Luister: ‘Woordeboekmaker’ sterf: ‘Hy kon van als ʼn storie maak’


Anton Prinsloo. Foto: Facebook via Protea Boek huis

Dr. Anton Prinsloo. Foto: Facebook via Protea Boek huis

Dr. Anton Prinsloo, geliefde taalmeester, outeur, omroeper en oudvoorsitter van die Taalkommissie, is Dinsdagaand in die ouderdom van 77 oorlede ná ʼn lang siekbed.

Fida, Prinsloo se vrou, het vertel woorde kan nie die leemte sedert sy dood beskryf nie. “Dit is ʼn ongelooflike groot gemis. Om 53 jaar getroud te wees, en dan is die een weg – dit is moeilik. Almal maak die las darem ligter deur vir ons te bid en daar te wees,” het sy gesê.

Prinsloo, wat in baie gevalle ʼn huishoudelike naam geword het, het ʼn uiters suksesvolle loopbaan in taal gevolg ná twee van sy verhale, toe hy maar 10 jaar oud was, in die destydse dagblad, Die Transvaler, geplaas is.

Hy was ʼn kenner van die oorsprong van Afrikaanse woorde en gesegdes, en het ʼn geruime tyd by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) gewerk voordat hy bekendheid as omroeper verwerf het.

Prinsloo is ook bekend vir die boeke, onder meer Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom en Bygelowe en waar hulle vandaan kom uit sy pen en sy rubriek in Volksblad, Taalkruie.

Fida het vertel dié taalmeester kon van byna alles ʼn storie maak. “Sy vermoë om spanningsituasies of konflik te verlig met humor was ongelooflik. Soms sou ons êrens heen ry en dan sou hy van al die ander persone in hul motors stories maak. Hy sou besluit of hulle kwaai woorde het en wat hulle sê.”

Verskeie taalkundiges onthou dié groot taalgees as ʼn man met ʼn besonderse humorsin en ʼn passie vir sy ambag.

Prof. Gerhard van Huyssteen, skepper van die Virtuele Instituut vir Afrikaans en professor in Afrikaans en Nederlands, het gesê Prinsloo sal altyd onthou word vir die buitengewone bydrae wat hy tot Afrikaans en mense se lewe gemaak het. “Hy was ʼn besonder innemende man met ʼn eiesoortige sin vir humor,” het hy vertel.

Van Huyssteen het bygevoeg die afsterwe van Prinsloo laat ʼn leemte in Afrikaans. “Hy het ʼn ongelooflike kennis gehad van streekstaal en die opteken van idiome. Sy afsterwe laat ʼn groot leemte agter vir ons taalkennis en in ons harte.”

Volgens prof. Hans du Plessis, skrywer van onder meer Griekwa-psalms, was Prinsloo ʼn opregte man wat uiters hard gewerk het. “Ek sal hom altyd onthou vir sy toegewydheid. Hy was altyd goed voorbereid en so goed in dit wat hy gedoen het. Hy was nie bloot ʼn taalmens nie, hy was ʼn woordeboekmaker,” het hy gesê.

Du Plessis het bygevoeg Prinsloo het mense geleer om gewone Afrikaans te gebruik. “Hy het ons leer wegbeweeg van die akademiese taal en skryfstyl omdat hy geluister het na hoe mense praat.”

Maroela Media se Toetentaal-blad bedank dr. Prinsloo vir die mildelike gebruik van sy navorsing oor die herkoms van spreekwoorde en idiome en die inligting vervat in sy boek, Bygelowe en waar hulle vandaan kom. Sonder sy hulp sou ons Taaltoffie nooit só suksesvol kon wees nie.

ʼn Gedenkdiens word 29 Februarie om 11:00 by die NG kerk in Linden (Vyfdestraat 44) gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gesiggie ·

Afrikaans, ons Taal… ons Moeder Taal…hoe kan dit van jou weggevat word… wat is daar dan mooier… suiwer afrikaans. Dankie vir Dr Anton Prinsloo wat aan ons n nagedagtenis kon los. Aan Mev Prinsloo en Familie… mag God jul dra in die hartseer tyd. Ek is mal oor die Griekwa Psalms- opreg uit die hart.met soveel mooi woorde gelaat

Eliza-beth ·

Nog ‘n GROTE gaan ‘n gaping laat in ons taalwêreld!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.