Lungisa moet bewerings terugtrek, eis regters

Andile Lungisa (Foto: Raahil Sain/ANA)

Mandisa Maya, die president van die hoogste hof van appèl, en verskeie ander appèlhofregters het gesê hy neem met kommer kennis van uitlatings deur Andile Lungisa dat sy saak nie regverdig aangehoor is nie, glo weens politieke en familiêre verbintenisse van die regters en onregverdige inmenging by die betrokke howe.

Maya het gesê die betrokke regters is Nambitha Dambuza, Caroline Nicholls, Sharise Weiner en Nolwazi Mabindla-Boqwana en die regterpresident van die Oos-Kaapse afdeling van die hooggeregshof, regterpresident Selby Mbenenge,

“Hierdie valse opmerkings, wat die integriteit van die regbank en regtelike onafhanklikheid ondermyn en neerkom op minagting van die hof en crimen injuria-oortredings, is gemaak toe mnr. Lungisa hom aan die owerhede by die Noordeinde-tronk in Port Elizabeth oorgegee het om met sy tweejaartronkstraf te begin ná hy skuldig bevind is op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer,” het Nathi Mncube, woordvoerder van die regbank, in ʼn verklaring gesê.

Lungisa, ANC-raadslid in die Nelson Mandelabaai-metro, is twee jaar gelede in die Port Elizabeth-landdroshof skuldig bevind op ʼn aanklag van aanranding nadat hy Rayno Kayser, DA-raadslid, met ʼn glasbeker oor die kop geslaan het. Die voorval het tydens ʼn chaotiese Nelson Mandelabaai-raadsvergadering in Oktober 2016 plaasgevind.

“Die bestuur van regtelike funksies van elke hof is die verantwoordelikheid van die hoof van daardie hof. Dit sluit die toeken van regtelike beamptes by sittings in en die toeken van sake aan regtelike beamptes. Sodra dié funksie deur die hoof van die hof uitgeoefen is, hoor die betrokke regter die saak aan en neem ʼn besluit gebaseer op die wet en die feite wat voor hom of haar geplaas is,” het Mncube verduidelik.

“Dit is die verantwoordelikheid van elke regter, deur ʼn ampseed of ampsbevestiging, om hom of haar in staat te stel om eerlik en onpartydig sake aan te hoor gebaseer op die wet en getuienis, sonder eksterne druk of invloed en sonder vrees of inmenging deur enigiemand. Die kern van die beginsel van geregtelike onafhanklikheid is die algehele vryheid van die regter om die sake aan te hoor en ʼn uitspraak te lewer.”

Mncube het gesê enige kritiek teen die regbank moet regverdig wees en te goeder trou gedoen word. “Die belangrikste van alles, is dat die kritiek spesifiek en duidelik moet wees. Pogings om die regbank te diskrediteer deur bewerings van korrupsie teen die regbank of individuele regters te maak, sonder bewyse, of om te insinueer daar is samewerking tussen individuele regters en politieke figure of rolspelers sonder enige getuienis, moet veroordeel word.”

Mncube het bygevoeg in gevalle waar regters vermoedelik oneties of onwettig opgetree het, moet entiteite of lede van die publiek gebruik maak van die strukture wat ingestel is om dié besware te takel en dit dan aan die geregtelike gedragskomitee of die geregtelike dienskommissie en betrokke wetstoepassingsagentskappe aan te meld. “Net so moet klagtes teen ʼn landdros by die landdroskommissie en wetstoepassers aangemeld word.”

Maya, die betrokke regters en regterpresident Mbenenge benadruk dat enige persoon, wat geloofwaardige getuienis het van korrupsie of onregmatige invloed binne die regbank, moet na vore kom, die bewyse indien en bereid wees om in die hof of voor enige kommissie van ondersoek daaroor te getuig. “Sonder bewyse, kan sulke bewerings nie ondersoek word nie.”

Die regte van pres. Maya, die betrokke appèlhofregters en regterpresident Mbenenge bly voorbehou en hulle eis dat Lungisa die aanstootlike aanmerkings terugtrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Persheks Adri ·

Ai, wat gaan sy volgende verskoning wees? Tata ma chance ne.

Sit man dis waar jy hoort!

Sarel ·

Die man het vreesliksuyr Druiwe. Maar dit is hoe hulle Operate

Jurie ·

En indien hy nie verskoning aanbied nie,wat gaan julle dan doen ? Politici,as mens die ANC en EFF dit kan noem,dink hulle is bo die reg.Kyk maar Zuma se optrede jeens die Zondo kommisie.

Hennie J ·

Nou wonder ek maar net; hoe moet die windbol sy bewerings terugtrek terwyl hy by Pappa kuier of het kaders meer voordele as ander in die tronk? Die antwoord is mynsinsiens eenvoudig: Klap hom nou met n lastersaak en verleng sodoende sy verblyf met nog n jaar of twee.

Kobus ·

Hy sal seker vryskelding van CR kry. Dalk binne die volgende twee weke. ANC is verhewe bo die reg. Hy kla blykbaar reeds oor sy bed,kos en stortgeriewe. Sal seker privaat suite kry.

Dirk Mostert ·

As hy sy daad ten aanskoue van ander uitgevoer het, is sy skuld mos onteenseglik. Hoe kan hy beweer die regters was partydig? Hy moet hiervoor addisioneel gestraf met bykomende tronkstraf, nie tegelyk uitgedien nie.

JohanR ·

As hy nou uiteindelik (wie weet) by die tronk se hekke aanmeld, word hy dan nog vir twee jaar sy volle salaris betaal, en as hy uitkom wag sy job nog vir hom? My gooiste ons lewe in la la land!

Dries ·

Hoekom laat hulle nie die persoon wat hy aangerand het, ‘n groot glasbeker met water ook op sy kop stukkend slaan nie. Dan is hulle quits. Mits ou Lungisa sal kan opstaan daarna.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.