Luister: Rolene Strauss sê ‘nee’ vir perfeksie

Rolene Strauss (Foto: SJ Van Zijl)

Van die wêreld se mooiste en slimste vroue twyfel daagliks in hulleself – ook Rolene Strauss wat eens die Mej. Suid-Afrika- en Mej. Wêreld -kroon gedra het.

Rolene het egter eers ʼn pad vol kronkels en hindernisse oorkom voordat sy besef het dat selfvertroue binne enigiemand se bereik is.

Met haar jongste boek Herontdek jou selfvertroue wil Rolene juis die boodskap by vroue tuisbring dat selfvertroue nie ingebore is nie, maar ʼn vaardigheid is wat boonop met die regte leiding deur elkeen van ons ontwikkel kan word.

Liggaamsbeeldkwessies en ʼn gebrek aan selfvertroue het vroeg aan die 16-jarige Rolene se deur geklop. Deur ʼn pynlik eerlike vertelling van haar eie lewe deel Rolene ervarings waarmee lesers op verskillende maniere kan vereenselwig.

Was dit moeilik om so eerlik te wees?

“Ek wil amper sê dat dit die moeilikste deel van die skryfproses was: Om terug te gaan na al daai ondervindinge wat ek eintlik half klaar weggepak het. Dit was soos om ʼn boks uit te haal en myself weer te ontdek,” vertel Rolene.

Sy het ook lank gewonder in hoeveel besonderhede sy haar storie moes deel.

“Ek het toe met ʼn klomp mense daaroor gepraat, onder andere my uitgewer, en ons het besluit dat dit nodig is om in soveel diepte die dinge te deel sodat mense met verskeie deeltjies van my storie kan identifiseer voordat hulle die res van die boek deurwerk.”

Herontdek jou selfvertroue begin met Rolene se storie waarin sy openhartig vertel hoe sy selfs in die grootste oomblikke van haar loopbaan gesukkel het om in haar self te glo.

Hoewel dit vir Rolene soms moeilik was om die verlede te herleef, was dit eintlik ʼn ongelooflike proses om terug te kyk en te sien hoe sy daardeur gewerk het en weer uit haar foute en ondervindinge kon leer.

In die praktiese deel van haar boek deel Rolene wenke, werkkaarte en terugvoer van kliënte. Sy identifiseer sewe stappe in die transformasieproses en gebruik dit om lesers op die pad na herontdekking te lei. Dié gids bou voort op haar eie ervarings, maar ook op navorsing wat sy vir haar meestersgraad in filosofie en afrigting gedoen het.

In 2017 het Rolene ook haar duisende Instagram-volgelinge gevra wat die een ding is waarmee hulle sukkel en ʼn oorweldigende meerderheid het aangedui dat hulle ʼn gebrek aan selfvertroue het.

Sy het besef dat sy nie alleen hiermee worstel nie en daarom het sy besluit om dit die hooffokus van haar meestersgraad te maak. As professionele lewensafrigter, en ná ure se sessies met vroue wat sukkel met selfbeeld, beskik Rolene oor waardevolle praktiese kennis, wat sy hier deel.

Een van die aspekte wat Rolene hanteer is die invloed wat ʼn mens se doelwitte op jou selfvertroue kan hê. Sy moedig lesers aan deur te sê dat gewoontes nie aggressief benader hoef te word nie.

“Navorsing toon dat selfvertroue een van die bronne vir die bereiking van doelwitte is – maak nie saak hoe groot of hoe klein die doelwit is nie,” sê sy.

“Wanneer ons ons doelwitte bereik bou dit ons selfvertroue op en wanneer ons nie ons doelwitte bereik nie breek dit ons selfvertroue af.”

Rolene gebruik in ʼn onderhoud met Maroela Media die voorbeeld van iemand wat ʼn doelwit stel om op die eerste dag van ʼn nuwe week te begin met ʼn gesonde eetplan, genoeg water te drink, te oefen, tydsbestuur toe te doen én gehalte tyd saam met geliefdes deur te bring.

“Dit is só ʼn onrealistiese doelwit,” sê sy. “Jy gaan soos ʼn mislukking voel wanneer jy dit nie bereik nie. So dit gaan eintlik die teenoorgestelde effek op jou selfvertroue hê.

“Nou gaan mense dalk vir my vra of hulle nie groot doelwitte moet stel nie. Natuurlik moet jy groot doelwitte stel, maar wees realisties.”

Herontdek jou selfvertroue is ʼn onmisbare gids vir elke vrou wat soms aan haarself twyfel. Rolene se sewe beproefde stappe vir vroue op soek na die moed om hul drome vreesloos na te jaag, kan ook jou lewe verander.

  • Rolene Strauss het ʼn draai in Maroela Media se ateljee gemaak om oor Herontdek jou selfvertroue te gesels. Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

Ek stel voor sy verwyder maar al haar mooimaak-goed en trek gewone klere aan. O ja, los ook sosiale media uit, want dit kan sleg inwerk op mens se selfbeeld as jy nie genoeg volgelinge of “like buttons” kry nie.