Luisteraars verras Comrades-atleet en sy Prudence met alles vir troue

Dié drawwer het 90 km gehardloop om ‘n vrou te vra om te trou. (Foto: Skermgreep)

Die atleet Joseph Kagiso Ndlovu en Prudence Dick se verlowing by die Comrades-marathon het die afgelope naweek die harte en verbeelding van Suid-Afrikaners oor die hele land aangegryp, in só ʼn mate dat hul hele troue sommer in ʼn paar minute beplan en byna heeltemal betaal is.

Maroela Media het vroeër berig dat Ndlovu die afgelope naweek naby die eindstreep van dié 90 km-wedloop – wat hy in agt uur voltooi het –  ʼn banier opgehou het met die woorde “Prudence, sal jy met my trou?” daarop.

Die Gautengse radiostasie Jacaranda FM het hom gevolglik Dinsdagoggend tydens die Breakfast with Martin Bester-oggendprogram gebel om vas te stel of sy romantiese daad darem met die jawoord beloon is.

Ndlovu het skertsend oor die lug vertel dat Prudence ja gesê het, maar dat die verlowingsring nog nie heeltemal gereed is nie. Dít het tot ʼn sneeubal van goedhartigheid onder sakeondernemings in die troubedryf gelei.

Die paartjie is verras met groot borge vir hul spesiale dag, wat alles van die ring, rok, pak, naels, hare, kos, platejoggie, troukar en selfs die huwelikskontrak én wittebrood insluit.

“Ons het aanvanklik net vir Jo gebel om te hoor wat Prudence se reaksie en antwoord was, maar ons weet ons luisteraars se harte is groot en almal hou boonop van ʼn mooi liefdesverhaal,” vertel Martin Bester, aanbieder van dié oggendprogram.

“Toe ons weer sien, het daar een ná die ander oproep ingekom van mense wat besluit het dat hierdie paartjie ʼn groot en wonderlike troue verdien. Ek dink dit het net weer as bewys gedien dat ons as radiostasie in goeie geselskap is en die soort luisteraars het wat gee sonder dat ʼn mens vra.”

Volgens Bester is dié goeie dade ʼn toonbeeld van die ware gees van Suid-Afrikaners.

“Dit lyk vir my asof ons land se mense die vrygewigste is wanneer tye die moeilikste is. Ek dink ook Jo is so ʼn opregte en goeie mens en verdien al die goeie goed wat na sy kant toe kom.”

Ndlovu het op sy beurt aan Maroela Media vertel dat hy glad nie dié reaksie van lede van die publiek en media verwag het nie.

“Dit het nog nie eintlik ingesink nie, ek dink dit gaan ʼn rukkie vat voor ons werklik besef wat daar alles vir ons gegee en gedoen is. Ons is so dankbaar vir die Here se genade en almal se vrygewigheid en ondersteuning.”

Ndlovu en Prudence is al vier maande lank ʼn paartjie en het mekaar deur die St. Joseph- Katolieke kerk in Eersterust, oos van Pretoria, ontmoet. Hy vertel dat hy tien jaar terug begin draf het, kort nadat sy vrou oorlede is. Hy het besluit om nou aan te beweeg en Prudence om haar hand te vra.

“Ek het besluit gaan groot of gaan huis toe,” vertel hy laggend oor sy besluit om Prudence op dié wyse die jawoord te vra.

“Sy het my deur elkeen van die 90 km gedra, ek het net heeltyd gefokus op haar en op die belangrike vraag wat ek haar wou vra.”

Volgens Ndlovu was Prudence uit die veld geslaan en oorweldig deur mense se reaksie op die verlowing.

Hy het ook sy kerk, bestuurder en hardloopgroep, asook sy vriend Jacky Sedibeng bedank vir die rol wat hulle in sy Comrades-reis én sy verhouding met Prudence gespeel het.

“Ons kan nie genoeg dankie sê aan al die medialede, Jacaranda-luisteraars, ons vriende en almal wat ons aanmoedig en vir ons bid nie. Suid-Afrika is ʼn wonderlike land met goeie mense wat vir ander omgee. Dít voel werklik soos ʼn droom en een waaruit ek nie wil wakker word nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Faraway ·

Pragtig dit gee my trane!!
Die man verdien geluk. . .
Self bid ek vir n man, wil nie weer 1 gaan soek op n dating site of enige ander social media nie

piet ·

Ek gaan eerlik wees. Ek is in die mark maar die vrou moet geld he of ‘n baie goeie werk he anders gaan dit nie vir my werk nie. Ek het al die goeie eienskappe maar is arm, ongelukkig. Miskien moet Maroela ‘n soek-hoekie begin dat ons kan sien wat is beskikbaar. ‘n Boervrou (soos in een wat ‘n plaas besit) sal nogal goed werk vir my.

Antie Sarie ·

Met die een voet in die graf en ander voet op n piesangskil?

Miskruier ·

Ek sit ook met trane. Om n lewensmaat by die kerk te ontmoet is normaalweg n geseënde huwelik.

Antie Sarie ·

By die kerk is menser op hul beste gedrag. By die pub is hulle hulself. Beide kan n ramp wees

anneke ·

Nee Miskruier, dis ‘n geweldige veralgemening wat verseker nie waar is nie!

KatjieDeKat ·

Hierdie is een heerlike storie, ek geniet dit so baie. Lekker om n slag sulke mooi en voel-goed nuus te sien. Alle voorspoed en geluk aan Joseph en Prudence vir hul toekoms!

Kobus ·

Ek gun hulle dit ,maar………..nou is hier ‘n standaard gestel.

Antie Sarie ·

By die volgende curriebeker gaan honderde publieke huweliks aansoeke wees,

Miena ·

En met sulke goeie nuus wat die minder-goeie en sleg in ons land kan oorskadu – kan ons beslis meer doen. Ons sal n beter lewe kan maak vir onsself en mekaar indien almal mekaar ondersteun en in ag neem. Maar dis nou net in my perfekte wereldtjie. Baie geluk aan julle en mag julle goedheid en guns ervaar in julle voorgenome huwelik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.