Luister: ‘Rampdemokrasie in SA moet gestuit word’

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, verduidelik waarom die organisasie die hof nader om die ramptoestand onwettig te laat verklaar. (Foto: Solidariteit)

Die vakbond Solidariteit het Dinsdag hofstukke op die regering beteken waarin die vakbond die verklaring van ʼn nasionale ramptoestand om die kragkrisis te pak ter syde wil laat stel.

“Die verklaring is ʼn ongelooflike slag vir die oppergesag van die reg, die beginsel van wetlikheid en die skeiding van magte. Dit vereis dus hierdie hof se dringende veroordeling en regstelling,” lui die beëdigde verklaring van dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Hermann het Dinsdag ter verduideliking van die besluit om voort te gaan met regstappe teen die regering gesê die kragkrisis voldoen ingevolge wetgewing nie aan die definisie van ʼn ramp nie en dat bestaande wetgewing heeltemal voldoende is om die krisis te bestuur.

“Die regering is self die oorsaak van die elektrisiteitsramp en kan homself nie as ramp verklaar en dan buitegewone magte kry om die ramp op te los nie. Die rampwetgewing is nie bedoel vir regeringsmislukkings nie,” sê Hermann.

Dit beteken nie Solidariteit glo nie ingrypende stappe moet gedoen word nie; die regering het tot dusver net nie die politieke wil gehad om die regte ding te doen nie. “Dit is nie die bedoeling van rampbestuurswetgewing om voorsiening te maak vir institusionele mislukkings nie,” sê Hermann.

Die afkondiging van nog ʼn ramptoestand kan boonop ʼn gevaarlike presedent skep, waarsku die organisasie.

“Dit kan beteken dat Suid-Afrika ʼn toekoms van ʼn rampdemokrasie tegemoet gaan. Regeringsmislukkings soos om nie water- en rioleringsdienste te lewer nie, mislukkende munisipaliteite, die inploffing van infrastruktuur en ander probleme kan dan alles hanteer word deur normale demokratiese prosesse deur rampverklarings te omseil.

“Dit was nooit die bedoeling van die rampbestuurswetgewing nie.”

Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van regsake by Solidariteit, sê daar is bepaalde kwessies waaroor die saak nie handel nie. Solidariteit ontken allermins dat daar ʼn krisis is en die organisasie steun ingrypende stappe heelhartig – maar nie ʼn ramptoestand nie.

Solidariteit benadruk ook dat rampbestuurswetgewing net ingestel kan word as daar geen ander manier is om die krisis te pak nie. Maar daar ís, voer Solidariteit aan, en daar is boonop geen verduideliking in die vorm van regulasies [wat nog in die Staatskoerant afgekondig moet word] oor waarom dié buitengewone stap gedoen is nie.

“Die respondente is uiters doeltreffend in die skep van ʼn krisis, maar uiters ondoeltreffend in die oplossing daarvan. Sonder die hof se ingryping, gaan hierdie in ʼn ramp eindig,” sê Van der Bijl.

Slegte geskiedenis

Solidariteit voer ook aan die regering het ʼn swak geskiedenis van rampbestuur en dat die ramptoestand wat tydens die Covid-19-pandemie ingestel is, mettertyd self in ʼn ramp verander het.

“Dit het gelei tot absurde magsvergrype soos boetes wat opgelê is as ʼn sypaadjie geskoffel is, die verbod op die verkoop van plakkies en warm kos, die sluiting van strande en ʼn sigaretverbod,” sê Hermann.

“Ons geheue is nie kort nie. Ons kan die magsvergrype tydens die Covid-19-ramptoestand en hoe rampgeld geplunder is, onthou. ʼn Ramptoestand vir die elektrisiteitskrisis is ʼn ramp.”

Hy sê ook net ʼn “naïewe dwaas sal dink” dat rampfondse nie opnuut tydens ʼn elektrisiteitsramptoestand geplunder gaan word nie.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sê Suid-Afrika kan nie ingevolge ʼn ramptoestand bestuur word omdat pres. Cyril Ramaphosa nie sy kabinet kan kry om hul werk te doen nie.

“Alles wat nou gedoen word, kon al vantevore gedoen gewees het,” sê Mulder.

Die koronavirus-ramptoestand het uiteindelik 750 dae gegeld en is opgehef ʼn dag voordat Solidariteit se hofsaak daaroor aangehoor sou word. Dit gaan Suid-Afrika minstens drie jaar neem om sy kragkrisis om te keer, maar meer realisties waarskynlik tussen en drie en ses jaar – en die vraag is of die ramptoestand tot dan gaan geld, sê Mulder.

“Hierdie is politieke teater; gesprekke oor gesprekke en pres. Ramaphosa wat probeer lyk of hy iets doen. Die regering is die uitdruklike probleem in hierdie ganse kragkrisis. Die krisis is buite beheer en die regering kan dit nie meer hanteer nie.”

Solidariteit sê minder staatsinmenging is nodig, nie meer nie, en dat gemeenskappe en die private sektor toegelaat moet word om die probleem op te los.

  • Lees Woensdag op Maroela Media wat regskenners dink oor Solidariteit en ander organisasies se kanse op sukses in die hof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Groen Ghoen ·

Fantasties! Stop Ramapokker en sy bende voordat hulle Covid2 op ons afdwing. Kan ons ‘n aansoek by die hof indien om die ANC regering as ‘n ramp te laat verklaar? Miljoene sal hierdie aansoek ondersteun.

CHRISTINE ·

Demokrasie is ‘n woord en konsep wat die anc en eff nie kan/wil/sal begryp nie want al wat hulle wys is segopatiese kommunisme.

Barend ·

Alles wat hulle bestuur is ‘n ramp, behalwe salaris verhogings en betalings want dit is belangrik.

Republikein in die Wes Kaap ·

Verval begin stadig, maar kry later momentum.

Pieter J ·

Ek moet sê ek hou van wat solidariteit sê. Ek dink enige regter wat sy sout werd is sal saamstem met hierdie argumente.

annie ·

Een pool teenoor ‘n ander: Liberaliste teenoor demokrate. In 1994 het kommunisties-liberale terroriste die landsbestel begin hervorm na hul snaak. Hulle sou mos. Ons het geweet wat hul handves bevat. Die opposisie in SA wil nou met ‘n woorde-oorlog ‘n ommekeer bewerk. Wie het nou die hef in die hand, wat die NP goedgunstiglik afgestaan het? Geen oorlog is nog met bravade en vertoon gewen nie. Van uitstel kom nooit afstel.

Nico ·

Wat in SA moet gebeur is dat Teokrasie die regering van God sal oorneem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.