ierse volksliedjie Love’s old sweet song uit 1884, op die klavier gespeel deur Edward Tarte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.