Die grapjas-sanger en radio-omroeper Thys die Bosveldklong laat nie die siekte waarmee hy sowat vyf jaar gelede gediagnoseer is, in die pad van sy musiekdrome staan nie.
Thys se gesondheid ry wipplank sedert hy in 2019 deur ʼn neuroloog met veelvuldige sklerose (MS) gediagnoseer is.
Hy was vir ʼn ruk lank bedlêend weens die siekte en het in Februarie verlede jaar behandeling ontvang wat hom weer beweeglik gemaak het.
Al moet hy deesdae weer van ʼn rolstoel gebruikmaak om oor die weg te kom, is hy vuur en vlam om weer sy hartsplek – die verhoog – met vars snitte uit sy eie pen te betree.
Hy vertel in Maroela Media se ateljee met sy jongste uitreiking, “Blommetjie Blom”, dat hy ʼn konstante op-en-af-rit met sy gesondheid ervaar.
“Dit is nie ʼn gelykpad nie. Daar is nie ʼn knoppie wat vir jou gaan ‘dieng’ maak en jy is reg nie,” sê Thys.
“Dit is maar ʼn pad wat ek stap – somtyds kruip – maar ek probeer my bes. Ek is terug op die verhoog en verwelkom enige vertonings, al moet ek sit en sing.”
“Blommetjie Blom” is een van die eerste opnames wat hy einde verlede jaar in Christo du Plessis se Pro-Star-ateljee gemaak het.
“Dit was ʼn lekker ervaring, maar dit was ook vreemd, want elke ateljee is anders.”
Die opnames is in samewerking met Ian Bossert gedoen. “Blommetjie Blom” is saam met snitte soos “Maybe It’s Time” en “Loftus in die ou dae” opgeneem.
Hy hoop om met “Blommetjie Blom” weer sy aanhangers se voete te laat jeuk en honger te maak vir meer van sy musiek.
“Dit is ʼn liedjie wat ek geskryf het met my tannie in gedagte, want haar bynaam is Blom.”
Hoewel “Blommetjie Blom” ʼn opgewekte snit is, gee die liedjieskrywer toe dat hy deesdae ernstiger is en dat dit ook duidelik in sy skryfstyl is.
“My goed was altyd laf en humoristies, maar my nuwe aanslag is beslis meer ernstig.”
“Blommetjie Blom” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.
- Luister boaan die berig na die volledige onderhoud met Thys die Bosveldklong.
Sterkte Thys met die uitdagings. Onthou net daar is ‘n God wat groter as ons is en wie se weë ons nie altyd kan peil nie. Sterkte virdie toekoms. Jou positiewe gesindheid is ‘n voorbeeld vir ons.
Sterkte Thys – jy is ‘n man van deursettings vermoë – sterkte vir die toekoms