Luister: Karlien Husselman vind die mens agter musiek

Dit gaan goed met Karlien Husselman. (Foto: Facebook/Karlien Husselman)

Karlien Husselman moes telkens talle lesse leer en volwasse word om haar voete as Afrikaanse kunstenaar, maar ook die mens agter die musiek, te vind.

Die sangeres ry sedert sy in 2002 as jong vrou aan Idols SA deelgeneem het, en gehore behoorlik bekoor het met haar veelsydige rasperstem, as’t ware ʼn wipplank in die Afrikaanse musiekbedryf.

Karlien word nie net as ʼn “jodelprinses” deur haar aanhangers beskryf nie, maar sy het ook meer as 70 000 volgelinge op Facebook, en die musiekvideo van haar jongste enkelsnit getiteld “Platsak” is in ʼn kwessie van ʼn paar weke al meer as 14 000 keer op YouTube gekyk.

Hoewel sy haarself nou weer op ietwat van ʼn kruin in haar loopbaan bevind, sê Karlien in Maroela Media se ateljee dat sy allermins ʼn gelyke pad tot hier gestap het.

“Ek dink daar was stadiums in my loopbaan waar daar wanpersepsies oor my was en dat ek self wanpersepsies gehad het oor die bedryf en myself omdat ek self rondgeval het.

“Toe ek destyds aan Idols deelgeneem het, was ek eintlik nog ʼn kind. Ek het net blindelings in die ding ingehardloop en nie geweet wat ek doen nie, en ek het eintlik iemand nodig gehad wat my op die regte pad kon lei,” sê Karlien prontuit.

Karlien en haar publisiteitsbestuurder, Lydia Winchester, by Maroela Media. (Foto: Maroela Media)

“Ek het baie foute gemaak, verkeerde dinge gedoen en soms die pad byster geraak. Ek moes soveel lewenslesse leer om te begin verstaan wie ek is. Ek is ʼn bietjie rebels en leer nou nog om met tye my mond te hou wanneer ek eerder iets wil sê, maar die pad wat ek gestap het, het my in ʼn rigting gestuur waar ek myself kon vind.”

Karlien sê sy het nou die regte mense in haar lewe en haar ondersteuningsnetwerk hou haar op die regte pad. Sy en haar man, Anthony McGee, en hulle jong dogtertjie woon in Bronkhorstspruit, waar Karlien aanhou musiek skryf en programme aanbied waar sy ander vroue geestelik bystaan.

“Ek is ʼn kind van die Here en glo daarin om die waarheid praat. Ek vra vergifnis deur die Here, deur gebed, en al sal ek iemand nooit aspris seermaak nie, gebeur dit wel. In die tyd wat ek weg was uit die musiektoneel het ek depressie gehad weens trauma en ander gebeure in my lewe waarvan mense nie weet nie.

“Ek het na die Here geroep en Hy het my opgelig.”

Daarom het sy besluit dit is nou weer tyd om weg te beweeg van die “diep, seer musiek” soos die liedjie “Lig in die donker”, en het sy saam met Anton Botha gewerk om “Platsak” te skryf. Izak Davel en Leon Barnardt het die musiekvideo gemaak.

“Om platsak te wees, is waarmee elke Suid-Afrikaner kan identifiseer. Ek kan ook daarmee identifiseer, maar ons vergeet soms dat ware vriendskap nie oor geld of materiële dinge gaan nie, maar wat in jou hart aangaan.

“Die liedjie het ook ʼn bietjie diepte, want ons kan finansieel platsak wees, maar ons sal nooit geestelik platsak wees nie.”

Karlien en haar man by die Voortrekkermonument. (Foto: Facebook/Karlien Husselman)

“Platsak” is gestroop van enige pop-elektroniese klanke en is kitaar- en tromgedrewe.

“Ek dink my aanhangers is bly om te sien ek is weer die ou Karlien, die straal en vuur binne-in my is terug. Ek is bly dat ek weer iets kon uitbring wat hulle ook gelukkig laat voel.”

“Platsak” is op alle digitale platforms beskikbaar.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Karlien Husselman.

Kyk hier na die musiekvideo:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.