LUR gaan Curro-hoofde sien oor ‘rasskeiding’

'n Skermskoot uit die video.

‘n Skermskoot uit die video.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in Gauteng, het Donderdagmiddag besoek afgelê by die Curro Roodeplaat Privaatskool in Kameeldrift, noord van Pretoria nadat nuwe aantygings van rassesegregasie by die skool aan die lig gekom het.

Sy besoek volg nadat ʼn video vandeesweek op Facebook gelaai is wat wys hoe groepe kinders, skynbaar volgens ras geskei, uit twee skoolbusse klim en in rye weggelei word.

John Bissett, uitvoerende hoof van Curro, het verduidelik die Engels- en Afrikaanssprekende klasse is met verskillende busse vervoer. Hy het gesê Curro is ʼn dubbelmediumskool en dat dit leerders se keuse is om onderrig in Afrikaans of Engels te ontvang.

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Panyaza Lesufi. Foto: Flickr/GovernmentZA

Phumla Sekhonyane, Lesufi se woordvoerder, het gesê die video is laat Woensdagaand onder die LUR se aandag gebring, waarna hy dadelik streeksbeamptes aangewys het om die beweringe te ondersoek.

“Die LUR het Woensdag  met die skool vergader om die saak te bespreek. Daar is saamgestem dat die LUR met die uitvoerende hoofde van die Curro Holdings-groep gaan vergader om die saak verder te bespreek.”

Die vergadering gaan na verwagting Maandag plaasvind.

Sekhonyane het gesê dit is die tweede keer wat die departement die skool ondersoek weens beweringe van rassisme.

Die skool is vroeër vanjaar ook daarvan beskuldig dat leerders in klasse ingedeel word op grond van ras.

Byna 30 ouers by die skool het ʼn petisie onderteken en aangedring dat die skool in ooreenstemming met die land se Grondwet optree.

André Pollard, streeksbestuurder van Curro Holdings, het ontken dat die skool leerders skei op grond van ras en het gesê dit is gedoen weens “vriendskappe” omdat kinders makliker vriende maak met kinders van hul eie kultuur.

Die Gautengse departement van onderwys het ná ʼn ondersoek in Mei bevind daar was wel rassesegregasie by die skool.

“Die ondersoek het die bewerings van rassesegregasie bevestig. Dit is bevestig deur Curro se bestuur en die lede erken dit was die resultaat van druk deur sekere wit ouers,” het Lesufi destyds gesê.

Volgens Lesufi het die skool glo erken dat dit verkeerd was om segregasie toe te pas en wel vinnig opgetree om leerders van minderheidsrasgroepe by die drie Engelse graad R-klasse in te deel. Die departement het voorgestel dat die skool se bestuur en onderwysers jaarliks opleiding in diversiteit ontvang.

Intussen het AfriForum Jeug Donderdag Lesufi en ander politici en politieke partye daarvan beskuldig dat hulle onskuldige kinders misbruik om hul eie rasbehepte agenda te pas.

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, het gesê Lesufi is daarvoor bekend dat hy valse aanklagte van rassisme stook in ʼn poging om Afrikaans as onderrigtaal te ondermyn. “Om ʼn Afrikaanse klas wat in klasverband vervoer word, valslik as rasseskeiding te probeer voorhou, is verregaande,” het Maree gesê.

Maree het gesê die bohaai oor die Curro-voorval is bewys van die dubbele standaarde oor rassisme in die land. “Die rasbehepte politici swyg oor die staat se rasbeheptheid en rassisme teen wittes, terwyl ʼn onskuldige skooluitstappie in klasverband valslik tot ʼn nasionale rasse-voorval verhef word.”

Volgens Maree swyg Lesufi gerieflikheidsonthalwe oor die feit dat daar in die sogenaamde “swart bus” ook wit Engelssprekende leerders was.

Klik hier om die video te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hein ·

Meneer die LUR vir Onderwys; antwoord my asseblief die volgende vraag: indien hierdie twee busse vol kinders voor ‘n universitieit of werksplek uitgelaat is, wie sou volgens rasse kwotas (soos deur julle toegepas) eerste toegelaat word tot die universiteit of ‘n werk gekry het? Julle is totaal rasbehep! Hierdie is slegs nog ‘n aanval op die Afrikaanse kultuur; niks met velkleur uit te waai nie!

Tommie ·

Hein jy is reg, die anc is rasbehep. Dit gaan oor die wit velkleur. Die wit velkleur moet onderdruk word! “Alles wat die wit vel doen is om die swart vel te benadeel” – in die oe van die anc. Die kindertjies weet niks van rassisme en velkleur nie.

pop ·

Mnr Lesufi voel heel duidelik baie minderwaardig, hoe pos en al. Daai kindertjies wees nog niks van velkleur en rassisme nie, maar die LUR wil hulle jonk al bewus maak daarvan. Ek het n woord om hom en sy haat te beskryf maar maroela gaan dit nie plaas nie.

Niel ·

Plaas bemoei hy hom met die mislukte staatskole, daar word ‘n berg van ‘n molshoop gemaak

jaycee ·

Sekere nuusmedia EN Lesufi het met hierdie beweerde insident hulle ware kleure gewys wat betref hulle beheptheid met rassisme en daarmee saam hulle intense soeke na enige insident om (blanke) Afrikaanses voor te hou as die grootste sondaars van rassisme. Van die nuusmedia kon nie vinnig genoeg berigte die wereld instuur, sonder om eers ordentlik vas te stel wat die ware toedrag van sake was nie. Nou het een van die swart kinders se ouers na vore gekom met inligting wat dit duidelik maak dat die beriggewing eintlik net ten doel gehad het om sekere verskuilde agendas te dien. Die liederlikheid van die saak is dat jong kinders aan die einde van die dag ingesleep word by sogenaamde volwassenes se rassiekte.

Ouman ·

Dalk moet hy sy van verander na Lepoefie want orals waar hy betrokke raak los dit ‘n klankie

Malinda ·

Skenk liewerz aandag aan die aanvalle en moord en verkragtings op ons boere en hulle gesinne. Dis erg rasistiez om bkankes aan te val en blankes werk te weier. Hou op om julle op te dring op ander mense

CHRISTA ·

Ek sien ‘n groep kinders by ‘n bus STILSTAAN!! Niemand wys waarheen hulle geneem is nie en MET WIE hulle gemeng het nie!! Waarom word dit verberg? Nou kan almal net hulle EIE afleidings maak en daarvolgens oordeel. Hoekom het die persoon wat die video geneem het nie ook gewys WAARHEEN die kinders geneem was nie en HOE hulle die dag deurgebring het nie? Of is dit verberg net om ‘n helse sensasie te ontlok?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.