Die owerhede is steeds op ’n moordtoneel by ’n huis in Bishop Lavis in Kaapstad waar ’n 52-jarige luitenant-kolonel vanoggend (Donderdag) koelbloedig doodgeskiet is. Lt.kol. Andre Kay was verbonde aan die Wes-Kaapse polisie se eenheid wat die uitreiking van permitte vir vuurwapens, dranklisensies en tweedehandse winkels reguleer.
Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, sê Kay het omstreeks 06:50 net in sy motor voor die huis geklim toe ’n onbekende man in ’n ander voertuig verskeie skote op hom afgevuur het. Kay is op die toneel dood.
Angus McKenzie, raadslid van Bonteheuwel, het Kay se moord as “sinneloos” beskryf. “Kay was ʼn hardwerkende polisiebeampte wat altyd sy beste gegee het, ten spyte van verskeie uitdagings.” Hy het gevra dat geen steen onaangeroer gelaat word om Kay se moordenaars op te spoor en te straf nie.
Volgens Potelwa ontvang die oorledene se familie en kollegas tans traumaberading.
Die polisie doen ’n beroep op die publiek om enige inligting rakende die voorval by die teenbende-eenheid by 0800 664 264 aan te meld.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
So ruim georganiseerde misdaad enige struikelblok uit die pad.Wie is in beheer van die land? Sterkte toegewens aan naasbestaandes van die slagoffer.
Bitter hartseer. Doelloos vermoor. Innige Simpatie aan geliefdes. Rus Sag.
Sien kan ons regering nou sien trokstraf is nie meer afskrik nie net die doodstraf sal voldoende wees
Die motief vir die moord…… Hy het sy werk deeglik gedoen!!!!!!
Hopelik verset die moordenaar/s hulle teen arrestasie……