LUR besoek hoërskool oor gewelddadige video

‘n Skermskoot uit die video.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Vrydagoggend die Norkem Park High School in Kempton Park besoek nadat ʼn video vandeesweek op sosiale media gepubliseer is waarin ʼn gewelddadige bakleiery tussen leerders van die skool gesien kan word.

Die Gautengse departement van onderwys het gesê die video doen al die afgelope twee dae die ronde op sosiale media. Volgens berigte het die voorval vroeër vandeesweek plaasgevind, maar dit is nog nie bevestig nie.

Op die video kan gesien word hoe ʼn groep leerders mekaar gryp en rondstamp, terwyl ander leerders in die agtergrond skree. In ʼn stadium word ʼn meisie grond toe gestamp en daar kan gesien word hoe haar kop oënskynlik die grond tref.

‘n Skermskoot uit die video.

“Daar word berig dat sommige familielede met wapens by die geveg aangesluit het, en ʼn leerder is glo met ʼn skêr gesteek,” het die departement in ʼn verklaring gesê. Dit is nie duidelik hoe oud die leerders in die video is nie.

ʼn Woordvoerder van die skool het aan Maroela Media bevestig dat die LUR tans by die skool is, maar het gesê die skool sal eers later, na afloop van Lesufi se besoek, kommentaar kan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Linette ·

Wat gaan aan in vandag se dae by skole? Is die leerders dan nie daar om te LEER nie? In mý dae (so 25 jaar gelede) was selfone, gevegte tussen meisies (ek was in ‘n meisieskool) en swangerskap op skool eenvoudig ongehoord. Haar-reëls was streng, so ook skool uniform reëls en jy het jou onderwysers geëer en gerespekteer. Huiswerk en take is gedoen en skool is bygewoon – as jy siek was moes jy ‘n mediese brief bring (selfs net vir een dag). En detensie-sit was die straf vir die oortreders. Ek moet darem ook sê dit was voor die tyd van model C skole en gemengde skole.

dolphin ·

die kids moet maar groot word en gedrag toon behou geen boelie in die skool nie.moet geskors word.

Ferdi van der Merwe ·

Dit is opvallend hoe die gebeure wat op sosiale media vasgevang word aandag geniet. Ongelukkig word soortgelyke gevalle van geweld wat by ons polisie stasies aangemeld word nie eers ondersoek nie….

Johan ·

Twee weke terug is n 17 jarige by daardie einste skool gearresteer nadat hy n onderwyser aangerand het. Die hof verhoor ook nie alle aanrandings wat op skoolgronde gebeur het nie.

Anoniem ·

En dit, agbare Mnr Lesufi, is die probleme wat jy behoort uit te sorteer op skool. Jy mors jou tyd met die haarstyle van rebelse tienermeisies. Daar is belangriker werk om te doen! Sover ek kan sien, is dit nie ‘n wit/swart bakleiery nie. Jy gaan dus verder as kleur moet dink met hierdie ene…

Chris ·

Ek stem saam. Reels oor hare en sulke goed is deel van die leerskool oor disiplinne, maar nie eers dit kan hulle nie handhaaf nie.

Johan ·

Ek ken daai skool baie goed. Dis een van baie gevalle. Niks nuut nie.

Renette ·

In ons tyd was daar nie selfone om videos te neem nie. So die bakleiery het gebeur soos by meeste skole omdat seuns maar seuns is.

Alida ·

Renette was daar vuurwapens en messe betrokke in jou tyd. Verseker nie in my tyd nie. Ons het die onderwysers gevrees en gerespekteer.

Johan ·

Ons het pakslae gekry. Vandag wil mammie en pappie niks van hulle liewe engeltjies iets verkeerd af weet nie.

jannie ·

dinge raak net erger en erger in ons land ek wonder hoe gaan vandag se kinders se kinders eendag wees

Florence Taljaard ·

Die probleem lê by die Onderwys departement. Hulle ignoreer klagtes oor dwelmmisbruik, swak gedrag, bendes en aanvalle op onderwysers. Hulle laat nie toe dat ‘n leerder geskors word nie want hulle weet nie wat om met sulke leerders te doen nie. Emmasdal, waarheen sulke leerders gestuur was is gesluit. Skole kry geen ondersteuning van die Departement nie. Onderwysers word blameer vir alle probleme. Kinders hoef geen werk te doen nie want hulle weet hulle sal in elk geval deurgesit word.

piet pompies ·

Dit is vandag ope dag, ouers welkom, familie ook, wapens ingesluit….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.