Luister: Vertel jou stories oor die Grensoorlog in klank

Anelia Heese. (Foto: Verskaf)

“Meisiekind, ek vertel nou vir jou ʼn storie, maar eintlik mag ek nie.”

Dit is hoe talle oudsoldate hulle onderhoude begin as hulle met Anelia Heese gesels oor hulle diens in die Grensoorlog. Vir haar vertel dit iets van die tydgees en die sluier wat oor die gebeure getrek is. Talle mense kan nou nog nie met gemak daaroor praat nie.

Heese is ʼn maatskaplike entrepreneur en sy het vroeër vanjaar met Maroela Media gesels oor haar storieprojek, “Diensplig.org”, waarin sy veterane en hulle geliefdes se stories oor die drie dekades van diens in die Suid-Afrikaanse Weermag in klankformaat wil vaslê.

“Ek het aanvanklik in die [klank]wêreld ingekom met Herklink waarin ek mense gehelp het om afskeid te neem omdat hulle nie self by ʼn begrafnis kon wees met die inperkings tydens die Covid-19-pandemie nie. Dit is hier waar ek van my eerste stories oor die Grensoorlog in van die huldeblyke gehoor het,” sê sy.

Heese sê as ʼn jong Suid-Afrikaner het sy nog altyd gevind mense praat nie maklik oor die Grensoorlog nie. “Almal omarm stories oor die Anglo-Boereoorlog, maar as ʼn mens jou pa begin uitvra oor die Grensoorlog sê hulle altyd hulle sal later daaroor praat.

“Ek dink nie ons jonger mense wat ná die apartheidsjare gebore is, sal ook werklik ons land of ons rol in Suid-Afrika kan verstaan as ons nie die verhale van daardie tyd hoor en begryp nie.”

(Foto: Will Francis/Unsplash)

Heese glo die stories kan ons help om mekaar beter te verstaan en verandering te weeg te bring. Sy meen haar platform dien as ʼn soort kombuistafel waar die stories gedeel kan word.

“Ek wil hê mense moet die geleentheid kry om alles te vertel en te verduidelik wat hulle regtig bedoel. Dit is nie iets wat ʼn mens met ons gewone sosialemediaplatforms kan doen nie.”

Heese voeg by dat storievertel die vermoë het om te versoen. “Net so belangrik soos wat dit is om jou verhaal te vertel, moet ons ook weer leer luister na mekaar se stories. Jeanne Goosen sê in haar biografie as jy jouself kan uitdruk, is jy ʼn storieverteller en as jy ʼn storieverteller is, dan kan jy die wêreld verander.”

  • Mense wat hul verhale oor die Grensoorlog wil deel kan ʼn stemboodskap na Diensplig.org stuur of ‘n boodskap op die platform los om ‘n onderhoud met Heese reël.
  • Besoek Heese se platforms Diensplig.org of Herklink.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.