Luister: Ongerepte wildernisse weer in Bonné se visier

Bonné de Bod. (Foto: Susan Scott/Verskaf)

ʼn Amper naakte wetenskaplike wat soos Bobby van Jaarsveld in die Namib-woestyn lyk, die waarneming van wolwe in die Yellowstone Nasionale Park, ʼn nabye ontmoeting met ʼn grysbeer in die Grand Teton Nasionale Park en ʼn SANParke-hoofvlieënier wat op ʼn moeilike wildvang-ekspedisie “Oh, what a beautiful morning” sing.

Kykers kan dié en nog vele ander interessante oomblikke verwag in die tweede seisoen van kykNET se Bewonder en Bewaar, ʼn natuurprogram wat as’t ware nie net op unieke natuurstories fokus nie, maar wat ook ʼn blik gee op die wetenskaplikes, veeartse en navorsers wat daagliks hulle lewe aan vreemde en wonderlike spesies toewy.

Die bekroonde aanbieder Bonné de Bod is weer aan die stuur van die program en werk weer saam met haar STROOP – Journey into the Rhino Horn War-kollega, Susan Scott, aan die vervaardiging en redigering van Bewonder en Bewaar.

Bewonder en  Bewaar is ʼn natuurlewereeks waarin die geheimenisse en wonders van Moederaarde ontsluit word deur toegewyde navorsers, veeartse, bewaringswetenskaplikes en ander deskundiges.

Bonné reis na afgeleë wildernisse om natuurbewaarders te ontmoet. Sy gee ook weer vooraanstaande wetenskaplikes die geleentheid om hul kennis en entoesiasme oor hulle onderskeie spesialisvelde te deel.

“Dit is vir my belangrik om die individue te ontmoet en die baanbrekerswerk wat hulle doen op kamera vas te vang. Baie keer is dit ongelooflike wêreld-eerstes, en dit is die passie wat die individue het vir hulle werk wat ons harte roer,” sê Bonné in Maroela Media se ateljee.

“Ons ervaar kosbare oomblikke, wat snaaks en opwindend is, maar ons raak ook dieper en gee insig tot die menslike gees deur die natuurstories wat ons vertel.”

Diere in ongerepte gebiede is die program se primêre fokus, maar die navorsers se passie sal beslis ook kykers se hartsnare roer.

“Ja, dit gaan oor die spesie, maar dit gaan ook oor die mense agter die spesie, want vir hulle is dit nie ʼn werk nie, dis ʼn roeping.”

Volgens Bonné moet die wetenskaplikes, navorsers en veeartse met wie sy toe doen kry dikwels eers oortuig word om op kamera te verskyn.

“As hulle eers begin praat oor hulle studieonderwerpe, moet ek hulle keer, want dan kry ek nie ʼn woord in of kans om eers ʼn vraag te stel nie,” sê sy laggend.

Bonné en dr. Francois Becker in die woestyn. (Foto: Susan Scott/Verskaf)

Sy vertel geesdriftig hoe sy en dr. Francois Becker in die Namib-woestyn na die blaffende geitjie – ʼn piepklein reptiel wat gereeld in die woestyn gehoor word maar selde gesien word – gesoek het.

“Om die koue woestyn in die nag te voet aan te durf om die geitjie te sien, is skouspelagtig. Al wat jy het, is ʼn kombers van sterre bo jou, ʼn plafon van spikkeltjies lig, die Melkweg in al sy glorie.

“Kilometers ver oor die sandduin hoor ek die geblaf en getjir, en ek kom toe agter Francois het geen vangtoerusting, behalwe ʼn flitslig, by hom sou ons dié geitjie uiteindelik vind nie. Toe ek hom uitvra oor hoe hy beplan om die geitjies te nader het hy gesê: ‘Bonné, ek gaan my klere uittrek!’” vertel sy laggend.

Dié taktiek word gebruik omdat klere ʼn geraas maak wat die geitjies kan verwilder. “Ek was baie bly dit is donker sodat hy nie kon sien hoe bloos ek nie. Hy het egter darem ook vir my onthalwe, maar ook die kykers sʼn, sy onderklere aangehou.”

Hoewel sy nog nooit ʼn navorser ontmoet het wat hierdie metode gebruik nie, kan sy met trots sê dat hulle daarin kon slaag om die blaffende geitjie te gewaar.

“Die volgende oomblik, duik Francois in die sand en vang een van die geitjies vas. Wat ʼn pragtige klein diertjie, wat met sy varingblaartjie-tone perfek kamoefleer met die natuur. Francois het vinnig die reptiel gemeet en ʼn bietjie DNS geneem, en hom weer vrygelaat waar hy hoort. Dit was uiters fassinerend.”

  • Luister na meer oor Bewonder en Bewaar in die volledige ateljeeonderhoud met Bonné de Bod boaan die berig.

Bewonder en Bewaar is elke Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien. Die episodes het ook Engelse onderskrifte en sal op DStv Catch Up en DStv Stream beskikbaar wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.